’n Venynige stryd om toesig. Twee mededingende misdaadsindikate. ’n Afgetrede bendebaas wat jeuk om ’n terugkeer te maak. En ’n voorstedelike huisvrou wat glad nie meer bereid is om mooi met ander te speel nie. Met die slotepisode wat nou beskikbaar is, kan kykers al 10 episodes van Koek se tweede seisoen op DStv Stream kyk en die toenemende chaos van begin tot einde beleef. (Lees ons resensie hier.)
Koek, ’n misdaadkomedie, geskep en geskryf deur die bekroonde filmmaker Christiaan Olwagen, klits misdaad, humor, familiedrama en verregaande kinkels saam in een onweerstaanbare resep. En in Koek-land is die spreekwoordelike Murphy se wet dikwels die enigste wet wat enigiemand gehoorsaam…
Die storie hervat…
Die tweede seisoen hervat ses maande ná die gebeure van die eerste. Christelle Smit, vertolk deur die Silwerskermwenner Cindy Swanepoel, probeer haar lewe herbou terwyl sy in ’n toenemend venynige skeisaak met haar ontroue man, Adrian (Stian Bam), gewikkel is.
Haar planne om haar mediese loopbaan te hervat en as enkelma vir haar dogter te sorg, begin verbrokkel wanneer Adrian haar om toesig dagvaar en boonop ’n skelm prokureur aanstel om die saak in sy guns te swaai. Namate haar opsies begin opdroog, word Christelle onwillekeurig teruggedwing na die onderwêreld wat sy gehoop het sy agtergelaat het.
Maar die vrou wat na dié wêreld terugkeer, is beslis nie meer die inskiklike Kaapstadse huisvrou wat kykers aanvanklik ontmoet het nie. “Christelle nou? Sy is edgy, sy is gevaarlik, sy is rateltaai,” sê Swanepoel. “Moenie met haar mors nie – sy is deur baie. Maar sy is ook kwesbaar.”
Christelle klop weer aan by Moekie, die gedugte voormalige bendebaas wat deur die skermlegende Sandra Prinsloo vertolk word. Aftrede het Moekie oorgelewer aan ongevraagde pensioenarisafslag en vreemdelinge wat haar “Ouma” noem… Maar sy het geensins haar aptyt vir luiperdpatrone, brandewyn of misdaad verloor nie.
Die twee se persoonlike krisis bots weldra met ’n ander magtige – en skouspelagtig wanfunksionele – misdaadfamilie.

Ontmoet die Terreblanches
Frank Opperman vertolk die rol van Thinus “Tjoppie” Terreblanche, die gevreesde hoof van ’n motorkapingsindikaat in die Noordelike Voorstede. Hy regeer dalk sy misdaadryk vanuit ’n rolstoel, maar sy kwynende gesondheid het dié geslepe en moreel korrupte bendebaas nie ’n aks sagter gemaak nie.
“Daar is altyd iets aan ’n slegte ou wat ek geniet,” sê Opperman. “’n Sluwe karakter is net soveel meer interessant as ’n vervelige, gewone ou.”
Tjoppie se seun, Tiny, word deur De Klerk Oelofse vertolk. Hy is onbeholpe, desperaat om homself te bewys en voortdurend op soek na die goedkeuring wat sy pa weier om hom te gee. Sy hunkering om geliefd te wees, dompel hom telkens net dieper in die moeilikheid.
Dan is daar Tjoppie se glansryke sesde vrou, Veronika, vertolk deur Leandie du Randt. Met die eerste oogopslag lyk sy dalk soos ’n dubbel-denim-poppie aan die arm van ’n magtige man, maar daar skuil veel meer agter dié mooi voorkoms. “Veronika is sterk. Sy is ’n vegter,” sê Du Randt. “Maak nie saak waar jy begin of watse kaarte jy gekry het of wie jou oorgeskroef het nie – jy kan uit dit kom en jy kan jou situasie omdraai.”
Wanneer die Terreblanches se sindikaat en Moekie se doen en lates weens ’n reuse misverstand bots, dreig die gevolge om die Tygerberg-heuwels bloedrooi te kleur.

Agter die skerms
Agter die kameras word Olwagen bygestaan deur die bekroonde regisseur en kinematograaf Johannes Pieter Nel, asook die Silwerskerm- en Safta-wenner Eva du Preez, wat as mede-regisseur en redigeerder by die span aangesluit het.
Du Preez beskryf een van die seisoen se sentrale temas as “hoe egskeiding in ’n soort bende-oorlog kan ontaard”.
“Wanneer jy liefde, ouerskap, wellus en wraak saam in een storie plaas, skep dit ’n baie komplekse en chaotiese dinamika met baie op die spel,” sê sy.
Die seisoen is oor 48 dae in Kaapstad verfilm en spog met ’n allemintige 216 karakters. Dit vergroot die eiesoortige misdaadwêreld van Koek, maar behou die emosie, ongemak en vlymskerp humor wat hierdie reeks reeds in die eerste seisoen ’n stroomtreffer gemaak het.
Die bekroonde eerste seisoen het vier Silwerskermtoekennings ontvang vir die spel van Jacques Bessenger, Cindy Swanepoel, Dawid Minnaar en Sandra Prinsloo. Dit is ook vir ’n Internasionale Emmy benoem en het daarmee Suid-Afrikaanse storievertelling op die wêreldverhoog geplaas.
Al 10 episodes van Koek S2 is nou in die Showmax-afdeling op DStv Stream beskikbaar op die DStv Premium-, Compact Plus- en Compact-pakkette. Alle DStv-intekenare met ’n aktiewe dekodeerder-intekening het gratis toegang tot DStv Stream. Dit is ook as ’n losstaande stroomdiens beskikbaar.