Elke maand bring ons vir jou ’n opsommende voorskou oor al die drama, smart en skandale waarna jy op kykNET&kie se Turkse telenovela, Dikker as water, wat na Afrikaans oorgeklank is, kan uitsien.
Dié telenovela, in Turks bekend as Kızılcik Şerbeti (“bosbessie-sorbet”), vertel die verhaal van ’n jong vrou wat verlief raak op ’n sjarmante man uit ’n konserwatiewe familie. Die waardes van hierdie familie bots lynreg met dié van haar moderne ma, en dít veroorsaak groot struweling tussen almal betrokke.
Plaaslike akteurs soos Ilse Klink, Roberto Kyle en Reze-Tiana Wessels, tree as stemkunstenaars vir die oorklanking op.
Hier is ’n voorsmakie van wat jy in die eerste sarsie Dikker as water-episodes kan verwag.
Dinsdag 14 Oktober
Doğa voel siek tydens klas en Fatih is bekommerd. Kıvılcım en Ömer ontmoet mekaar wanneer Metehan betrokke raak by ‘n bakleiery op die skoolterrein.
Woensdag 15 Oktober
Die familie is geskok wanneer Kıvılcım se eks ’n bom laat val. Doğa maak ’n bekentenis wat haar ma geweldig ontstel.
Donderdag 16 Oktober
Die twee families ontmoet mekaar en Kıvılcım is geskok om te sien hoe konserwatief Fatih se ouers is. Tot haar verbasing hoor sy Ömer is Fatih se oom.
Maandag 20 Oktober
Abdullah sê Pembe moet Doğa se ma nooi vir ete om die ys te breek. Kıvılcım is gekant teen die troue en vrees dat haar dogter beinvloed gaan word.
Dinsdag 21 Oktober
Doğa woon by haar skoonouers en nooi Kıvılcım oor vir aandete om die troue te bespreek. Kıvılcım is geskok om te hoor dat Doğa beplan om haar studies op te skop.
Woensdag 22 Oktober
Pembe vra dat Nursema vir Doğa vergesel om na die tafel-uitleg vir die bruilof te gaan kyk. Met die eerste ontmoeting al is dit baie duidelik dat Alev en Nursema nie van mekaar hou nie.
Donderdag 23 Oktober
Doğa sien uit na ’n aand uit, Nursema word in die gesig gevat, en Doğa se trourok veroorsaak verdere verdeeldheid.
Maandag 27 Oktober
Pembe is ontsteld oor die gedrag van Doğa en haar familie op ’n partytjie waar skamel geklede mans gedans het. Abdullah spreek Fatih hieroor aan en dit lei tot ’n argument met Doğa.
Dinsdag 28 Oktober
Alev reël ’n verrassing vir Doğa-hulle se troue. Die dansers is een te veel vir die konserwatiewe skoonfamilie. Dit lei tot groot ontevredenheid by baie mense.
Woensdag 29 Oktober
Pembe is ongelukkig omdat Doğa nie ’n trousseau het nie en praat met haar daaroor. Kıvılcım belowe om dit reg te stel. Alev neem Abdullah uit vir ete.
Dikker as water begin op Dinsdag 14 Oktober om 20:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145). Dit sal weekliks van Maandae tot Donderdae uitgesaai word.










