“Daar’s ’n moerse spark en vir een keer in my lewe het ek gewens tyd staan stil.” Dit was die voormalige rugbyspeler Ruan Smith se versugting in die agtste episode van kykNET se maatsoekreeks, Op my eish! toe hy en Minette eindelik tot soen gekom het. Maar ai, dit was nie sy enigste soen in die episode nie. Ook Hermi het toegegee kort nadat die kameraspanne begin oppak het . . .
Wat het die volgende dag op die sewe oorblywende dames op Kilima gewag?
Toe hulle by Hermi probeer uitvis hoe haar afspraak met Ruan verloop het, het sy dit bloot as “baie interessant, dankie” beskryf. Wat by die bakkie gebeur het, bly by die bakkie – altans, so het dit geklink. Maar daar was ’n paar diep fronse wat verklap het dat hierdie antwoord nie juis oortuigend was nie.
Braaityd, speeltyd
Saartjie kon dit vanweë werksverpligtinge nie die verrigtinge van die dag bywoon nie. Gaan haar twee dae weg van Kilima haar dalk duur te staan kom? Cindy was dadelik skepties oor hierdie stap – want red Saartjie dalk haarself deur nie teenwoordig te wees wanneer nog iemand haar tasse moet pak nie?
Die spannetjie het eers by die reuse-kremetartboom aangemeld en is deur Dawie ingelig oor die geskiedenis van die Groot Kremetart wat 3 800 jaar oud is. Maar van fokus daarop en die mooi omgewing het daar min gekom. Al ‘kremetart’ wat hul aandag getrek het, was Tjoppie, oftewel Ruan, wat reg gestaan het om vir hulle naby die einste kremetart te braai. “Die pressure is aan vandag,” het Ruan hulle meegedeel met sy braaigereedskap knus onder die elmboog vasgeknyp. En almal is dit eens – ’n man moet kan braai.

“Ek braai maar net nog elke keer self, want ek het nog nie die regte man ontmoet nie,” het Minette verklap. En Ruan moet sy storie ken om by haar braaivernuf kers vas te hou.
Terwyl die vuur nog lustig geknetter het, is die meisies ’n drankie in die hand gestop vir speeltyd om te begin. Die eerste opdrag was om ’n tafeltennisballetjie oor ’n lyn op die tafel te blaas met behulp van ’n blaaspypie van Ruan se braaigereedskap.
Bejanke, Heidi en Minette het gou bewys hulle kan blaas . . . “Wat de hel gaan aan? Ek verloor letterlik in alles,” het Charlene haarself kasty. Sy, Cindy en Jenine kon nie die mas, oftewel die blaas, opkom nie en hulle straf was om ’n Jägermeister-knertsie die stryd aan te sê.

‘Broek’-loos
Maar die volgende speletjie het die meisies geheel en al onkant betrap. Ruan, met sy Tjoppie-pet, het vir “ouboet” JP aangesê om ’n sluk water vat, maar dit nie te sluk nie. As dit maar al was.
Toe moes JP sy broek losmaak en teen die tafel buk, stêrre in Ruan se rigting. En Ruan het ’n leerspaan met ’n houtgreep in sy hand gehad. Toe tref hy vir JP met ’n allemintige hou daarmee op die boude – met die verwagting dat die water in sy mond in alle rigtings sal span. Maar JP het vasgebyt. En Ruan was verras. Wie’s volgende, wou hy weet. “Ek kyk sommer hierdie, en ek kan sien dis is ’n k*k idee,” het Cindy blitsvinnig besluit.
As jy pak wil uitdeel, moet jy dit kan vat ook. Toe Ruan aankondig dat dit sy beurt is, wou Charlene bekommerd weet of dit nodig is om broek af te trek. Dis elkeen se keuse, maar hy “hou van dit heel persoonlik”.

Maar Ruan het dit slim gespeel. Dit was nie JP wat die leerspaan in die hande gekry het nie. Ruan het die meisies die geleentheid gegee. Hermi was eerste daar. Haar hou het hom effe suid getref. Toe word daar ’n beter plan beraam. Die broers moet elk tegelyk met ’n mondvol water die meisies se aanslae hanteer.
Laat dit vir die twee ’n les wees, want Cindy het nie gespeel nie. Sy het Ruan so hard bygekom dat hy byna dubbel gevou het en ook die water uitgespoeg het. Toe was dit Charlene en Hermi se beurt om te buk. Jenine was gereed vir Hermi en Bejanke het vir Charlene getakel. Hermi was verstom oor die krag waarmee Jenine haar gewiks het.
“Ek. Kan. Nie. Die. Water. In. My. Mond. Inhou. Nie,” het dit afgemete van Cindy gekom. “Dis net snot en water en nat gesigte.”
Terwyl die res bierpong saam met JP gespeel het, het Ruan die braaiwerk getakel. Tog het die meisies tussen die bons van die tafeltennisballetjies ook gevoel hoe hul harte tekere gegaan oor die man wat die vleis so noukeurig op die vuur hanteer. “Ruan is so hot agter die vuur. Of dalk is dit maar die kole,” het Charlene opgemerk.

En sy kon kwalik haar vreugde inhou oor daai tjoppies wat voorgesit is. “My tjoppie-lip glossy was aan. Ek was tjoepstil by die tafel,” het sy gesê terwyl sy beduie het hoe sy daai tjoppies aangedurf het.
Vertroue op die spel
Die volgende dag het ’n nuwe avontuur gebring. Daar was agt persoonlike items van Ruan op die terrein weggesteek. Minette, Charlene en Bejanke was die drie wat hierdie uitdaging geblinddoek moes takel. En hul luistervermoëns was tot die uiterste beproef.
Net Ruan kon hulle vertel in watter rigting hulle moet soek en watter items dit was wat hulle moes vind. Die prys? ’n Heerlike ete deur Col’Cacchio. En dis nie al nie.
Die meisies het lank reeds hul tande geslyp vir hierdie een: Oornag alleen saam met Ruan op ’n glamping-uitstappie! Charlene het eerste hand opgesteek vir die uitdaging. Sy het nie te sleg gevaar nie. “Jy moet maar voel, jy kan niks sien nie. So, rêrig, ek kan al klaar nie lekker ver sien nie, hulle moes maar die blinddoek gelos het.”
Bejanke was volgende aan die beurt. Sy het net so voel-voel deur die hindernisse gegaan, maar kon nie help om te wens sy kon Ruan se rug vir hom inseep toe een van die items wat sy moes vind, seep was nie.
Hoe het Minette gevaar? “Sy’s ready to go,” het Ruan opgemerk. En sy was. Sy’t sommer op ’n drafstap die onderskeie “kampies” waar Ruan se gunsteling-goeters was, benader. Maar was haar drafstap genoeg vir die eerste plek?

Twee minute, 28 sekondes was Charlene se tyd. Sy was bitter teleurgesteld en voel amper asof sy reeds haar tasse wil pak, want hoe haal enige mens daardie spesiale kommunikasietyd in wat op die wenner wag? Die wenner het haar tyd met 50 sekondes verbeter. Sy was inderdaad ready to go want dis Minette wat saam met Ruan gaan glamp.
“Goeie dood, ouers, I didn’t get the memo,” het Charlene later vir die res van die meisies vertel. Sy het nie besef dat dit ’n tydgebonde kompetisie was nie, sy wou maar net haar tande in haar mond behou deur nie te val nie.
Glamping in die bos
Minette en Ruan was weer terug by die lieflike kremetart waar hulle hul eerste afspraak gehad het. So tussen die koeitjies en kalfies deur het Ruan erken dis vir hom baie gemaklik met haar. “Dit is iets wat ek soek in iemand wat in my lewe is. Dis natuurlik. Niks is geforseerd nie. Dis vir my baie lekker.”
JP en die meisies
Dit was nie om dowe neute dat JP by die res van die meisies gaan inloer het nie. Hy het duidelik daarvan gehou om so ’n bietjie te roer onder die gemoedere. Sommer met die intrapslag wou hy weet wat hulle gedink het van Minette en haar aand saam met Ruan.
Die onmiddellike stilte kon met ’n stomp mes gesny word. Selfs Cindy voel sy is nou op geleende tyd. Charlene het weer gevoel dat Ruan eintlik die een was wat moes kies met wie hy die aand sou wou spandeer en dat die resultaat nie kompetisie-gebaseerd moes wees nie.
Hermi het met haar saamgestem en gesê sy was baie ontsteld toe sy gehoor het drie meisies was gekies vir die blinddoek-uitdaging. Hoe het hy die drie gekies, wou sy weet.
JP het wal gegooi en gesê Ruan het ’n konneksie met al drie meisies gehad wat deelgeneem het en dat hy oukei was met wie ook al gewen het.
Die groot besluit
Terwyl Minette en Ruan aandete op die dek geniet het, het hy vir haar genoem dat hy reeds sy besluit geneem het. “Ek weet presies wat gaan gebeur,” en het bygevoeg dat hy teen hierdie tyd reeds moet weet watter kant toe die wind waai.
Hy het vir haar vertel dat hy waarskynlik tot drie konneksies met van die meisies het en dat hy met die ander meisies oor die weg kom. Ook dat hy glad nie oor sy gevoelens twyfel nie. Vir Minette was daar blydskap omdat Ruan vir haar genoem het dat hy baie seker oor haar is. “Daar gaan challenges wees. Ons almal weet dit. As ek so mooi is soos ek, sal jy dit maar verwerk, né?” het hy tot groot vermaak van Minette gesê. Ja, het hy weldra erken, hy voel baie erg oor haar.

“Maar net omdat jy die mooiste man in Alberton is, beteken dit nie ek het nie my eie goed nie,” het sy hom uitgedaag en bygevoeg dat sy nou wel nie die mooiste meisie in Limpopo is nie, maar beslis die coolste . . .
‘Regtig dalk verlief…’
Nadat sy vir Ruan na ’n ketting geneem het waar hulle elkeen ’n slotjie ingehaak en die sleutels die bosse ingeslinger het, het Minette erken dat sy dit nie langer kan ontken dat sy “regtig dalk verlief is op hierdie man” nie.
By hul glamping-bestemming het daar twee masseerbeddens op hulle gewag. En die twee het glo ’n uiltjie geknip tydens die behandeling. Na afloop van dit was daar ’n mixoloog wat hulle met sy vaardigheid in sowel die hantering van die onderskeie drankies asook die kombinasies beïndruk het.

Die sagte geel liggies met ’n uitnodigende kombers op die grond kon ook nie geïgnoreer word nie. “Jy bly net uit my kamer uit, né,” het Ruan haar gewaarsku terwyl hy haar op haar voorkoms gekomplimenteer het. Maar sy het hom gou reggehelp en gesê dat ordentlike meisies weet wat om te doen.
Kort voor lank was daar S’mores oor die gesellige vuur in die boma. En die gesprek het na kinders gedraai. “Ek soek nie nog kinders nie,” het Ruan ferm gesê. “Maar as jy my kind sou kry, sou dit die mooiste kind in die wêreld wees.” Seepglad, Ruan, seepglad.
En soos ’n hoflike heer het Ruan haar tot by die trappe na haar kamer vergesel voordat die twee mekaar ’n goeie nag toegewens het en na sy eie kamer teruggedraai het.

Op my eish! saai Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uit. Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees. Kyk ook S2 en S3 van Op my Eish! op Showmax.