(Hooffoto: Willem Botha)
Dis nou al ’n rukkie wat die aktrise en TV-aanbieder Nadia Beukes nie op ons skerms boer nie. Sy het vir ’n wyle TV-stelle vir teaterverhoë verruil, met ’n onlangse speelvak in die ikoniese rol van Baroness Schraeder in die Suid-Afrikaanse vertelling van die immergewilde produksie, The Sound of Music.
Vir Nadia, veral bekend vir haar TV-rolle in onder meer Getroud met Rugby en Villa Rosa, asook flieks soos Sterlopers, Mooirivier en Stroomop, was The Sound of Music ’n herontdekking van haar liefde vir teater. (Sy het ook al rolle in plaaslike produksies van The Rocky Horror Picture Show en Snow White vertolk.) En hoewel sy beplan om beslis na die teater terug te keer, is sy vir eers weer via televisieskerms in ons lewens as Michelle in Diepe Waters.
Met haar kenmerkende lang blonde hare en groot glimlag, is Nadia beslis ’n bekende en geliefde gesig in die bedryf. Maar gaan sy só geliefd wees as Michelle haar skurkstreke begin uithaal?
Wie’s dié vrou dan?
Michelle, vertel Nadia, gaan haarself tussen die verskeie swemklubs in Diepe Waters posisioneer met die aanloop tot die Olimpiese spele waarvoor almal so hard oefen. Maar, as ’n skurk te voorskyn kom, kan jy maar weet dat dit tot die voordeel van sommige en die nadeel van ander is… Ander mense soos Zelda (Sandi Schultz) en Gys (Justin Strydom), wat dalk ’n bietjie van hul eie medisyne gaan kry.
“Ongelukkig kan ek nie te veel sê nie. Kykers gaan moet inskakel om Michelle in aksie te sien. Wat ek wel kan sê, is dat sy nooit haar eie hande vuilmaak nie. Dinge gaan verseker ’n bietjie interessant raak met hierdie karakter,” vertel Nadia.
“Ek vertolk nie gewoonlik die skurk nie, maar ek moet erken ek het baie pret met hierdie karakter en geniet dit vreeslik om Michelle te vertolk. My hoop is dat people will love to hate her.”
Ou – én nuwe – TV-vriende
Nadia sê dit is altyd effens intimiderend om as nuweling op ’n stel te begin waar die wêreld en karakters al gevestig is. Tog het sy amper onmiddellik tuis gevoel op die Diepe Waters stel. Dalk veral omdat daar soveel bekende gesigte is… Soos haar Getroud met Rugby-karakter se eksman, Altus Theart is, wat die rol van Rossouw in Diepe Waters vertolk.
“Ek het baie van hulle so lank terug gesien, dat dit regtig lekker was om weer met hulle te connect. En dan is daar natuurlik mense soos Reandi Grey (wat die rol van Anja vertolk), met wie ek in die werklike lewe goeie vriendinne is. Die lekkerte van ou gesigte sien, het enige senuwees kalmeer,” vertel Nadia.
“Ek het dit ook baie geniet om teenoor die jonger akteurs soos Dané de Waal (wat Charity vertolk) te speel. Hulle ken hul karakters so goed en hul talent is ongelooflik. ’n Mens kan altyd iets nuut oor jou craft leer en die jonger akteurs laat my altyd weer connect met my eie passie vir acting. Hulle het nog daardie spark en hongerte in hulle. Dit laat my altyd terugdink aan hoe ek gevoel het toe ek in die bedryf begin het.”
Nadia se ‘TV-kind’
Nadia spandeer nie regtig baie tyd saam met Johnny Potsanyane (wat die rol van Tshepo vertolk) voor die kamera nie, maar dit was een van die lekkerste verrassings toe sy hom die eerste keer op die stel raakloop.
“Dit is vir my so spesiaal om te sien hoe Johnny as akteur en mens gegroei het. Ek weet nie of mense dit sal onthou nie, maar my karakter Iva het ’n seuntjie in Getroud met Rugby aangeneem. Dit was Johnny! Hy is natuurlik baie langer nou en ’n volwasse jong man, maar vir twee jaar was hy my ‘kind’. Dit was regtig spesiaal om hom weer op ’n stel te kan sien. Dit laat ’n mens sommer trots voel, ” vertel Nadia.
Loopbaanhoogtepunt
Nadia het die afgelope paar jaar minder gewerk om na haar kinders om te sien en tyd met hulle te spandeer terwyl hulle klein is.
“Noudat my kinders ouer is en ons ’n roetine en hulp het, geniet ek dit vreeslik om weer op die verhoog en voor die kamera te kan wees. My man is ook ’n groot steunpilaar vir my. Ek is dankbaar aan almal om my wat my motiveer en aanmoedig om my passies uit te leef,” vertel Nadia.
Ek vertolk nie gewoonlik die skurk nie, maar ek moet erken ek het baie pret met hierdie karakter en geniet dit vreeslik om Michelle te vertolk. My hoop is dat people will love to hate her.
Nadia Beukes
“Om die Baroness te vertolk, was een van my grootste loopbaanhoogtepunte. Dit sou nie moontlik gewees het sonder my man wat by die huis oorgeneem het en vir my gesê het, ‘Go for it’, nie. Ek is mal oor musiekteater en het in daardie milieu grootgeword, veral omdat my pa ’n operasanger is. Ek het nooit daarvan gedroom dat ek ooit só ’n nostalgiese rol op die verhoog sou kan aanpak nie. Maar daar was ’n hele span wat agter my gestaan het met sanglesse en motivering. Ek is net so dankbaar vir al die geleenthede wat ek ontvang.”
‘Net mamma’
Hoewel dit vir Nadia lekker is dat haar kinders ouer raak en hulle meer van haar werk kan geniet, is sy steeds net mamma vir hulle en raak hulle nie so opgewonde soos sy nie.
“Ons neem hulle al lankal teater toe. Maar met The Sound of Music het ons vir hulle kaartjies na die aand vertoning bespreek en halfpad deur het hulle aan die slaap geraak. Dit was die duurste nap wat hulle nog ooit gehad het,” grap Nadia.
“Maar hulle het dit baie geniet en wou graag na die middagvertoning toe gaan sodat hulle nie weer aan die slaap raak nie. Dit is baie oulik om hul reaksies te sien, maar ag, ek is net mamma. Ek doen baie stemwerk en as iets van my byvoorbeeld op die radio speel en ek daarna wil luister, wil hulle natuurlik weet, ‘Hoekom moet ons luister?’ en, ‘Kan ek nie weer hulle liedjies aansit nie?’ ”
Nadia is dankbaar vir hierdie hoofstuk van haar lewe, maar beklemtoon dat haar familie altyd haar eerste prioriteit sal wees.
“Daar is niks meer kosbaar en belangrik as familie nie.”
Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.