Menu terloops
In Recaps & Resensies [13 Mar 2025]

‘Lekker en goed’ met Carmen Niehaus: Sangeres Andriëtte Norman kook saam


Andriëtte Norman, wat groot naam in die musiekwêreld gemaak het, is in hierdie aflewering van kykNET se ‘Lekker en goed’ met Carmen Niehaus die gas wat al te lekker saam in en om die kombuis kuier.  

Deur Annelene Oberholzer

Stroom 'Lekker en goed'

‘Lekker en goed’ met Carmen Niehaus: Sangeres Andriëtte Norman kook saam

Lekker en goed se Carmen Niehaus het omtrent ’n jaar gelede laas ’n kombuis met vandeesweek se gas, Andriëtte Norman, gedeel. 

Die twee se vorige saamkokery het gegaan oor Andriëtte wat fokus op ingewande-gesondheid, iets waarmee sy self reeds van skooltyd af gesukkel het. Tydens die pandemie het sy selfs ’n kursus oor die onderwerp aangebied.

Carmen maak in dié Lekker en goed-episode vir Andriëtte groentesap met Carmién Tea se Gut-rooibos en gin, oftewel jenewer. Daar is ook geperste wortelsap en beetsap asook komkommer en met nog ’n paar ander bykomstighede bygeroer.

Lekker en goed met Carmen Niehaus
“Ek sal sê mens moet eet soos die grotman. Hoe nader jy aan die aarde kan kom met kos, hoe beter,” sê Andriëtte.

Kos vir jou gut

“Ek sal sê mens moet eet soos die grotman. Hoe nader jy aan die aarde kan kom met kos, hoe beter,” sê Andriëtte. Pakkies, blikkies en goeters uit die fabriek is nie op die goeie grotman-lysie nie.

Carmen verduidelik verder dat daar baie bakterieë in die menslike liggaam skuil. Verkeerde kos kan daartoe lei dat van die goeie bakterieë kan doodgaan. Dan kan die liggaam basies glad nie funksioneer nie. Een van die groot duiwels is suiker, sê Carmen. Maar vandag moet daai knertsie gin tog maar bygevoeg word om die drankie ’n hupstoot te gee. 

Andriëtte is heel reg daarvoor en bring sommer die klitser saam terwyl sy terg: “Jy wil my nou vroeg in hierdie program geklits maak!”

Op die spyskaart

Vir Andriëtte se saamkuier maak Carmen vandag dahl met geposjeerde eier. ’n Hawermout- en saadbrood sal saam met dit voorgesit word. Carmen sê daar word ’n bietjie geëksperimenteer in die kombuis met ’n vleislose weergawe. Sy beskryf hierdie dis as ’n heeldag-ontbyt wat sommer gou deur hulle getakel gaan word omdat die hongerpyne reeds knaag.

“Ek begin mos enige dis met ’n ui. ’n Lekker groot ui braai ons mos tot hy baie bruin en geurig is,” vertel Carmen terwyl sy vir Andriëtte nooi om langs haar te kom staan en help kos maak.

Andriëtte is baie beïndruk met wat Carmen reeds gereed het om die dahl mee te maak. “Hierdie is letterlik alles van die aarde af,” sê sy.

Gesondheidsprobleme en oplossings

Andriëtte noem dat sy in 2017 ’n operasie op haar stembande moes ondergaan nadat daar poliepe gevind is. En dit was nie al nie. Sy het ook psoriase op haar kopvel gehad. Toe het sy begin navorsing doen en gevind dat alles kan eintlik gesond gemaak word as jy seker maak jou ingewande is gesond. Dis hoe sy die res van haar lewe sal voortgaan. 

Lekker en goed met Carmen Niehaus
Nadat sy inflammasie in haar knieë begin kry het, het sy besef sy moet beter kyk na wat sy eet, vertel Carmen vir Andriëtte. Foto: Verskaf

Andriëtte wil ook by Carmen hoor waar haar reis met gesonder eet begin het. Ouderdom kom teen ’n prys en dingetjies begin opduik. In ’n stadium het sy vreeslike inflammasie in haar knieë begin kry, vertel Carmen. “Toe het ek net besef jy moet baie meer kyk na dit wat jy eet, en hou ten minste net jou spiere sterk.” 

Deesdae is dit crossfit en beter let op wat sy eet, wat haar fikser en gesonder hou.

Tata, soetigheid

Omdat Carmen bewus is van Andriëtte se beperkte inname van suiker as deel van haar gesonder ingewande-leefstyl, is daar nie vandag die kenmerkende soetigheid op die tafel nie, maar ’n broodjie. ’n Baie lekker broodjie! Carmen hoop haar hawermout- en saadbroodjie gaan nie te veel ingewande-ontsteltenis ontlok nie. 

Gelukkig is hulle albei gek oor brood en Andriëtte het selfs verlede jaar geleer om artisan-brood te maak, iets wat heelwat vaardigheid vereis.

Hoe gebeur ’n liedjie?

Carmen is baie nuuskierig om uit te vind hoe Andriëtte die liedjieskryfproses benader. Kom dit organies? Of is dit iets wat beplan word? 

Lekker en goed met Carmen Niehaus
“Ek hou van ’n diep liedjie, ek hou van ’n diep boodskap in ’n liedjie, maar dit gaan vir my maar oor stories,” vertel Andriëtte oor haar benadering tot liedjies skryf.

“Ek hou van ’n diep liedjie, ek hou van ’n diep boodskap in ’n liedjie, maar dit gaan vir my maar oor stories. Mense wat in jou gehoor sit, wil graag ’n storie hoor, hulle wil vir jou kan sê, ‘hoor hier, hierdie liedjie het ons gedra deur iemand se dood’, of, ‘hierdie liedjie het vir my deur ’n slegte tyd gebring’ of, ‘hierdie liedjie is my happy liedjie’. Dis maar waaroor dit gaan. Jy wil ’n boodskap oordra,” vertel Andriëtte.

Die tafel

Smaaklike ete! Foto: Verskaf
Andriëtte en Carmen het die wind trotseer om die buitelug te geniet. Foto: Verskaf

Die wind waai alles deurmekaar, maar dit ontspoor nie die twee se buitelugplanne nie. Hulle trotseer die vars briesie en kies koers na die tafel tussen die bekoorlike blomme en die smaraggroen strandmeer. Die perfekte pasmaat vir hierdie heeldag-ontbyt is Piekenierskloof se Grenache Noir 2023. Carmen sê hulle beskou hierdie wyn as ’n kosvriendelike drankie omdat dit so lig is en baie minder sulfate bevat as rooiwyn in die algemeen.

Wat nog?

Daar word heerlik geklets rondom die pragtig-gedekte tafel met blomme en takke uit die omgewing. Die twee bespreek hul planne vorentoe en wat vandag se kuier vir hulle beteken het.

Lekker & Goed se resepte word op Vrydae op terloops gepubliseer. 


Lekker & Goed saai Donderdae op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) om 17:30 uit. Episodes is ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Maart 2025

Japie slaan sy kloue in Sunette in, maar dan kry sy nuus oor haar gesondheid wat haar hele wêreld omdolwe. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Maart 2025

Wat om te kyk: Die meesleurende Jaco Bouwer-drama, 'Niggies', Pretoria se Afrikaanse spin op 'The Mommy Club', Showmax se Afrikaanse tennisdrama, 'Breekpunt', en Seth Rogen se nuwe komediereeks – dié stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Oscars 2025: Wie het gewen én waar jy wenners kan kyk

Zoë Saldaña met ’n verstommende vertolking in die veelbesproke ‘Emilia Pérez’, Adrien Brody met sy indringende spel in ‘The Brutalist’, en Kieran Culkin in ’n loopbaanbeste rol waarvoor hy amper-amper nee gesê het – hier is vanjaar se Oscarwenners én waar jy dié bekroonde rolprente kan stroom. 

Meer

Jou telenovela-gids vir Maart 2025: Die einde breek aan in ‘My naam is Farah’

Tahir probeer steeds om vir Farah te beskerm soos dié verhaal ten einde loop. Hier is ons handige kykgids vir meer oor wat in die laaste sarsie episodes van ‘My naam is Farah’ op kykers wag.

Meer
Sien alle opsies