In die sewende episode van kykNET se maatsoekreeks, Op my eish! met die voormalige rugbyspeler Ruan Smith en sy tweeling-wingman, JP, was die trane-krane behoorlik oopgedraai, deels danksy die begripvolle oor van lewensafrigter Liezl Thom en deels omdat Maritha huis toe gestuur is. Gaan dinge ooit weer kalmeer op Kalima?
4×4-avontuur
Met die vorige dag se tranedal in die truspieëltjie was dit Minette, Saartjie en Bejanke se beurt om weer tyd met Ruan deur te bring. En Oppie Oewer-avonture was net die regte medisyne om seker te maak die meisies het ’n beter dag wat op hulle gewag het.
Saartjie was die eerste een wat langs Ruan ingeskuif het en kort voor lank het sy vrae begin vra. Ruan het haar vertel van sy komplekse grootwordjare en dat hy buiten sy tweelingboet en wingman, JP, ook twee jonger boeties en sussies het. En die groot kinkel? Saartjie het ’n tweelingbroer!

Volgende in die passasiersitplek was dit Minette wat aan Ruan se bestuursvernuf onderwerp moes word. Tussendeur het die twee oor slow-cookers en lamskouer gesels. Nee, Ruan kan dit nie kook nie, maar hy kan dit wel geniet. Maar gaan hy dit geniet as een van die meisies agter die stuur inskuif? Ongelukkig het hulle nie die kans gekry nie.
“Ruan is nou nie die kleinste outjie nie. So, as hy in daai Jimny sit, dan lyk dit of hy die Jimny aantrek,” het Bejanke gegiggel toe dit haar beurt was om saam met hom die klippe aan te durf.
Dit was toe nie net sy vaardigheid agter die stuur – glo ’n eerste 4×4-avontuur vir hom – wat haar baie beïndruk het nie, maar ook hoe hy oor sy twee dogtertjies gepraat het.
Piekniek na die klippe-kou
Net daar besluit Ruan die meisies moes rooi- en groenvlaggie-waarskuwings oor hul eie persoonlikheid op servette neerskryf. Daarna moes hy raai wie se vlaggies hy lees. Bejanke se rooivlaggie het almal verbaas. Ja, sy erken ongeduld is een van haar rooi eienskappe, veral wanneer sy in verkeer vassit.
Na afloop daarvan, was dit tyd vir Ruan om eenkant met Minette te gesels, soos in op ’n afspraak . . .

Praat van tydsberekening. Dit was maansverduistering – en dis juis toe wat Ruan wou vasstel of daar werklik ’n konneksie tussen hom en Minette is. Die senuwees het behoorlik gelol want dit sou hul eerste afspraak wees.
Tog het Ruan ’n baie sterk konneksie met Minette ervaar, ten spyte van die kort tydjie wat hulle mekaar ken. Maar wag, daar’s ’n lieflike kombers, roosblare, kerslig en ’n maan wat wag om te verduister vir die twee . . .
“Ek het in my hart gevoel dis die regte tyd – toe gaan ek in vir die soen,” het Ruan daarna erken. Vir Minette was die eerste soentjie ’n “versigtige een” maar kort voor lank het die maan op sy eie verduister en die twee het meer as net klein piksoentjies gedeel.

Minette kon nie ophou glimlag nie, en ook Ruan moes erken dat hy baie aangetrokke tot haar voel. “Daar’s ’n moerse spark,” en hy het gehoop dat sy dieselfde gevoel ervaar het. Vir een keer in my lewe het ek gewens tyd staan stil.”
Sy wingman, JP, was egter meer versigtig oor die pad vorentoe en het hom ernstig vermaan om nie nou al die ander meisies uit te sluit nie.
Té vroeg vir ontbyt?
Die volgende oggend was dit vroeg uit die vere met die versoek dat almal bietjie mooi moes aantrek; dit het die meisies half onrustig laat voel. JP het nie op hom laat wag om bietjie sake om te krap nie en het pertinent vir Minette voor almal gevra hoe die vorige aand se afspraak met Ruan afgeloop het.
Terwyl die ander meisies gevoel het Minette hoef niks te verklap het, was Jenine die een wat stilweg geraai het dat daar dalk ’n soen gedeel is. Min het sy geweet sy was in die kol!
JP wil weet of Charlene, Jenine, Cindy en Hermi hul vlerkies ingepak het vir die dag se avontuur wat op hulle wag.
“Wat’s met al die ouma-dates? Ek raak nou ’n bietjie concerned want ek weet ek is die oudste, maar goeie genade! Hierdie puppies is reg om af te spring van iets,” en daarmee het sy haar goed-ontwikkelde boarmspiere gespan. Sy wil gil, sy wil vasgehou word.
“Challenge me,” het sy gesmeek.
Nou wat nou? En dan volg die aankondiging dat Ruan eenkant-tyd met Chantelle wou hê. In die spa. Cindy was nie baie ingenome daarmee nie, want haar voete is seer, het sy gekla. En Ruan kon dit mos nou lekker vryf in die spa.
Op haar beurt was Chantelle spyt dat sy nie te lekker gevoel het nie en nie al die hare en dinge onder beheer kon kry nie. Maar sy het wel goed genoeg gevoel vir die afspraak met Ruan.

Ruan het nie onnodig tyd verkwis toe hy vir Chantelle in die spa raakgeloop het nie. Hy het sommer pront met die deur in die huis geval en gesê dat hy haar huis toe gaan stuur. Sy het na die tyd erken sy was aanvanklik baie in haar dop gekruip en dat dit vir haar baie moeilik was om meer van haarself te wys. Maar sy’s oukei, dankie.
Hermi het erken sy was werklik onkant betrap deur Chantelle se vertrek terwyl Minette besef het dis nou crunch time.
Rustige ‘paartie’ op ’n boot – is dit moontlik?
Kort voor sonsondergang het Ruan en die vier gekose meisies aan boord van ’n plesierboot geklim. Hy het genoem dat dit die vier meisies is met wie hy ’n konneksie voel en dat die vaart die toets gaan wees om uit te vind of hy daarop kan voortbou.
En toe het hy besluit om brutaal eerlik met die meisies te wees. “Charlene, ek dink jy is in ’n plek waar jy nie weet wat jy wil hê nie,” en hy het voortgegaan deur vir haar te sê sy soek na liefde, maar nie seker wat sy soek nie.
“Jen, ek dink jou persoonlikheid is . . . jy’s ’n empath, né. En ek dink dit kan gevaarlik wees vir my,” was sy wysheid vir Jenine.
“Cindy, ek dink ons sal onmenslik goed oor die weg kom, maar ek is bang daar kan dalk nie ’n physical connection wees nie… nog nie dit explore nie in ’n context van ’n groter picture.”

Hokaai, stop die lorrie! Was dit dan nie die meisie vir wie hy eerste gesoen het (in die vierde episode) en gelyk het asof dit dalk nie tot ’n einde gaan kom nie? Het hy dit dalk net voor die meisies gesê sodat hulle nie weet hulle twee het mekaar al beter leer ken nie? Dit was wat deur Cindy se kop gegaan het.
“En Hermi, ek dink daar’s potential vir harde koppe stamp in ’n konteks van jy het ’n sterk persoonlikheid en ek het ’n sterk persoonlikheid. Sal ons mutual ground kan vind oor sekere goed?” wou hy by haar weet.
Hermi het geglo dat Ruan met iemand oor die weg sal kom met wie daar koppe gestamp kan word. Daai uitdaging? Hy het dit nodig. En terwyl die seekoeie, krokodille en paddatjies hulle ding in die rivier doen, word die musiek harder gestel en die poppies het begin dans. Letterlik. Lekker.
JP met die houtlepel
Bejanke, Minette en Saartjie het al te oulik in hul eenderse blou pakkies sit en kuier toe JP opgedaag het. Maar dit het geklink of die man hulle met ’n doel genader het. Kort voor lank het hy probeer uitvis wie dan nou die katterige een in die groep is.
Terwyl die drietal ewe diplomaties sy vrae probeer omseil het, het hy sommer uit die heup geskiet: “Ek gaan nou vir julle sê wie die kliek is. Dis Jenine, Charlene… ek voel Hermi is baie op haar eie.”
Bejanke het toegegee dat daar oë gerol en dinge gedoen word wanneer die kameras nie teenwoordig is nie. Maar geen name was genoem nie.
En toe gebeur dít… Terwyl dinge oënskynlik rustig verloop het op die boot, het die geselskap ’n persoonlike wending geneem. Liggaamsdele. En soos Cindy erken – sy’s wel platborstig maar iewers anders het sy ’n great bate. “En ons praat nie van wildlife nie,” het sy haar woordkeuse huis toe gedryf.
“So, al wat ek kan sê is my heupe is nog 18 al is ek 35,” het sy die res van haar lyf besing.
Tyd vir alleenwees
Ruan het besluit dis tyd om alleentyd met Hermi te spandeer. Cindy kan slange (regte wildlife) vang – want hy vra heeltyd ander op ’n afspraak, maar sy maak reeds plannetjies.
“Ek mik vir daai sleepover want kyk, dan gaan ek daai man vasvat,” het sy gedreig. “Ek hoop die muskiete vreet hulle knieë af,” was haar wens toe Ruan en Hermi van die boot afgeklim het vir hul afspraak en die res van hulle na Kilima moes terugkeer.

Net soos Saartjie en Ruan self, is ook Hermi een van ’n tweeling. En terwyl hulle heerlik saamgelag het oor goed wat net tweelinge sal verstaan, het Hermi sommer hier uit die suide gekom met ’n skielike vraag: “Ruan, wil jy my nog hier hê?”
Sonder om ’n oomblik te aarsel, het Ruan haar verseker dat dit beslis die geval was. Maar hoe gaan hy vasstel of hulle net vriende kan wees, of dalk iets meer? Daai kombers was nie om dowe neute op die gras geplaas nie…
Maar toe het Hermi haar oë vir Ruan gerol en hy was nie gelukkig daaroor nie. Vir hom was dit ’n gebrek aan respek. En hy het haar daaroor gekonfronteer – en sy kon vir hom verduidelik hoe dit vir haar werk.
Teen alle verwagtinge in, het Hermi ferm aangedui dat sy meer tyd nodig het voordat sy sommer net vir Ruan sal soen. Maar toe hulle tuis kom en die kameras wegdraai, het haar weerstand verkrummel.
Nou nie op die kombers nie, maar onder die skitterende sterrehemel . . .

Op my eish! saai Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uit. Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees. Kyk ook S2 en S3 van Op my Eish! op Showmax.







