In episode sewe van vandeesweek se episode van kykNET se maatsoekreeks Op my eish!, was kykers geskok toe die oudrugbyspeler Ruan Smith vir Maritha huis toe gestuur het.
Ruan het Maritha eenkant toe gevra vir alleentyd, maar wat aanvanklik ’n rustige bespreking oor die groepsdinamika was, het skielik ’n ernstige wending geneem toe Ruan haar meegedeel het dat hy haar huis toe gaan stuur. Hy het verduidelik dat hy sterker konneksies met ander vroue ervaar en dat hy homself belowe het om nie met iets voort te gaan as dit nie reg voel nie… Al is dit vir hom moeilik.
Vir Maritha was dié oomblik onverwags en diep emosioneel.
“Toe Ruan my huis toe stuur, was ek redelik geskok en natuurlik teleurgesteld, maar ek het ook onmiddellike vrede ervaar omdat die hele show vir my ’n gebedsaak was. In daardie oomblik maal daar baie vrae deur jou kop, veral omdat jy na jou konneksie met Ruan kyk uit jou eie perspektief – en dan gebeur die teenoorgestelde.”

Sy sê sy het in die dae voor haar afskeid intens gebid oor haar deelname aan die program. “Snaaks genoeg, so twee dae voor ek huis toe gestuur is, het ek baie gebid oor die show en of dit die regte plek vir my is om te wees. Ek glo daarin dat die Here jou pad beplan en presies weet wat Hy doen.”
Uitdagings
Terugskouend erken Maritha dat sy haar misgis het. “Ek het gedink die konneksie tussen my en Ruan was sterk. Ons was baie gemaklik met mekaar en kon regtig oor enigiets gesels en baie saam lag. Ek dink wel dat ons emosionele konneksie nie so sterk was soos die fisieke konneksie nie, wat van die begin af vir Ruan belangrik was.”
Sy erken ook dat die beperkte tyd en die groepsdinamika ’n uitdaging was. “Die tyd was ook so kort om iemand behoorlik te leer ken. Ek het tog ’n deel van myself teruggehou gedurende die reeks. Ek sukkel om onmiddellik my hele hart op die tafel uit te lê.”

Perspektief en vrede
Wanneer sy vandag na die reeks kyk, doen sy dit met meer perspektief. “Gedurende die show leef jy half in hierdie bubble-tjie, en baie dinge voel onwerklik en onrealisties. Alhoewel ek in daardie oomblik teleurgesteld was, kyk ek nou daarna en ervaar baie vrede.”
Ten spyte van die hartseer, beskryf sy haar Op my eish!-ervaring as ’n waardevolle lewensles. “Wat vir my die meeste uitstaan van my reis met Op my eish! is die feit dat ek kon sien being vulnerable is actually beautiful.”
Nuwe liefde
Maritha het ook vertel dat sy intussen weer liefde gevind het. “Ek het iemand ontmoet waaroor ek absoluut mal is. Dit het op die regte tyd gebeur en heeltemal spontaan.
“Dit maak my hart warm om te weet die Here het presies geweet wat Hy doen, en ek is baie opgewonde vir wat die toekoms inhou. Ek word op die hande gedra, my hart is veilig, ek lag meer as ooit, en miskien bloos ek nog meer as tevore ook.
“Ek wens vir Ruan presies dieselfde geluk, liefde en butterflies toe. Almal verdien om só te voel.”
Op my eish! saai Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uit. Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees. Kyk ook S2 en S3 van Op my Eish! op Showmax.