Menu terloops
In Wat om te kyk [28 Feb 2025]

‘Lekker en Goed’: Episode 9 se resepte 


Van snoek met pekanneute tot mosbolletjies met bokkombotter – hier is Carmen Niehaus se resepte vir al die geregte wat sy in die negende episode van haar kykNET-reeks, ‘Lekker en Goed’, voorberei het.

Stroom 'Lekker & Goed'

‘Lekker en Goed’: Episode 9 se resepte 

Kopiereg op Lekker en goed-resepte: Carmen Niehaus

Fynbos mojito met peperment 

’n Lieflike verfrissende drankie.

Lekker en goed

Genoeg vir 2 mense

Bereiding: 10 min

6-8 pepermentblaartjies

300 ml Piekenierskloof Sauvignon Blanc

2 sopies brandewyn of rum

2-3 Carmien Apple Mint Coldbrew-rooibosteesakkies

Sprankelwater of lemonade om mee op te vul

Ys en suurlemoenskyfies indien verkies

  1. Gooi die pepermentblare in ’n glasbeker en druk fyn. Voeg die witwyn en brandewyn of rum by.
  2. Voeg die teesakkies by en laat staan minstens so 2—5 minute lank sodat die geure lekker kan intrek. Druk al die vloeistof uit die teesakkie en verwyder.
  3. Giet in 2 glase en vul verder op met sprankelwater of lemonade.
  4. Voeg ys en suurlemoenskyfies by indien verkies. 

Snoek met pekanneutkors

Lekker en goed

Snoek is Weskuskos. Ek sit dit effe anders voor deur gekapte koljander by die knoffel-suurlemoenbotter in te roer en sprinkel dan vir ’n lekker crunch pekanneute oor. Soetigheid soos druiwekonfyt word gereeld daarmee saam opgedien, maar ek verkies ’n vinnige perskeblatjang wat ek altyd met vars perskes van die plaas af maak. Daarby saam gebakte aartappels met ’n rooi uie piekel.

Genoeg vir 4–6 mense

Voorbereiding: 10 min

Gaarmaak: 20 min

1 medium snoek, gevlek (kan effe gerook wees indien verkies)

Sout en peper

5 ml (1 t ) mosterdpoeier of visspeserye

80-125 ml (80ml tot ½ k) botter, gesmelt

4 knoffelhuisies, gekneus

Sap en skil van 2 suurlemoene

125 ml (½ k) gekapte koljander of pietersielie

160 ml (⅔ k) gekapte pekanneute

VOORSIT

Vinnige perske-blatjang (sien resep)

  1. Geur die snoek aan die vleiskant met sout en peper, mosterd of speserye.
  2. Meng die botter, knoffel en suurlemoensap en -skil.
  3. Plaas die vis met die velkant na onder op die gesmeerde bakplaat.
  4. Smeer die vis goed met van die bottermengsel en oondbraai 10 minute.
  5. Smeer die res van die bottermengsel oor, sprinkel helfte van die neute en kruie oor en bak ’n verdere 10 minute of tot die vis net gaar is en maklik vlok met ’n vurk. 
  6. Sprinkel die res van die kruie en neute oor en sit voor met die perske-blatjang.
  7. Sprinkel sout oor ’n bakplaat, plaas die heel patats bo-op en bak tot sag. Sit voor met die perske-blatjang.

Vinnige perske-blatjang

Soteer 1 gekapte ui en 2 gekapte knoffelhuisies in olie tot sag, sprinkel  7 ml (1½ t) suiker oor en braai tot gekarameliseer. Roer 15 ml (1 e) druiwe-asyn en 4 gesnyde nektariens of perskes by en verhit tot die perskes effe sag, maar nie stukkend gekook is nie. Laat afkoel en sit voor saam met die snoek.

Aartappels met rooi uie-piekel 

Lekker en goed

Wildeklawer se aartappels word wêreldwyd geprys vir hul uitsonderlike gehalte en is gelaai met voedingswaarde. Hul aartappels is geskik vir kook, oondbraai, vir slaptjips en aartappelskyfies. Hul rooi uie met sy soeter geur, is ideaal om rou in slaaie te gebruik of soos in hierdie piekel.

Genoeg vir 4 mense

Bereiding: 10 min

Gaarmaaktyd: 40 min

PIEKEL

2-3 Wildeklawer rooi uie, in dun skyfies gesny

125 ml (½ k appelasyn)

125 ml (½ k flou Carmien Revive rooibostee (groen rooibos met brandrissie en gemmer), gemaak met 1 sakkie 

60 ml (¼ k) bruinsuiker

10 ml (2 t) sout 

10 ml (2 t) koljander- of mosterdsaadjies

AARTAPPELS

1 kg klein aartappeltjies, skoongeskrop

Sout

olyfolie

  1. Voorverhit die oond tot 190°C. 
  2. Laat staan die uie in bietjie water vir ’n tydjie, dit maak dit minder skerp. Dreineer en plaas in ’n bak.
  3. Meng die asyn, tee, suiker en sout met koljander- of mosterdsaadjies en bring tot kookpunt.
  4. Giet oor die uie en laat staan tot afgekoel. 
  5. Plaas die aartappels in ’n enkellaag in ’n oondvaste bak. Sprinkel sout oor en giet bietjie olyfolie, nie te veel, oor. Oondbraak tot sag en bros buiteom.
  6. Skep in ’n opdienskottel en skep die uiepiekels bo-oor.

“Mosbolletjies” met bokkombotter  

Ek geniet ook graag die Weskus se ander spesialiteit, bokkoms, wat ek fyn opkap en by botter inmeng. Die sout botter is heerlik saam met vars anysbeskuit. Dié maak ek gesonder deur minder suiker en botter in te meng en ek gebruik ook graag rooibostee wat bietjie vinkel en anys in het, om die beskuit mee aan te maak vir ekstra geur.

Maak 2 groot panne

Bereiding: 45 min

Rystyd: 30-40 min

Baktyd: 30-40 min

DEEG

1,5 kg steengemaalde witbroodmeel of koekmeel

10 ml (2 t) sout

20 ml (4 t) anyssaad

2 pakkies (20 g) kitsgis

200 ml suiker

200 g botter

750 ml (3 k) louwarm Carmien Nursing-rooibostee (gemaak met 4 sakkies)

250 ml (1 k) louwarm melk

SUIKERWATER

30 ml (2 e) suiker

30 ml (2 e) louwarm water

BOKKOMBOTTER

60 g bokkoms, fyngekap

125 g botter

125 ml (½ k) Cheddarkaas, fyn gerasper

Handvol pietersielieblare, fyn gekap

  1. Voorverhit die oond tot 190°C.
  2. Smeer 2 groot broodpanne of 3-4 middelslagpanne.
  3. Sif die meel en sout saam. Voeg die anyssaad en gis by.
  4. Meng die suiker en helfte van die botter, louwarm tee en melk.
  5. Voeg die melkmengsel by die meelmengsel. Meng deur en knie sowat 10-15 minute lank of tot glad en elasties.
  6. Knie die res van die botter in. 
  7. Bedek en laat rys tot dubbel die grootte op ’n warm plek. 
  8. Knie af en verdeel die deeg in bolletjies. Pak styf teenmekaar in die panne. Bedek en laat weer rys tot dubbel die volume.
  9. Plaas in die oond en bak 10 minute. Verlaag die hitte na 160°C en bak nog 30-40 minute of tot ’n toetspen skoon uit die middel van die brood kom. 
  10. Meng die suiker en water en verf oor die warm kors.
  11. Laat 5 minute staan en keer uit.
  12. Meng al die bestanddele saam en sit voor saam met die mosbolletjies.

Vir verdere inligting oor voedingswaardes, gesonder eet en resepte, raadpleeg Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid deur Carmen Niehaus, uitgegee deur LAPA.


Lekker & Goed saai Donderdae op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) om 17:30 uit. Episodes is ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Maart 2025

Japie slaan sy kloue in Sunette in, maar dan kry sy nuus oor haar gesondheid wat haar hele wêreld omdolwe. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Maart 2025

Wat om te kyk: Die meesleurende Jaco Bouwer-drama, 'Niggies', Pretoria se Afrikaanse spin op 'The Mommy Club', Showmax se Afrikaanse tennisdrama, 'Breekpunt', en Seth Rogen se nuwe komediereeks – dié stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Oscars 2025: Wie het gewen én waar jy wenners kan kyk

Zoë Saldaña met ’n verstommende vertolking in die veelbesproke ‘Emilia Pérez’, Adrien Brody met sy indringende spel in ‘The Brutalist’, en Kieran Culkin in ’n loopbaanbeste rol waarvoor hy amper-amper nee gesê het – hier is vanjaar se Oscarwenners én waar jy dié bekroonde rolprente kan stroom. 

Meer

Jou telenovela-gids vir Maart 2025: Die einde breek aan in ‘My naam is Farah’

Tahir probeer steeds om vir Farah te beskerm soos dié verhaal ten einde loop. Hier is ons handige kykgids vir meer oor wat in die laaste sarsie episodes van ‘My naam is Farah’ op kykers wag.

Meer
Sien alle opsies