Menu terloops
In Onderhoude [20 Okt 2025]

‘Boer soek ’n vrou’ se Arnold: ‘Ek dra geen kwaad teenoor Hannes nie’


Ja, Rudi se siel het diep met hom geresoneer, maar ‘Boer soek ’n vrou’ se Arnold glo steeds dat alles uiteindelik uitgewerk het “soos dit moes”.

Deur Annelene Oberholzer
‘Boer soek ’n vrou’ se Arnold: ‘Ek dra geen kwaad teenoor Hannes nie’

Sedert die 17de reeks van kykNET se gewilde maatsoekprogram Boer soek ’n vrou afgeskop het, was dit duidelik dat hierdie seisoen se boere sommer gou diep in kykers se harte ingekruip het. Soos ook die geval was met Rudi, die gay wildboer van Brits, wat aanvanklik gesukkel het om deur die gemeenskap aanvaar te word.

Maar toe die kreunende possakke by sy plaas afgelewer word, het hy sowaar van die meeste briewe ontvang van pasmaats wat graag sy hart wou wen. Onder een van die briefskrywers was daar ’n jong man genaamd Arnold – iemand wat bitter graag die boer van nader wou leer ken.

Die 35-jarige debiteure- en krediteureklerk van Pretoria het ’n passie vir die lewe en vir mense. Hy hou van mooi dinge – nie altyd duur goed nie, maar mooi dinge, het hy vertel. Roetine en netheid is vir hom belangrik en wanneer sy werksdag tot ’n einde kom, is daar verskeie dinge waarmee hy homself besig hou. 

Rudi en Arnold maak hart oop. Foto’s: Verskaf

Die selferkende melomaniac (iemand wat passievol is oor musiek) geniet dit ook om in die kombuis te eksperimenteer. Kuier saam met vriende oor ’n drankie is vir hom ’n gekoesterde tydverdryf omdat dit blywende herinnering en lag skep. En sy kompakte vriendekring is die familie wat hy kies.

As jong seun was hy op sy gelukkigste op sy oupa se plaas in Noordwes – en sy mees lojale vriend saam met wie hy die plaas op horings geneem het, was niemand anders as sy tweelingbroer nie. Saam het die twee beeste opgepas, boerbokke rondgejaag, hoenders gevoer en saam met die honde in die rivier geswem.

Deesdae is daardie laatmiddag-braai op ’n Sondag iets waarna hy uitsien.

Was jou inskrywing vir Boer soek ’n vrou die eerste keer dat jy so iets oorweeg het? En sal jy dit weer in die toekoms oorweeg?

“Ja, dit was die eerste keer dat ek aan ’n werklikheidsreeks op TV deelgeneem het. Dit was ’n unieke en waardevolle ervaring en ek het dit as iets heel besonders beleef. Ek het nuwe mense ontmoet en het baie geleer uit die proses. Of ek dit weer sal oorweeg, hang natuurlik af van die geleenthede wat in die toekoms opduik, maar ek is beslis oop vir nuwe ervarings en uitdagings.”

Hoe het dit vir jou gevoel toe jy een van die drie was wat deur Rudi plaas toe genooi is – het jy dit verwag?

“Eerlikwaar, ek het dit glad nie verwag nie. Ek was behoorlik stomgeslaan! Dit was vir my ’n baie groot verrassing en eer om een van die drie te wees wat plaas toe genooi is. Ek was oorweldig, maar terselfdertyd ook baie opgewonde. Dis ’n gevoel van trots, dankbaarheid en effense ongeloof terselfdertyd. 

“Ek het werklik nie verwag om só ver te kom nie, veral nie tussen soveel wonderlike mense wat ook vir Rudi ingeskryf het nie. Ek was opreg dankbaar vir die geleentheid om hom beter te leer ken en die ervaring op die plaas saam met hom te deel.” 

Boer soek 'n vrou
“Daar was ’n bietjie wrywing tussen my en Hannes, hoofsaaklik oor ons uiteenlopende persoonlikhede en hoe ons dinge benader het,” vertel Arnold.

Daar was ’n bietjie krapperigheid tussen jou en Hannes, veral oor die ouderdomsverskil tussen jou en Rudi. Was dit al geskilpunt tussen julle twee, of was daar meer agter die storie?

“Ja, daar was ’n bietjie wrywing tussen my en Hannes, hoofsaaklik oor ons uiteenlopende persoonlikhede en hoe ons dinge benader het. Ons kom uit verskillende generasies en soms het ons verskil oor sekere dinge. Maar ek respekteer hom steeds vir wie hy is. Dis die deel wat so ’n program interessant maak. Dit is mense met uiteenlopende agtergronde wat saam moet probeer sin maak van ’n unieke situasie.

“Ek dra geen kwaad teenoor Hannes nie, ek glo elkeen van ons het eenvoudig verskillend dinge ervaar en hanteer. Vir my gaan respek egter oor hoe mense mekaar hanteer, nie oor ouderdom nie. Ouderdom bring nie outomaties volwassenheid nie, dit is eerder hoe jy ander behandel en hoe jy jouself in situasies dra wat wys hoe volwasse jy werklik is.”

Het jou deelname aan die reeks vir jou tot ander insigte oor die liefde en verhoudings gebring?  

“Ja, dit het beslis my oë oopgemaak. My deelname het my nuwe insigte gegee oor die liefde en verhoudings. Die reeks het my geleer dat dit nie altyd gaan oor hoe dinge begin nie, maar oor hoe eg en eerlik jy is deur die hele proses. 

“Ek het besef dat ware konneksies iets is wat met tyd en opregtheid groei. Dit kan nie geforseer kan word nie en dit vind op ’n natuurlike wyse plaas wanneer twee mense mekaar regtig verstaan en respek vir mekaar het. 

“Ek het geleer dat liefde baie meer is as net aangetrokkenheid tot iemand. Dit gaan oor begrip, respek en hoe jy iemand laat voel. Ek het ook geleer dat eerlikheid en emosionele volwassenheid baie belangriker is as voorkoms of eerste indrukke.”

Boer soek 'n vrou, Arnold, Boer rudi, rudi
“Terugskouend sou ek dalk net nog meer van myself gewys het, dalk ’n bietjie meer oop gewees het oor hoe ek gevoel het,” het Arnold erken nadat Rudi eerder vir Hannes gevra het om langer op die plaas te kuier.

Dink jy daar was iets wat jy anders kon doen om langer op die plaas te bly?

“Ek dink elke ervaring bring geleenthede om te leer en te groei. Terugskouend sou ek dalk net nog meer van myself gewys het, dalk ’n bietjie meer oop gewees het oor hoe ek gevoel het. Ek het probeer om eg te bly en nie voor te gee nie. Maar ek glo alles het verloop soos dit moes. As iets bedoel is om te gebeur, sal dit gebeur. Ek is ontsaglik dankbaar vir hoe ver ek gekom het en wat ek uit die ervaring kon leer.”

Enige boodskap vir Rudi?

“Rudi se diepgaande siel het so diep met my geresoneer dat dit moeilik is om ten volle in woorde te omskryf. Hy het so ’n mooi hart en elke keer as hy praat, kan jy sy pragtige rein hart sien… Gosh! What an experience of note!

“Rudi, dankie vir jou professionele optrede in alle gevalle. Jy is waarlik ’n merkwaardige man met ’n buitengewoon-skaars hart. By jou het ek die vryheid gehad om my individualiteit uit te druk. Jy het my toegelaat om eenhonderd persent, sonder verskoning, my outentieke self te wees. Duisend maal dankie vir jou onbaatsugtige liefde en vriendskap die afgelope paar maande. Jy is een in ’n miljoen!

“Dankie dat ek in so kort tydperk myself deur jou oë kon sien. Dankie dat jy vir die spieël opgehou het, myself toegelaat het om my eie skoonheid raak te sien en my eie ware krag binne myself te ontdek.

“Rudi, ek sien uit om jou weer te sien en om saam met ’n glasie merlot in die hand te kuier en te lag. Pas jouself mooi op, wees goed vir jouself, want jy verdien alles wat mooi is in hierdie lewe. Geniet die laaste paar maande van 2025! Liefde en groete, Arrie.”

Ek het besef hoe belangrik dit is om eerlik te wees met jouself en ander. Ek het geleer dat jy nie almal se goedkeuring nodig het om jou eie pad te stap nie. Vir my was dit ’n les in selfvertroue, en om vrede te hê met wie ek is, sonder om te probeer om iemand anders te wees vir aanvaarding.

Arnold

Wat is jou raad aan voornemende deelnemers, ongeag man of vrou, aan Boer soek ’n vrou?

“Wees net jouself. Dis maklik om vas te kyk in die kameras of wat ander dalk gaan dink, maar dis jou ervaring. Leef dit ten volle. Gaan in sonder verwagtinge, maar met opregtheid. Bly getrou aan wie jy is, en moenie bang wees om jou ware self te wys nie. Dis ’n unieke ervaring wat jou baie oor jouself en oor mense leer.

“Bly eerlik, wees oop vir nuwe mense en nuwe perspektiewe, en onthou: selfs al vind jy nie liefde nie, leer jy altyd iets waardevols. Geniet elke oomblik, dit gaan vinniger verby as wat jy dink!”

Wat staan vir jou uit as die waardevolste les wat jy tydens die reeks geleer het?

“Sonder om dit soos ’n cliché te laat klink: Ek het besef hoe belangrik dit is om eerlik te wees met jouself en ander. Ek het geleer dat jy nie almal se goedkeuring nodig het om jou eie pad te stap nie. Vir my was dit ’n les in selfvertroue, en om vrede te hê met wie ek is, sonder om te probeer om iemand anders te wees vir aanvaarding.

“Ek het ook besef dat groei dikwels in ongemak lê, en dat eerlikheid met jouself altyd die begin van ware verbinding is. Ek het geleer dat egtheid altyd die sterkste indruk laat!”

Wat lê nou vir jou voor?

“Ek beplan om binnekort met my diploma in projekbestuur te begin, iets waarna ek baie uitsien. Terselfdertyd wil ek ook meer tyd spandeer om op ’n spirituele vlak met myself te connect, om meer gegrond te wees, my soul’s purpose beter te verstaan en oop te wees vir wat die heelal vir my inhou. 

“Ek wil 2026 bewustelik ingaan en eenhonderd persent my outentieke self te wees. Ek glo alles gebeur op die regte tyd en ek sien uit na wat volgende kom.”


Boer soek ’n vrou S17 saai uit op Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Nuwe episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Kyk ook Boer soek ’n vrou S14-S16 op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Lag, liefde en soveel meer: Ons kykNET-kyklys vir Oktober

Oktober op kykNET bring plaasromanse, slim speletjies en stories vir boekliefhebbers. 'Boer soek ’n vrou' se liefdeskeuses sorg vir afwagting, 'Haas se gat' speel met woorde en feite, terwyl 'Boekmerk' by skrywers en leeskringe kuier vir gesprekke oor Afrikaanse boeke.

Meer

’n Skokwending en gevaarlike versoekings vier hoogty in ‘Suidooster’ dié Oktober

Ou vetes vlam op, nuwe liefde vertroebel oordeel en ’n skokwending ruk een gesin se wêreld in Ruiterbosch. Dié Oktober loop spanning hoog in Suidooster. Hier is vyf storielyne wat jy nie wil misloop nie.

Meer

Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos op VIA in Oktober

VIA sorg in Oktober vir lekker kykstof met Neels van Jaarsveld se troeteldierstories, kombuiskuiers saam met Aneeka Papier en kookinspirasie van Herman Lensing. Jong kunstenaars wys hul staal in Gekies vir die kollig!, terwyl Die beste in die Noorde wegbreekidees bied. Huisgenoot: Ware lewensdramas keer ook terug vir sy twintigste seisoen.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
Sien alle opsies