Menu terloops
In Onderhoude [5 Mei 2022]

Evan Hengst as Stefan in ‘Troukoors’: ‘Ons voel almal soms soos buitestaanders’


Met sy rol as Miles in die uiters gewilde ‘The Kissing Booth’-trilogie, kan ons seker maar aanneem dat Evan Hengst ’n ding of twee van soen op skerm weet. Hy gesels oor sy rol as Stefan in die Showmax-romkom, ‘Troukoors’.

Deur Rozanne Els

Kyk nou

Evan Hengst as Stefan in ‘Troukoors’: ‘Ons voel almal soms soos buitestaanders’
Kyk lokprent

Evan Hengst het onlangs begin om meer plaaslike geleenthede aan te pak, nadat hy in Netflix se Kissing Booth-flieks naam gemaak het. Een van sy eerste groot plaaslike rolle is in Louis Pretorius en Albert Snyman se romantiese dramedy, Troukoors. Hy vertolk die rol van Stefan, wat op Luca (Blyde Smit) verlief raak.

Oor die karakter

Hoe meer Louis (Pretorius) en Albert (Snyman), die skeppers, vir my van hom vertel het, en terwyl ek die teks gelees het, het ek ’n kinship met Stefan begin voel. Hy lewe so bietjie in sy eie wêreld. Ek sien hom altyd as ’n bietjie van ’n alien oor sy belangstellings en oor hy so geeky is. Ek sien hom as ’n alien wat tussen mense beweeg. Hy sukkel om homself uit te druk want hy raak verstrengel in sy kop, maar wanneer hy skryf druk hy homself vlot uit en is ook gelukkiger om dit so te doen as in persoon. Ek het met dit aanklank gevind. Ons het almal oomblikke wat ons voel asof niemand ons verstaan nie, of voel soos buitestaanders in die wêreld. Hy vind sy spasie en sy gemak in Luca. 

Evan vs Stefan 

Ek het baie liefde en empatie vir Stefan, veral oor hoe hy voel hy pas nie in die wêreld in nie, maar hy probeer net sy beste om sy plekkie in die wêreld te vind. En dis iets waarby ek, as ’n 26-jarige…dis ’n reis waarmee ek identifiseer en kon gebruik om vir die karakter te vertaal. Daai soeke is iets op wat ek gefokus het. Sy soeke na liefde en al daai goed.

Hoogtepunte en uitdagings

Die beste deel van om Stefan te vertolk, is die lighartige oomblikke en die goeie aard van sy menswees. Hy is ’n goeie ou. Hy het sy foute, dis nie asof hy perfek is nie. Die uitdagendste was om sekere aspekte van sy verhouding met Luca uit te beeld, die uitdagings wat hy teëkom soos hul verhouding ontwikkel en hoe hul liefdesverhaal verander. Omdat die reeks nie in kontinuïteit geskiet word nie, was dit ook ’n uitdaging om tred te hou met waar hulle in hul verhouding en hul reis is.

Oor die impak van ’n intimiteitskoördineerder op stel

Dit is baie fassinerend en dit het my gehelp om intieme tonele soveel beter te verstaan net omdat daar soveel detail is wat jy kan inbring. Dit was baie interessant want daar is so baie elemente wat jy tot ’n rol kan voeg, en nou as ek na ’n intieme toneel kyk…dit het regtig my perspektief op alles verander.

As ’n akteur kan te gefokus raak op die fisieke aspekte daarvan, om kwesbaar te wees en ontbloot en naak te wees. You can really get into your head about it. Maar nou repeteer jy dit soos ’n dans en jy voeg daai klein details by. Dit word eintlik baie meer genotvol. Ek voel, as ’n akteur, behoort dit op ’n wyer skaal in veral Suid-Afrika aangebied word. Daar word nie genoeg op intieme tonele gefokus nie, veral nie om akteurs gemaklik te laat voel nie en dít is noodsaaklik om die werk ordentlik te kan doen. Dit het definitief my oë oopgemaak tot wat hierdie tonele kán wees. 

Om dan die toneel uiteindelik te skiet…dis die wonderlik deel van die werksessies wat ons gedoen het. Daar is soveel voorbereiding en vertroue voor die tyd gebou dat as jy op stel aankom…normaalweg sou jy baie kwesbaar en uit plek uit gevoel het; asof jy eintlik dit net oor en verby wil kry. Maar die keer het ek so voorbereid en ontspanne gevoel. Jy kan dus fokus om jou werk te doen en nie in jou kop vas te val nie. Ek het al op ander reekse met intimiteitskoördineerding gewerk, maar hierdie keer was dit ’n absolute plesier en gemaklik.

Oor die reeks se meer realistiese aanslag op verhoudings 

Die reeks is baie uniek in hoe die teks benader is. Die teks was ’n spanpoging tussen Louis, Albert en jonger skrywers om moderne verhoudings, intimiteitskwessies en al daai goed wat mense nie eintlik op plaaslike TV oor praat nie, uit te beeld.

Daai samewerking en die jonger stemme wat ingespan is, het gehelp met hoe daardie kwessies aangespreek is, hoe hulle daaroor praat en hoe hulle op so ’n manier skryf dat dit so natuurlik as moontlik bly. Ek dink dit het ’n lieflike dinamika geskep in die teks en die storie. In terme van hoe hulle verhoudings aanspreek, soos met Karel en Nathan as ’n gay paartjie, word dit nie as ’n taboe onderwerp hanteer nie. Dit is ’n baie algemene ding in die wêreld en dit word so hanteer. It’s not even an issue. Dis net ’n uitbeelding van ’n verhouding tussen twee mense en hoe hulle deur die normale gang van die lewe gaan. Ek dink dis baie goed gedoen.

As ’n akteur is dit ’n werklike plesier om te werk op so ’n storie, want jy hoef nie eintlik veel te doen nie. Jy het jou teks en die storie om op terug te val, en al wat jy hoef te doen is om present and alive te wees en dit maak dit eintlik die maklikste werk in die wêreld. 

Oor kykerreaksie 

Dis regtig lekker om deel van ’n reeks te wees waar jy op stel sit en dink, ek kan nie wag dat mense dit sien nie. Die kykerreaksie is regtig iets waarna ek uitsien, want ek dink daar is iets vir almal in die reeks. Die genre, dramedy, verleen dit tot pragtige ligte oomblikke, komiese oomblikke, maar intertwined met roerende oomblikke. Ek het baie saam met Nina op die monitor vir my medespelers gekyk, en is reeds daar telke male geroer. Dis ongelooflik om te werk met so ’n groep mense en net in awe van hulle te wees en by die storie ingetrek te word. Ek kan nie wag om te sien wat die kykers sê nie. Ek dink dis iets waarby baie mense kan identifiseer en sal geniet. 

Oor sy ervaring as ’n akteur

Ek het nie baie plaaslike ervaring nie. Ek het eers onlangs meer plaaslike rolle aangepak en daar is natuurlik ’n groot verskil tussen ’n plaaslike en ’n internasionale reeks. Maar, ek moet sê, in terme van hierdie produksie, dit is definitief een van die mees rewarding produksies waarop ek al gewerk het. Selfs net in terme van die span en die samewerking op stel. Om daai oop verhouding tussen die cast en crew te hê. En die span is regtig fantasties, almal weet presies wat hulle doen. Jy kom net by die stel aan en jy doen jou deel.

Ek het al so baie geleer deur met Nina en die crew te werk. Dis ’n groot leerkurwe vir my. Ek sit agter die monitor saam met Nina, ek vra vrae vir almal, en leer net van almal en wat hul spesifieke rol behels. My droom as ’n storieverteller is dat ek ook eendag agter die skerm wil wees en my eie stories wil vertel. So vir my is hierdie ’n fantastiese leerervaring. Ek is baie bevoorreg dat almal so oop is en my toelaat om by hulle te leer. 

Jy moet kyk want…

Ek dink die reeks het baie hart. Dit is vermaaklik en pret. Dit het regtig elemente wat almal kan geniet. En die karakters is só geskryf dat hulle verskillende fasette van die menslike ervaring verteenwoordig. Jy het karakters wat meer intellektueel is – Stefan is ’n voorbeeld. Hy is baie in sy kop en daar is ’n konstante stryd tussen sy kop en sy hart. Luca is weer ’n baie passievolle mens. Sy werk uit haar hart uit. Al die karakters is anders en ek dink as kykers sal jy met een van die karakters of elemente van die storie kan aanklank vind. Dit het ’n bietjie van alles vir almal. Ek dink enigiemand kan met die reeks saam lag én huil. En ek dink dít is juis ’n kenmerk van ’n goeie reeks – as jy mense op verskillende vlakke kan roer. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk op DStv in Mei 2022

Wat om te kyk op DStv vandeesmaand: Die treffende 'Hightown' keer terug met ’n tweede seisoen terwyl die topverkoperboek 'The Time Traveler's Wife' uiteindelik in ’n TV-reeks omskep is.

Meer

Wat om te kyk op Netflix in Mei 2022

Wat om te kyk op Netflix vandeesmaand: Dié stroomdiens se eerste oorspronklike Nigeriese fiksiereeks, 'Blood Sisters', ’n nuwe Suid-Afrikaanse rillerreeks, 'Savage Beauty', en ’n fiktiewe vertelling van die man wat die term Stockholm-sindroom geïnspireer het.

Meer

Wat om te kyk op Showmax in Mei 2022

Wat om te kyk op Showmax vandeesmaand: 'Troukoors' loop weer hoog, 'The North Water' maak sy debuut, en die skreeusnaakse 'The Righteous Gemstones' keer terug.

Meer

‘Anatomy of a Scandal’: Dié kragtoer se houvas kan jy nie sommer afskud

'Anatomy of a Scandal' se ystergreep laat ses episodes na veels te min voel.

Meer
Sien alle opsies