Geen enkele episode van enige van die tot-nou-toe 17 reekse van kykNET se gewilde maatsoekreeks Boer soek ’n vrou, is voorspelbaar nie.
As daar nie ’n kinkel opduik aan die boere se kant nie, kom dit van minstens een van die pasmaats af. Soos daardie oproep wat Reandi Grey tydens die 11de episode van die huidige reeks ontvang het kort nadat sy van Pieter se plaas naby Richmond weggery het.
Sy het summier omgedraai en weer na die plaas teruggekeer waar Pieter, Elizma en Anzelle haar ingewag het. Elizma het sélf besluit om die plaas te verlaat nog voordat Pieter kon kies wie hy graag langer op die plaas wou hê – en sy het vir oulaas saam met Reandi van die plaas weggery.
Die 29-jarige boorling van Queenstown en oud-Kovsie is deesdae ’n geregistreerde bourekenaar in Stellenbosch. Sy vertel meer oor haar ervaring op die program.

Hoe maklik/moeilik was dit vir jou om daardie brief aan Boer soek ’n vrou te stuur? Hoeveel weergawes het jy saamgestel voordat jy eindelik die brief gestuur het – of was dit net een keer en daar is dit in die posbus?
“Ek het baie vrede gehad om in te skryf en ek wou graag gehad het Pieter moes ’n bietjie van my persoonlikheid in die brief kon sien. Ek het net my sussie, wat my die beste ken, gevra om dit te proeflees. En toe word die pakkie gestuur.”
Wat was die grootste rede agter jou besluit om in te skryf? Was dit Pieter se video of bloot net die besluit om ’n kans op die liefde te waag?
“Ek wou graag ’n kans op die liefde waag en dit was die grootste motivering waarom ek ingeskryf het. Ek het gevoel ek het werklik niks om te verloor deur in te skryf nie. Pieter se video het beslis ook ’n rol gespeel. Ek sou nie ingeskryf het as ek nie aanklank by een van die boere kon vind nie.”
As jy nou terugkyk na Elizma voor Boer soek ’n vrou en Elizma ná Boer soek ’n vrou – hoe het jou deelname aan die reeks jou perspektiewe rondom vriendskap en liefde verander?

“My perspektief rondom liefde het definitief verander. As die regte persoon oor jou pad kom, sal jy beslis weet. Net soos ek besef het met die proses dat die konneksie met Pieter nie daar was nie, het ek ook besef ek sal weet as dit daar is. Ten opsigte van vriendskap – ’n mens moet altyd oop wees om nuwe mense te ontmoet.”
Jy het self die besluit geneem om die plaas te verlaat omdat jy nie daardie ‘konneksie’ met Pieter kon voel nie. Dink jy onder ander omstandighede kon dit egter wel gebeur het?
“Ek dink selfs onder ander omstandighede sou ek steeds dieselfde gevoel het. Ek en Pieter het meer as genoeg tyd saam spandeer vir my om te kon optel of die konneksie tussen ons tot iets meer as net vriendskap sou lei.”
Wat is volgens jou Pieter se beste eienskap? En is daar enige boodskap vir hom?

“Pieter se beste eienskap volgens my is hoe hy omgee vir ander. Hy is werklik ’n opregte ou wat ander se gevoelens in ag neem en ook bo syne stel.
“My boodskap vir hom is dat ek hoop hy het uit die proses gekry dit wat hy wou gehad het. Hy verdien dit om gelukkig te wees. Dit was vir my baie lekker om hom te leer ken en tyd saam met hom op die plaas te spandeer.”
Watter oomblik op Boer soek ’n vrou was vir jou ’n hoogtepunt? En wat was minder aangenaam?
“Die aangenaamste was die braai met sy familie en vriende. Dit was ’n voorreg om hulle almal te kon ontmoet. Die mense was baie aangenaam en het my regtig welkom laat voel, ook as ek dalk deel sou word van hulle gemeenskap.
“Die onaangenaamste was seker toe ek moes huis toe gaan. Al was dit my besluit, bly dit maar vir my ’n baie moeilike keuse wat ek moes maak. En ek wou nie vir Pieter seermaak met my keuse nie.”
Jy was een van die min pasmaats wat huis toe moes gaan wat baie positief was oor die pasmaat wat langer aangebly het. Jy het Anzelle as ’n oulike meisie beskou. Hoe sal jy haar beskryf?

“Ek en Anzelle het goed oor die weg gekom. Dit was lekker om die journey met haar te kon deel. Sy het ingeskryf om liefde te vind en was dus opreg in alles wat sy gedoen het. Ek kon sien sy was aangetrokke tot Pieter en gun hulle twee dit om saam gelukkig te wees.”
Het jy ’n boodskap vir mense wat oorweeg om vir die volgende seisoen van Boer soek ’n vrou in te skryf?
“My advies sal wees dat jy regtig niks het om te verloor deur in te skryf nie. Daar is ’n sterk moontlikheid dat jy wel liefde kan vind in die proses. En selfs al daag die liefde nie op nie, leer jy baie van jouself. Boonop ontmoet jy ook ongelooflike mense. Ek het ’n paar goeie vriendinne in die proses bygekry.”
Hoe lyk die pad vorentoe vir Elizma? Gaan jy opgee op liefde? Of is daar dalk reeds ’n nuwe belangstelling op die horison?
“In hierdie stadium is daar nie enigiemand spesiaal in my lewe nie. Maar ek is steeds oop om liefde te vind. Ons almal se pad na die regte persoon loop net anderste. Ek glo ek is nog en route om by my persoon uit te kom.”
Boer soek ’n vrou S17 saai uit op Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Nuwe episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Kyk ook Boer soek ’n vrou S14-S16 op Showmax.