In verlede week se episode van Kokkedoor Vuur & Vlam was dit eksotiese boskos waarmee die deelnemers se braaivermoëns op die proef gestel is. Dit was kinkelbraaier Lorianne Heyns en onthoubraaier Benjie Benjamin wat met die louere weggestap het. Meer nog – hulle kon toe in dié episode rustig van die kantlyn af toegekyk het hoe die ander spanne voor daai vuurwarm kole swoeg en sweet.

En weer ’n kinkel
Van die deelnemers was uit die veld geslaan en ander heel in hul noppies toe hulle hoor dat daar hierdie keer nie in spanne gebraai gaan word nie, maar dat elke deelnemer op sy of haar eentjie die uitdaging moet takel.
Ná afloop van dié uitdaging sal die beoordelaars, Bertus Basson en Kobus Burger, dan die spanne aanwys vir die laaste drie uitdagings, hoor hulle.
Gaan een paar hande wel genoeg wees om die wa deur die drif te trek, ongeag die vrag daarop?
Wie kom kuier?

Teen hierdie tyd is dit nie ongewoon vir gaste om ’n dag op die stel saam met die spanne te kom deurbring nie. Daar word wild geraai oor wie dit kan wees. Maar almal slaan die bal mis.
“Die legendariese solo-sanger, Rina Hugo,” deel Bertus hulle mee. En daar word breed geglimlag. En net daar leer almal iets anders oor Rina. Sy is nie net gek oor die see nie, maar sy doen ook self die braaiwerk terwyl manlief Johan die gholfstokke rondswaai!
Die uitdaging
Die deelnemers moet Afrikaanse spreekwoorde as inspirasie gebruik. Een ná die ander word die spreekwoorde onthul: Botter kan nie in sy mond smelt nie, hy skrik nie vir ’n koue pampoen nie, iets vir ’n appel en ’n ei verkoop, boontjie kry sy loontjie, mosterd na die maal, met die sak patats vorendag kom en in tamatiestraat wees.

Vuur is die hoof-kookmetode en rook mag ook ingespan word. Die gereg kan soet of sout wees en die klok word op 90 minute gestel.
Rina gaan die deelnemers help om nie so op hul eie te voel nie. As ’n solo-kunstenaar verstaan sy die impak daarvan as die kollig op jou as ’n enkeling val.
“Vandag gaan ’n kosoorlog wees, een waarin jy vir jou lewe moet veg,” kom dit baie ernstig van een van die kinkelkokke. En die resepteboeke word baie gou nader gehark vir nog inspirasie. Ander smeek vir “divine inspiration” . . .
En een deelnemer kry selfs die kans om ’n kort duet met Rina te sing. “Dit was m**rse koel gewees,” erken hy met blink oë en ’n baie breë glimlag.

Hier is nog ’n paar foto’s van wat tydens die episode afgespeel het en wat die ander Kokkedoor-spanne aangevang het. Foto’s: Verskaf

Foto’s: Verskaf
’n Glips en emosies wat oorloop
Daar’s ’n liederlike glip met die mes en dit was so hittete hospitaaltyd vir een deelnemer, maar gelukkig is die vinger nog veilig. Dit raak ’n emosionele tyd vir die deelnemers met al die spanning en senuwees wat lol.
Vir een van die deelnemers was die emosies net te veel en die trane het geloop. Sake het nie verloop soos wat die verwagting was nie…
Dié twee gaan huis toe
Die kinkelbraaier wat vandeesweek huiswaarts moes keer, is Francois Binneman (35), ’n professionele sjef van Gqeberha, en onthoubraaier, Nelia Lombard (46) van Bellville, ’n vryskut in die filmbedryf.
Wat sê Francois?

Jy was twee episodes gelede tydens die koffie-uitdaging saam met jou spanmaat, Jay Maan, die wenners. Dink jy ’n spanmaat sou in hierdie episode in jou guns getel het?
“Beslis! Ons het mekaar aangevul en mekaar gedruk om beter te wees. In ’n solo-uitdaging is jy baie meer in jou kop, en daar’s niemand om jou uit jou kop te kry of net ’n tweede opinie te gee nie. Maar dit het my ook geleer om my eie stem en styl te vertrou.”
Rina Hugo is waarskynlik ’n tydjie voor jou generasie. Hoe was die ontmoeting met haar en het jy van haar geweet?
“Ons het altyd Rina se musiek geluister – “Sweef soos ’n Arend” was ’n gunsteling! Ek het dus grootgeword met daardie stem in die agtergrond van my kinderdae. Dit was ’n voorreg om haar in lewende lywe te ontmoet! Sy straal só ’n warmte en grasie uit wat mens net stil maak. Ek het gevoel ek staan in die teenwoordigheid van ’n ware ikoon.”
“Met die sak patats vorendag kom” was jou spreekwoord. Hoe het jy dit ingespan om jou dis te inspireer? Het jy enige goeie wenke rondom patats?
“Ek het gedink: as ek nou my sak patats moet uithaal, dan gaan ek dit met flair doen! Patats is vir my trooskos – dis so veelsydig, of jy dit rook, rooster of selfs in die kole gaarmaak.
“My wenk? Sit dit met skil en al in die kole, en laat dit natuurlik karameliseer. Dan balanseer jy dit met iets sout soos feta of bros spek vir daardie wow-kontras.”

Jy was opgewonde om jou eie kos op jou eie styl voor te berei. Hoe verskil dit wat jy solo voorberei van dit wat jy tot nou toe met ’n spanmaat gedoen het?
“Wanneer ek solo kook, kom my eie hart en storie veel meer deur. Ek kies elke element volgens persoonlike betekenis – elke geur dra emosie. In ’n span leer jy om te kompromiseer, maar solo leer jy om jou eie stem te vertrou. Dis bevrydend . . . en terselfdertyd ’n bietjie vreesaanjaend ook!”
Wat lê nou vir jou voor? Sal jy weer aan so ’n werklikheidsreeks deelneem?
“Ek sal beslis weer! Hierdie reis het my nie net as sjef laat groei nie, maar ook as mens. Ek voel meer seker van wie ek is en wat ek wil sê deur my kos. Maar vir eers wil ek my energie sit in ons besigheid, Food with Thought, en aanhou mense verras met vuur, liefde en geur!”
Wat was die beste deel van Kokkedoor Vuur & Vlam vir jou?
“Die mense. Die kamera ágter die kamera. Die trane, die lag, die laatnag-beplan . . . en daai oomblikke waar jy jouself verras met wat jy kan doen. Ek sal elke oomblik koester – dit was ’n avontuur van selfontdekking.”
Wat sê Nelia?

Jy’t ’n voorgevoel gehad dat twee spanne dalk hierdie week voorskote sal moet ophang. Het jy vermoed dat dit jy gaan wees?
“Ek het definitief geweet die kanse vir op-slip en foute maak is nou verby en dat ek alles gaan moet gee om in die kompetisie te bly. Net die blote feit dat al die deelnemers wat nou nog oor is in die kompetisie sulke fantastiese kokke is, het dit vir my duidelik gemaak dat ek ’n goeie kans staan om huis toe te gaan.”
Die gemengde gevoelens wat opgeduik het toe julle ingelig is dat dit elkeen vir hom- of haarself is in die kombuis . . . Hoe het jy daaroor gevoel en hoe het jy die beste daarvan probeer maak?

“Ek dink eerlikwaar dit was vir my ’n groot verligting. Ek het regtig die dag gevrees dat ek dalk moontlik die rede kan wees vir iemand anders om hulle plek in die kompetisie te verloor omdat ek miskien droog gemaak het. Maar ek het ook vinnig na die laaste uitdaging besef dat spanwerk so belangrik is en team work makes the dream work.
“Ek dink as Stephan, Francois of De Wet daai dag langs my gestaan het, sou al drie van hulle beslis vir my gesê het, ‘Gaan haal die winkelbrood uit die spens en sit weg daai deeg’.”
Rina Hugo. Hoe was dit om haar te ontmoet?
“Ek het grootgeword met al die legendes. Tannie Carike [Keuzenkamp], Annelie van Rooyen en natuurlik Tannie Rina. Dit was vir my werklik ’n groot voorreg om haar te ontmoet. Sy het haarself so oor my ontferm toe ek oor my seuns praat en vertel hoe baie ek hulle mis. Sy het ’n hart van goud.”
Jou spreekwoord was: “In tamatiestraat wees.” Wat het jy daarvan gedink? En het jy ’n gunsteling tamatie-dis vir ons kykers?
“Ja, ek dink dit is duidelik dat ek met hierdie uitdaging myself pens-en-pootjies reg in die middel van tamatiestraat geplaas het. Ek was kniediep in die moeilikheid met my braaibroodjie.
“Ek moet ook sê, as dit by tamaties kom is daar vir my niks lekkerder as ’n sappige ryp tamatie met net so ’n bietjie sout en peper nie.”

Vir jou was daar ook die gevoel dat jy dinge bymekaar moet bring en onthou hoekom jy lief is vir kosmaak. Waar het alles vir jou begin? En wie inspireer jou?
“Ek het maar grootgeword met ’n ouma en ’n ma wat altyd aan die kook was. Kosmaak was net nog altyd deel van wie ek is. As ek sien en hoor dat mense my kos geniet wat ek vir hulle voorsit, inspireer dit my beslis om aan te hou groei en nuwe dinge te probeer. Dit was vir my regtig ’n voorreg om saam met elkeen van hierdie deelnemers hierdie paadjie te stap en om elke dag te sien met hoeveel passie en liefde hulle elke bord kos aanpak. Dít inspireer my.”
Jou braaibroodjie was vir jou kinders. Vertel gerus meer van hulle. Kan hulle jou deelname aan Kokkedoor Vuur & Vlam volg?
“Ja, dit was vir Michael (19) en William (17), my trots en my hart se punt! Hulle woon by hulle pappa in Brisbane, Australië. Ek mis hulle elke dag. Ek vlieg binnekort Brisbane toe om vir hulle te gaan kuier en ek is vreeslik opgewonde om hulle stukkend te bederf met al hulle gunsteling-disse.
“Hulle het gesê hulle sal wag tot ek kom, dan kyk ons Kokkedoor Vuur & Vlam saam. Ek kan nie wag nie en ek hoop ek maak hulle trots.”
Wat was die waardevolste les wat jy tydens Kokkedoor Vuur & Vlam geleer het? En gaan jy dit vorentoe in jou lewe toepas?
“Wees braaf, ek moet in myself glo en ek moet nie bang wees vir mislukking nie. Dit is hoe ek hoop om elke dag van my lewe, en elke taak, aan te pak. En ek hoop dit is iets wat my seuns in my kan raaksien en ook in hul eie lewens sal toepas.”
Vir oulaas ’n kinkel
Die finale span-skuiwe word aangekondig. Van die nuwe spanne is oortuig dat hulle wel hierdie bult ook sal kan klim, selfs al is een van hulle nou opgesaal met net nege vingers na ’n ontydige glips in die kombuis.
Twee vorige spanlede is weer een span – tot hul groot vreugde. Gaan dit egter tot hul voordeel strek in die pylvak?
Bertus sê daar is vir hom ’n baie mooi uitdrukking in Afrikaans, naamlik dat jy moet blom waar jy geplant is. “Julle is nou almal geplant. Dis tyd om te blom,” is sy boodskap aan die agt wat nou nog die kole moet baasraak.
Kokkedoor Vuur & Vlam word Donderdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) uitgesaai. Episodes sal ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar wees.
Kyk ook solank die eerste seisoen op Showmax.