Menu terloops
In Gons [21 Oct 2025]

En ‘Bravo!’ se Revlon-stylikoon is… 


Sy’s jonk, gemaklik met haarself – én baie stylvol. Dis Katryn Kruger (30) van Kaapstad wat pas as die ‘Bravo!’ Revlon-stylikoon aangewys is. 

En ‘Bravo!’ se Revlon-stylikoon is… 

Katryn Kruger, Bravo! Revlon-stylikoon, beskryf haarself as ’n model, mamma, koffiedrinker, boekwurm en motiveringspreker. 

Vir Katryn is styl ’n manier waarop jy jouself uitdruk. “Dis anders as mode, want mode kan jy altyd koop. Styl is hoe jy dit jou eie maak,” is haar uitgangspunt.

’n Bravo!-episode wat die aankondiging van die wenner wys, word op 13 November 2025 om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. 

Eiesoortige Katryn

Sy het van jongs af reeds haar merk op die modewêreld gelaat danksy haar eiesoortige styl en voorkoms. Die 15-jarige Katryn is destyds deur ’n modelagent in ’n winkelsentrum raakgesien, en op 16 het sy ’n kontrak met IMG Models gesluit, een van die grootste modelagentskappe ter wêreld. Dit was ook die jaar toe die toonaangewende modetydskrif British Vogue haar as “one of the best new faces” uitgesonder het. Kort voor lank het sy met wêreldbekende modehuise, waaronder Givenchy, Prada, Louis Vuitton, Dolce & Gabbana, Valentino en Ralph Lauren gewerk. 

Stylikoon, Katryn Kruger, Bravo, Bravo!, Revlon
Katryn Kruger saam met Bravo!-aanbieder, Ewan Strydom. Foto’s: Gys Loubser

Daar was ook veldtogte in samewerking met Oscar de la Renta, Dior, Prada en Coach. En die jong Kapenaar het ook gereeld in internasionale tydskrifte soos Vogue, Harper’s Bazaar, Elle en Marie Claire verskyn.

‘Onderbeklemtoonde, tydlose en ware estetiese styl’

Volgens een van die beoordelaars van die kompetisie, Paul Venter (vervaardiger van Bravo!), is daar met die Bravo! Revlon-stylikoonveldtog gesoek na ’n skynbaar moeiteloos goed versorgde persoon met ’n leefstyl en gedrag waarna mense sal opkyk – iemand wat jou respek en aandag verdien en nie afdwing nie. Nes Katryn.

Vir die modekenner en voormalige Elle-redakteur Jackie Burger was dit Katryn se besadigde selfvertroue wat uitgestaan het. Sy verpersoonlik onderbeklemtoonde, tydlose en ware estetiese styl. “Katryn herinner ons daaraan dat styl nie oor perfeksie gaan nie, maar oor teenwoordigheid.”

Stylikoon, Katryn Kruger, Bravo, Bravo!, Revlon
Vir die modekenner en voormalige Elle-redakteur Jackie Burger was dit Katryn Kruger se besadigde selfvertroue wat uitgestaan het.

Volgens Heather Goate, bemarkingsdirekteur van Revlon, vier die Bravo! Revlon-stylikoonkompetisie vroue wat hul eie unieke styl besit en trots hul persoonlikheid deur mode en grimering wys – in lyn met dit waarvoor Revlon staan. Dit onderskryf ook hul Live Boldly-filosofie.

“Suid-Afrikaanse vroue verstaan hoe om mode en grimering as ’n vorm van selfuitdrukking en krag te gebruik, en dit is iets wat Revlon met trots vier,” het sy gesê.

Die drie ander finaliste

  • Yasmin Furmie (61) is ’n inhoudskepper en sakevrou van Johannesburg wat sterk besig is om haar handelsmerk, SiSi, uit te brei. Haar styl is deur Jo-Ann Strauss, beoordelaar en voormalige Mej. Suid-Afrika en sakevrou, as elegant en edgy beskryf. 
  • Lezanne Viviers (31), ’n modeontwerper van Johannesburg wat haar handelsmerk, Viviers, in 2019 van stapel gestuur het. Volgens Heather Goate beskik sy oor ’n unieke voorkoms en wese. 
  • Elana Brundyn (55) van Kaapstad is ’n kunskurator, die voormalige uitvoerende direkteur van die Zeitz MOCAA-museum en ’n stigterslid van die Norval-stigting. Elana se tydlose en treffende styl word ook weerspieël in haar veelvlakkige kunsgalery, Brundyn Arts & Culture, in die Kaapse middestad, asook die uitsonderlike beeldetuin by die Boschendal-wynlandgoed.

’n Bravo!-episode wat die aankondiging van die wenner wys, word op 13 November 2025 om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uitgesaai. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

kykNET se nuwe mini-dramareeks is ’n verhaal van verlies, vergifnis en hoop

Twee mans se paaie kruis in ’n ondersteuningsgroep ná die verlies van geliefdes. kykNET se 'Elke donker wolk' verken hoe ’n onverwagse vriendskap ruimte skep vir vergifnis, genesing en hoop.

Meer

Rubriek: Gaan griffel in Ouma se resepteboek! ‘Kokkedoor: Klassiek’ is terug! 

Ná ’n voorskou van die eerste episode laat 'Kokkedoor: Klassiek' vir Marteni Burger verlang na haar ouma se resepte én sien sy uit na nog skeppies nostalgie - met ’n knippie kombuisdrama en verrassende kinkels daarby.

Meer

Van die veld tot die kelder – kuier dié November saam met VIA

Van wildplase en wynkelders tot huise met karakter: VIA se November-aanbod beloof vars ontdekkings. Kuier saam met Shari Kennedy, Leandie du Randt, Frank Rautenbach en JP Quickelberge, en leer ken die mense, stories en plekke wat Suid-Afrika so besonders maak.

Meer

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer
Sien alle opsies