Menu terloops
In Wat om te kyk [7 Mar 2025]

Lekker & goed: Episode 10 se resepte


Van bobotie-brood met sambals tot lipafleklekker wortelkoek – hier is Carmen Niehaus se resepte vir al die geregte wat sy in die tiende episode van haar kykNET-reeks, ‘Lekker en Goed’, voorberei het.

Stroom 'Lekker & Goed'

Lekker & goed: Episode 10 se resepte

Kopiereg op Lekker en goed-resepte: Carmen Niehaus

Daleen “Baba” Snyers is die huisbestuurder op die plaas Brakfontein, Citrusdal waar sy al vir lank baie toue bymekaar moet hou, van aankope doen tot kosvoorbereiding en vele meer. Sy is ook ’n entrepreneur en agent vir CarmienTea asook ’n gemeenskapsleier wat veral uitreik na die kinders en programme waarby hulle kan inskakel, aanbied. 

Baba se ystee

Lekker en goed met Carmen Niehaus ep 10

Baba is die queen van ystee maak en het ’n fyn smaakprofiel wat sy goed inspan wanneer sy die verskillende geure tee bymekaar gooi om verfrissende ystee te maak. Die basis is natuurlike organiese rooibostee. 

Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 15 min

500 ml (2 k) sterk Carmien Organic Pure Rooibos, gemaak met 8 sakkies
180-250 ml (¾-1 k) natuurlike bessiesap of Carmien Very Berry-rooibostee, sterk aangemaak 
4 sakkies Carmien Boost of Focus-rooibostee 

Afronding

Bloubessies, aarbeie, suurlemoenskyfies
Ysblokkies

  1. Druk alle vloeistof uit die sakkies en giet die afgekoelde tee in ’n groot beker.
  2. Voeg die bessiesap of andersins Very Berry-rooibostee by
  3. Voeg die Boost of Focus-teesakkies net so by die mengsel en laat staan tot net voor opdiening.
  4. Giet die ystee in glase en voeg ’n paar bloubessies of skyfies aarbeie en suurlemoen net voor opdiening by.
  5. Voeg laastens ysblokkies by en geniet.

Bobotie-brood met sambals

Dié bobotie het ’n lekker kinkel in die sin dat dit buiten hoenderlewers ook lensies en groente (Wildeklawer se uie en wortels is top-gehalte) inkry om dit lekker geurig, maar ook meer heilsaam te maak. Die maalvleismengsel is lekker souserig met ’n goeie skoot Carmien Revive – ’n groen rooibostee met gemmer en brandrissie in. Soos reeds genoem is die groen roooibos ideaal om te gebruik in soutige of vleisgeregte en hierdie een spesifiek bring al die geure mooi saam. ’n Klein bietjie maalvleis gee sommer nou ’n klomp mense kos. Dis ’n alles-in-een-gereg met die rys wat onderin die pan geskep word. Die rys kook ek graag in Carmien Focus, wat gelaai is met speserye.

Ek het Piekenierskloof se Pinotage gekies om saam met hierdie bobotie te geniet. Beide is eg Suid-Afrikaans en die donker rooivrugtegeure komplementeer die soet en sout elemente van die bobotie baie goed.

Lekker en goed met Carmen Niehaus ep 10

Maak 2 bobotie-brode
Voorbereiding: 30 min
Gaarmaak: 30-40 min

Vleismengsel

2 uie, fyn gekap
45 ml (3 e) olie
2-3 knoffelhuisies, fyngedruk
60 ml (¼ k) geroosterde masala of matige kerriepoeier
30 ml (2 e) fyn gemmer
20 ml (4 t) fyn kaneel
20 ml (4 t) fyn koljander
7,5 ml (11/2 t) borrie
250 g hoenderlewers
250 g maalvleis
Sout na smaak
3 wortels, skoongeskraap en gerasper
1 groot patat, skoongeskrop en gerasper
1 appel, gerasper
250 ml (1 k) Carmien Revive met gemmer en brandrissie
1 sakkie (50 g) tamatiepasta
500 ml (2 k) bruinlensies gekook in 1 liter (4 k) groenteaftreksel of 2 blikkies (400 gelk)
60 ml (¼ k) fyn appelkooskonfyt of vrugtige blatjang
Sap en skil van 1 suurlemoen 
750 ml (3 k) gaar rys, gekook in Carmien Focus (4 sakkies)

Eiervla 

4 eiers
375 ml (1½ k) melk
45 ml (3 e) meel
Sout en peper
1 piesang, in lengte gehalveer 
4-6 lourierblare

Sambals 

Gekapte tamaties en uie
Gekapte komkommer en jogurt sambal met fyn komyn 

  1. Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit twee medium broodpanne goed met kossproei en voer uit met bakpapier. Spuit weer goed.
  2. Verhit die olie in ’n pan en braai die ui daarin tot sag. Voeg die knoffel by en braai tot geurig. Roer die speserye by.
  3. Voeg die hoenderlewers en maalvleis by, geur met sout na smaak en braai tot gaar, en effe bruin. 
  4. Voeg die wortels, patat en appel by, meng deur en voeg die teeaftreksel by. Verlaag die hitte en laat prut tot die groente sag is. Voeg die lensies by en laat prut tot geurig en die groente bykans weggekook het. 
  5. Roer die appelkooskonfyt en suurlemoensap by en geur met nog sout indien nodig.
  6. Druk die rys onderin die pannetjie vas. Verdeel die vleismengsel tussen die broodpanne en druk vas. 
  7. Klits die eiers, melk en meel saam tot glad, geur met sout en peper. Giet oor die mengsel in die panne, laat dit goed intrek in die rys-en-lensiemengsel. 
  8. Rangskik die piesang en lourierblare bo-op en bak sowat 30-40 minute of tot die eiervla gestol is. Laat bietjie afkoel in die panne en keer dan versigtig uit. Sny in skywe. Sit voor met sambals.

Vierboneslaai met rooibos-slaaisous

Lekker en goed met Carmen Niehaus ep 10

Dié slaaisous word gemaak met rooibostee waarby ook bietjie boegoe gevoeg is. Dis ’n verfrissende slaaisous met ’n heerlike fynbossmaak wat ideaal is om oor hierdie bekende boneslaai te giet.

Genoeg vir 6 mense  
Bereiding: 10 min
Gaarmaak: 5 min

Slaaisous 

80 ml (⅓ k) canola-olie
250 ml (1 k) Carmien Buchu, gemaak met 3 sakkies 
Sap en fyngerasperde skil van ’n halwe suurlemoen
30-45 ml (2-3 e) appelasyn 
1,25 ml (¼ t) seesoutvlokkies
30-45 ml (2-3 e) suiker 

Slaai 

3 x 400 g-blikke vierbonemengsel, gedreineer en afgespoel 
3 wortels, in julienne-repies gesny of kwart kool, in dun repies gesny 
1 rooi of soet ui, in dun repies gesny  
1 groen soetrissie, in blokkies gesny
Gekapte pietersielie vir bo-oor sprinkel

  1. Meng al die slaaisous-bestanddele saam. 
  2. Plaas die bone in ’n bak, giet die slaaisous oor en laat sowat ’n halfuur staan sodat die sous lekker in die bone kan intrek. 
  3. Voeg die groente by en meng deur. 
  4. Skep in ’n slaaibak en sprinkel die gekapte pietersielie oor. 

Wortel-plaatkoek

Die soetigheid vir hierdie wortelkoek kom veral van die dadels wat ook baie lekker vesel in het. Sodoende kan die suiker baie minder. Die groente, maar veral die patats maak die koek lekker klam. Ek stuif net bietjie versiersuiker oor, maar jy kan ook bietjie versiersuiker met maaskaas meng en dit oorsmeer.

Plaatkoek

250 g dadels, fyngekap
5 ml (1 t)  koeksoda
180 ml (¾ k) warm Carmien Pure rooibos Focus, gemaak met 4 sakkies
180 ml (¾ k) bruinsuiker
3 eiers
160 ml (⅔ k) canola-olie
500 g wortels en patats, gerasper
100 g sonneblomsade, gerooster (helfte kan gekapte neute wees)
375 ml (1½ k) witbroodmeel (125 ml (½ k) daarvan kan fyn klapper of selfs hawermout wees)
10 ml (2 t) fyn kaneel
10 ml (2 t) bakpoeier
5 ml (1 t) sout

Versiersel

versiersuiker

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Spuit ’n oondpan met kossproei.
  2. Plaas die dadels in ’n bak, sprinkel die koeksoda oor en giet die tee oor. Voeg die suiker by en laat afkoel. Druk effe fyner met ’n vurk.
  3. Klits die eier en olie saam en voeg by. Meng goed.
  4. Voeg die wortels en sonneblomsaad by en meng goed.
  5. Sif die meel, kaneel, bakpoeier en sout by en meng goed.
  6. Skep in die voorbereide pan en bak 25-30 min of tot ’n toetspen skoon uit die koek kom.
  7. Laat afkoel in die pan. 
  8. Stuif versiersuiker oor en sny in skywe.

Vir verdere inligting oor voedingswaardes, gesonder eet en resepte, raadpleeg Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid deur Carmen Niehaus, uitgegee deur LAPA.


Lekker & Goed saai Donderdae op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) om 17:30 uit. Episodes is ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Maart 2025

Japie slaan sy kloue in Sunette in, maar dan kry sy nuus oor haar gesondheid wat haar hele wêreld omdolwe. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Maart 2025

Wat om te kyk: Die meesleurende Jaco Bouwer-drama, 'Niggies', Pretoria se Afrikaanse spin op 'The Mommy Club', Showmax se Afrikaanse tennisdrama, 'Breekpunt', en Seth Rogen se nuwe komediereeks – dié stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Oscars 2025: Wie het gewen én waar jy wenners kan kyk

Zoë Saldaña met ’n verstommende vertolking in die veelbesproke ‘Emilia Pérez’, Adrien Brody met sy indringende spel in ‘The Brutalist’, en Kieran Culkin in ’n loopbaanbeste rol waarvoor hy amper-amper nee gesê het – hier is vanjaar se Oscarwenners én waar jy dié bekroonde rolprente kan stroom. 

Meer

Jou telenovela-gids vir Maart 2025: Die einde breek aan in ‘My naam is Farah’

Tahir probeer steeds om vir Farah te beskerm soos dié verhaal ten einde loop. Hier is ons handige kykgids vir meer oor wat in die laaste sarsie episodes van ‘My naam is Farah’ op kykers wag.

Meer
Sien alle opsies