Die eerste sarsie episodes van die veelbekroonde draaiboekskrywer Christiaan Olwagen (Recipes for Love & Murder, Kanarie) se Koek het dié misdaadkomedie se tweede seisoen met chaotiese intrige, haas ondenkbare scenario’s en hoogdrama ingelui. Daar is steeds net een wet wat in Koek-land geld – Murphy s’n.
Dié Showmax Original-reeks is tans eksklusief op DStv Stream beskikbaar.
Die Silwerskerm- en Safta-wenner Eva du Preez, onder meer regisseur van die gewilde misdaaddrama Die oord, is ’n nuwe toevoeging tot Koek se agter-die-skerms-span. Sy sluit aan by Olwagen en Johannes Pieter Nel (Magda Louw, Die tragiese saak van Pamina Vermaak) as mede-regisseur en behartig ook van die reeks se redigering.
Sy vertel meer:
Kom ons begin met hoe jy by die tweede seisoen van Koek betrek is – jy was nie by S1 betrokke nie, maar hier tree jy as een van die regisseurs én as redigeerder op?
“Ek en Christiaan speel al geruime tyd met die idee om saam as mede-regisseurs ’n TV-reeks aan te pak. Met Koek se tweede seisoen het die geleentheid ontstaan om kragte saam te snoer en die las vir Johannes Pieter Nel ligter te maak, aangesien hy beide die eerste seisoen se regie én kinematografie hanteer het. Ek het dus as mede-regisseur én redigeerder betrokke geraak, wat vir my ’n baie opwindende en kreatiewe proses was.”
Wat was jou indrukke as kyker van die eerste seisoen?
“Ek sou oorspronklik die redigering van die eerste seisoen doen, maar weens ander verpligtinge kon ek dit ongelukkig nie laat werk nie. Ek het wel die tekste voor die verfilming gelees en was onmiddellik gaande daaroor. Toe die reeks uiteindelik uitgesaai word, het ek dit binne twee dae klaar gekyk. Dit val presies binne my smaak en tipe humor. So, ek was van vroeg af al ’n groot aanhanger van Koek.”
En toe jy S2 se tekste onder oë kry? Het jy enige onmiddellike idees gehad oor wat jy graag sou wou maak met die seisoen as geheel, of met spesifieke tonele?
“Met seisoen 2 vat Christiaan Olwagen die reeks beslis na ’n volgende vlak. Die storie hervat ses maande later van waar ons die karakters laas gesien het, en daar is ’n klomp nuwe karakters, nog meer drama en natuurlik ook wraak wat uitspeel. Ek was aanvanklik nogal senuweeagtig, want die eerste seisoen was so geliefd. Soos wat ons tydens pre-produksie alles begin uitpluis het, het ek egter al beter verstaan wat Christiaan se visie en verwagtinge vir die nuwe seisoen was. Dit het my baie opgewonde gemaak oor wat ons saam kon skep.”
Die sogenaamde “sophomore slump” het al ’n hele paar TV-reekse gekelder – veral as daar groot sukses met die eerste seisoen behaal is. Het jy/julle die druk van verwagting gevoel om ’n seisoen te skep wat ewe briljant is, indien nie beter as die eerste een nie?
“Daar is beslis druk wanneer ’n eerste seisoen so goed ontvang is, en ek dink almal was baie bewus van die verwagtinge rondom die tweede seisoen. Maar eerder as om te probeer om net groter of beter as die eerste seisoen te wees, het ons gefokus daarop om getrou te bly aan die wêreld en die karakters van Koek. Gelukkig gee Christiaan se skryfwerk vir ’n mens baie om mee te werk – die emosie, humor en drama is alles reeds daar in die teks. Ons het probeer om die reeks organies verder te laat groei, eerder as om bloot die sukses van die eerste seisoen te probeer herhaal.”

Hoe vul jou talente en vaardigheid as redigeerder jou werk as regisseur aan?
“Ek sien my ervaring as redigeerder beslis as ’n soort superpower wanneer ek regie voer. Ek weet presies wat ek in die edit gaan benodig en ook hoe om sekere dinge later reg te maak as iets op stel nie heeltemal gewerk het soos beplan nie. Dit gee my baie meer vryheid en rustigheid tydens verfilming.
“Maar terselfdertyd vind ek dit ook moeiliker om objektief na my eie werk as regisseur te kyk wanneer ek die redigering doen. Jy raak maklik vasgevang in die emosie van die dag op stel en fokus soms meer op die tekortkominge of dinge wat nie gewerk het nie, eerder as op die groter prentjie.
“Ek het aanvanklik een van my eie episodes redigeer, maar daarna besluit om eerder net Johannes en Christiaan se episodes te redigeer. Daar was iets baie bevrydend daaraan om die storiewêreld só goed te ken dat ek ander regisseurs se werk kon help verhef en verfyn, sonder die emosionele bagasie van my eie dae op stel.
Hoe sou jy die dinamika in jou, Christiaan Olwagen en Johannes Pieter Nel se werksverhouding en werksverdeling beskryf?
“Daar was van die begin af ’n baie oop en kreatiewe samewerking tussen my, Christiaan en Johannes. Christiaan het natuurlik as skepper en skrywer ’n baie sterk visie vir die wêreld en die toon van Koek gehad, terwyl Johannes weer daardie gevestigde visuele taal van die eerste seisoen baie goed verstaan het. My rol was om daarby aan te sluit, maar ook nuwe energie en perspektief na die tweede seisoen te bring.
“Die werksverdeling het baie organies gevoel. Ons het deurentyd idees uitgeruil en mekaar se sterk punte vertrou. Ek het tydens verfilming reeds aan episode 1 en 2 begin sny, so kon terugvoer gee van wat werk en waar ons nog kon verbeter. Dit het gevoel soos ’n baie ondersteunende spanproses eerder as mense wat in afsonderlike bane werk.”
Dit is belangrik dat ons ruimte maak vir vroue-karakters wat nie altyd simpatiek of perfek hoef te wees om waardevol of interessant te wees nie. Vir my gaan dit uiteindelik oor menslikheid. Hoe meer spesifiek, eerlik en genuanseerd ons karakters is, hoe meer universeel raak hulle eintlik.
Eva du Preez
Daar is reeds ’n vertelstyl in S1 gevestig, maar in S2 lyk dit skerper, amper meer direk. Hoe sou jy jou invloed op die storievertelling in dié seisoen beskryf? Anders gestel: Wat van Eva se styl en benadering sien ons in S2?
“Ek dink my styl lê baie in vertolkings en ritme. Ek hou daarvan dat tonele natuurlik en eerlik voel, selfs wanneer die wêreld of humor effens absurd raak. Met Koek is daar deurentyd ’n balans tussen die drama en komedie, en ek geniet dit veral om met daardie spanning te speel, sonder om een van die twee te veel te forseer.
“Ek is ook baie detailgedrewe, waarskynlik omdat ek uit ’n redigeringsagtergrond kom. Ek dink die heeltyd aan hoe tonele aan en in mekaar gaan vloei, hoe lank iets moet asemhaal en waar die emosionele fokus lê. Ek hoop mense sal in seisoen 2 daardie kombinasie van emosie, ongemak, humor en ritme kan voel, maar steeds voel dat dit deel bly van die wêreld wat kykers reeds van Koek S1 ken en liefgekry het.”
Jy het al in onderhoude aangaande Wyfie daaroor gesels – ’n reeks wat grensverskuiwend was vir die uitbeelding van vroue in ’n Suid-Afrikaanse TV-reeks – en dieselfde geld ten opsigte van hoe vroue in Koek uitgebeeld word. Hoekom dink jy is dié soort stories waarin ’n diverse, komplekse groepe vroue realisties op die skerm gesien word belangrik?
“Ek dink daar is ongelooflik baie waarde daarin om vroue op ’n meer komplekse, eerlike en menslike manier op skerm uit te beeld. Wat vir my so interessant van reekse soos Koek is, is dat die vroue teenstrydig, snaaks, selfsugtig, kwesbaar, sterk en soms ongemaklik kan wees, alles terselfdertyd. Christiaan Olwagen is ’n meester as dit kom by die skep van vroue-karakters. Ek sê dit baie: Hy verstaan vroue beter as wat hulle hulself verstaan.
“Ek dink popkultuur speel ’n enorme rol in hoe ons mekaar en onsself sien. Wanneer mense hulself op ’n eerlike manier in stories herken, kan dit baie bevrydend wees. Dit help ook om stereotipes en verwagtinge af te breek, veral rondom hoe vroue ‘behoort’ op te tree, te wees, of te lyk.
“Dit is belangrik dat ons ruimte maak vir vroue-karakters wat nie altyd simpatiek of perfek hoef te wees om waardevol of interessant te wees nie. Vir my gaan dit uiteindelik oor menslikheid. Hoe meer spesifiek, eerlik en genuanseerd ons karakters is, hoe meer universeel raak hulle eintlik.”
Voel jy ’n verantwoordelikheid om reg te laat geskied aan stories soos dié wat die uiteenlopende aard en wese van vrouwees so prontuit uitbeeld?
“Vrouwees is morsig. Ek voel nie noodwendig ’n verantwoordelikheid om ‘reg te laat geskied’ daaraan nie, maar eerder om dit eerlik uit te beeld. Want wat is ‘reg’ eintlik? Elkeen se ervaring daarvan is so verskillend. Vir my gaan dit meer oor om nie dinge te probeer gladstryk of vereenvoudig net om dit gemakliker te maak nie. As dit eerlik is, en as die karakters se menslikheid regtig deurkom – met al die teenstrydighede en kompleksiteit. Dan voel dit vir my reeds genoeg.”

Watter van dié seisoen se storietemas het jou veral getref of aangeraak?
“My gunstelingtema van die seisoen is hoe egskeiding ’n soort bende-oorlog raak. Daardie idee van hoe iets wat in die kern baie persoonlik en emosioneel is, kan eskaleer in iets veel groter en meer chaoties. Wanneer jy liefde, ouerskap, wellus en wraak saam in een storie plaas, skep dit ’n baie komplekse en chaotiese dinamika met baie op die spel. Dit sorg vir ’n seisoen wat voortdurend intens bly, maar steeds gewortel is in menslike emosie en verhoudings.”
Watter uitdagings moes jy te bowe kom met dié projek?
“Ons het met verskeie gesoute akteurs gewerk, en dit was aanvanklik nogal intimiderend. Dit was vir my ’n baie lekker uitdaging om ’n mate van vertroue by elkeen te bou, sodat jy hulle werklik kon ondersteun met spelleiding. Sodra daardie vertroue gevestig is, raak die proses baie meer samewerkend en vry. Dan kan jy as regisseur regtig fokus op wat die toneel nodig het en die visie van die reeks.”
Was daar iemand wat jou regtig beïndruk of verbaas het met hul spel?
“Ek moet sê, Stian Bam en Cindy Swanepoel se spel het my geweldig beïndruk. Die dieptes waarheen hulle moes gaan om hul karakters te vertolk, was regtig inspirerend om te sien. Dit was vir my besonders om te sien hoe hulle met soveel nuansering en toewyding werk, en hoe hulle selfs in moeilike of emosioneel intense tonele so volledig in die wêreld van die storie kon inkoop.”
Is daar iets waarop jy besonder trots is wat die reeks en die maak daarvan betref? Iets wat uitstaan as ’n hoogtepunt?
“Dit was ’n hoogtepunt om saam met vriende te kon werk en skep. Elke dag op stel het sy eie uitdagings gehad, maar ons het die beste tyd gehad en verskriklik baie gelag. Koek S2 was eerlikwaar die beste ‘terapie’ wat ek in ’n lang tyd gekry het.”
Nuwe episodes van Koek S2 word weekliks in die Showmax-afdeling op DStv Stream vrygestel. Dit is beskikbaar op die Premium-, Compact Plus- en Compact-pakkette.