Dit is nou drie maande ná die Lentefees. Dit lyk of die kultus se rituele offer gewerk het: reën het immers geval en die land vernuwe. Maar Yola (vertolk deur Lea Vivier) onthou niks sedert sy van haar pa se begrafnis teruggekeer het nie. Só begin die tweede seisoen van die bekroonde storieskepper Alex Yazbek se TV-drama, DAM.
Buiten dat DAM die meeste benoemings vir ’n dramareeks by die 2022 SAFTA’s ingeryg het, is dit ook goed deur kykers én resensente ontvang, met laasgenoemde wat telkens verwys het na die manier waarop die reeks grense in Suid-Afrikaanse TV verskuif het.
DAM is in Adelaide en Bedford in die Oos-Kaap verfilm, en die rolverdeling sluit ook sterre soos Antoinette Louw, Tarryn Wyngaard, Faniswa Yisa, Laudo Liebenberg en Marvin-Lee Beukes in.
Lea vertel meer oor haar rol, die reeks en wat kykers in die tweede seisoen kan verwag.
Hoe was die reaksie op S1?
“ ’n Groot verskeidenheid mense het my op baie verskillende plekke voorgekeer en gesê: “Is jy Yola van DAM? Ons het die storie so geniet! Dit was ’n wonderlike groep akteurs en het eg Suid-Afrikaans gevoel.’
“Dit blyk dat mense die feit dat dit ’n hele klomp verskillende Suid-Afrikaners is wat bymekaar kom en een storie vertel – in ons verskillende tale, met die verskillende kulturele erfenisse – baie geniet het. Ons vertel nie bloot ’n storie in isolasie van mekaar nie; dit is ’n pragtige ensemble-werk.”
Hoe het dit gevoel toe DAM verlede jaar vir 11 SAFTA’s benoem is?
“Dit was ’n aangename verrassing, veral omdat DAM reeds ’n jaar en ’n half voor die SAFTA-benoemings uitgekom het. So ek het nie soveel benoemings verwag nie. Maar natuurlik was ons almal baie bly en dankbaar. Wanneer jy TV en film doen, kry jy nie gehoor-applous soos op die verhoog nie. So dit is heerlik om erkenning vir jou werk te ontvang en om te weet dat mense die harde werk en bloed, sweet en baie trane wat dit verg, waardeer.”
Hoe sou jy DAM beskryf?
“Dit is ’n sielkundige riller, met baie invloede van magiese realisme.
“Dis vars. Dis ’n Suid-Afrikaanse storie wat ek nog nie voorheen op ons skerms gesien het nie.”
Wat was hierdie seisoen vir jou die grootste uitdaging?
“Al die onderwater-tonele. Ek moes eintlik ’n intreevlak-skubakursus doen sodat ek al die onderwater-tonele kon uitvoer. Ek is glad nie ’n goeie swemmer nie, so dit was baie uitdagend. Ek weet nie hoekom mense aanhou om my vir swemprojekte te kies nie! (Lea speel ook in die kykNET-telenovela Diepe Waters wat deels by ’n professionele swembklub afspeel.) Ek kan hondjie-slag swem.”
Hoekom moet mense die nuwe seisoen kyk?
“Want Seisoen 1 het met ’n groot vraagteken geëindig.
“En omdat ons ’n eg Suid-Afrikaanse manier probeer vind om televisie te maak. Dit is nie net om te probeer navolg wat Amerikaners doen of wat ander mense in ander bedrywe gedoen het nie. Die reeks probeer om ons eie outentieke Suid-Afrikaanse voetspoor te laat.”
Die eerste episode van DAM se tweede seisoen is vanaf 16 Februarie op Showmax beskikbaar. Daarna sal nuwe episodes weekliks op Donderdae beskikbaar wees om te stroom.