Menu terloops
In Recaps & Resensies [6 Mar 2025]

‘Lekker en goed’: Baba, blommetjies en bobotiebrood‘


‘Lekker en goed’ se aanbieder, Carmen Niehaus, en vandeesweek se gas kom al ’n lank pad saam. Daleen Snyers, ’n ware rots in haar gemeenskap en beter bekend as Baba, het saam kom kook en kuier. 

Deur Annelene Oberholzer

Stroom 'Lekker en goed'

‘Lekker en goed’: Baba, blommetjies en bobotiebrood‘

Volgens Lekker en goed se Carmen Niehaus is Daleen Snyers, óftewel Baba,  die “queen van rooibos en die queen van ystees” wat goed meng en pas “wat ek nog nie eers vir een keer gedink het gaan bymekaar werk nie.”

Dis nou Carmen se tiende episode van Lekker en goed met Carmen Niehaus en vir die eerste keer voel sy ’n bietjie benoud oor die drankie wat sy vir Baba gaan maak. Baba is weliswaar ook ’n queen van kombinasies – waaronder boegoe en Carmién Tea se Focus-tee. 

En toe Carmen bessiesap by die organiese rooibos wil gooi, keer Baba gou. Sy sal eerder die oorspronklike rooibostee met Carmién Tea se Boost-tee vervang. Ook om dubbel die hoeveelheid teesakkies in te sit. Ja, erken Carmen, ’n regte vriendin is die een wat jou op die regte pad sal lei. Soos Baba.

Die twee ken mekaar al baie lank. En kort voor lank is dit tyd om hul onthou te deel . . . soos die ooievaarstee vir baie mense. Toe die Japanse ete. Die twee het besluit om vir hul gaste ware boerekos voor te sit. Watwou klein porsies eet waarvoor Japanners bekend is – elkeen van hul gaste het twee groot borde kos verorber!

Lekker en goed met Carmen Niehaus ep 10
Baba hou daarvan om Baba genoem te word. “Niemand ken ’n Daleen nie,” lag sy. Foto: Skermgreep

Hoekom Baba?

Met haar bekoorlike Weskus-bry vertel Baba dat sy haar naam gekry het van die mense by wie haar ma gewerk het. Haar naam is eintlik Beverley, maar hulle het gevoel dit was té lank ’n naam vir die kleine mensie. Vandaar Baba.

Haar ander naam is Daleen, maar Baba hou daarvan om Baba genoem te word. “Niemand ken ’n Daleen nie,” lag sy. “Nou, as belangrike mense my gebel het op die landlyn, dan sê hulle later hie’s mense wat ’n Daleen gesoek het, maar ons ken nie so iemand op die plaas nie.”

Op die spyskaart

Carmen maak vir Baba bobotiebrood met sambals. Daarmee saam gaan sy ’n vierboneslaai met ’n boegoe-slaaisous voorsit.  Natuurlik is daar nagereg – dis ’n wortel-plaatkoek wat jou mond gaan laat water.

En, soos van ouds, werskaf die twee ou vriendinne moeiteloos langs mekaar voor die stoof. Die een sit dit in, die ander een sit dat in.  Vandag verras Carmen inderdaad vir Baba met ’n kinkel rondom die bobotie self. Sy rek haar maalvleisporsie met hoenderlewertjies! Lensies kom ook by om dit nog verder te rek.

Lekker en goed met Carmen Niehaus ep 10
Dié twee ken van saamwerk in die kombuis. Foto: Skermgreep

Hoe het Baba in die kombuis beland?

“Ek was baie jonk gewees, ’n jong meisie op die plaas. Toe het die ouer vroue later vir my gesê, ‘Kom, help was hier in die aand met die skottelgoed’. Toe ek nog dink hulle is daar,  toe’t hulle my net daar gelos,” vertel sy.

Benewens Baba se vol bord as ’n huisbestuurder, doen sy ook meer as die afgelope 24 jaar goeie werk onder die jeug. Die Young Stars sing, hou konserte, gaan tree op by plekke en word ook na geleenthede uitgenooi. “Sy bemagtig eintlik hierdie kinders op vele maniere om die lewe aan te pak,” sê Carmen. 

“My droom was, voor ek sterf, julle moet nou luister eendag . . . ek wou so graag gehad het hulle moet oorsee kan gaan sing. Ons kyk baie vir Simon [Cowell], dan sê hulle, ‘Nee, tannie Baba, daai sal nie nou meer kom nie’. Maar dit was my droom – omdat hulle so mooi sing,” vertel Baba.

Plaas-resepteboek

Carmién Tea, in samewerking met die Mouton Foundation en internasionale tee-maatskappy, Teekanne, het in 2020 ’n gesonder leef-program, Taste the Good Life: Kook gesond, leef gesond, aan plaaswerkers uitgerol. Carmen was deel van die span en sy het ’n reeks kookklasse aangebied waar almal tog te lekker saamgekook het.

Carmen se soetigheid, of stoutigheid soos sy daarna verwys, kom juis uit die resepteboek wat tydens die program saamgestel is. En Baba was ’n integrale deel van die program. Sy gebruik tot vandag toe nog haar resepteboek. Maar natuurlik moet daar ’n bietjie deeg in die mengbak agterbly sodat die twee vriendinne soos twee ondeunde kinders die rou deeg kan proe . . .

Die tafel

Lekker en goed met Carmen Niehaus ep 10
Carmen Niehaus, en vandeesweek se gas, Daleen ‘Baba’ Snyers, kom al ’n lank pad saam. Foto: Skermgreep

Voëlnessies en skelgeel sonneblomme maak van die tafel ’n fees vir die oog. En vir die wyntjie saam met die ete, maak Carmen ’n Piekenierskloof Pinotage oop. Sy wil vir Baba ’n tipiese Suid-Afrikaanse gereg met ’n tipiese Suid-Afrikaanse wyn voorsit.

Wat nog?

Die twee gesels al te lekker oor vriendskap, die familie en “Baba se oxtail” sonder weerga. 

Lekker & Goed se resepte word op Vrydae op terloops gepubliseer. 


Lekker & Goed saai Donderdae op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) om 17:30 uit. Episodes is ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers maak haar merk 

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
30

30 Afrikaanse flieks wat jy vir oulaas op Showmax kan kyk

Met Showmax se dae getel, gaan ons binnekort ’n groot gros Afrikaanse speelfilms, kortprente, reekse en dokkies op dié plaaslike stroomdiens moet groet. Maak dus ’n plan om vir oulaas een van die gewildste Afrikaanse flieks op Showmax te kyk.

Meer
Sien alle opsies