Die liefde is nie altyd vir almal beskore nie, selfs al is die versugting daarvoor groot – en dis natuurlik die rede hoekom duisende pasmaats vanuit alle uithoeke van die land weer vir die 17de seisoen van kykNET se gewilde maatsoekreeks Boer soek ’n vrou ingeskryf het.
Een van die pasmaats wat aan vanjaar se reeks deelgeneem het, het reeds ’n paar hekkies oorgesteek in haar soektog na die liefde, en natuurlik ook dié van ’n boer.
Lisa, die 28-jarige akte-sekretaresse van Oudtshoorn, se brief aan die oënskynlike skugter Pieter (29), ’n jong skaapboer van Richmond, het haar eerstens onder sy vyf potensiële pasmaats vir blitsafsprake by die Doolhof-wynlandgoed naby Wellington in die Boland laat opeindig.
Die volgende hekkie is oorgesteek toe sy een van die drie pasmaats was wat saam met Anzelle en Elizma na sy plaas in die Klein-Karoo genooi is. Die boer het toe van oor tot oor geglimlag, want die drie gaste was vir hom al te mooi.

Maar, het hy erken, daar was van meet af aan enetjie wat sy aandag bietjie meer getrek het as die ander twee.
Ongelukkig vir Lisa was dit nie sy nie – en het sy tydens die agtste episode die eerste pasmaat geword wat sy plaas moes verlaat.
Van afval tot uitval

Dit was juis na die vuurdoop waar die drie pasmaats afval moes bewerk en lekker in die kombuis met mekaar gekuier het, dat Pieter begin voel het Lisa is die een wat huiswaarts moes keer. Tog was hy deurentyd bang dat iemand gaan seerkry. Soos wat wel met Lisa gebeur het.
In die motor op pad weg van die plaas af, kon sy nie haar trane keer nie. Sy wou baie graag langer aanbly en dit was tog asof daar van Kupido se pyltjies haar reeds skrams begin tref het, al was dit nog nie ’n volle kolskoot nie.
Lisa het vertel dat sy juis tot Pieter aangetrokke gevoel het omdat hy na “ons kerk se mense” vir haar gelyk het.

“Hy is iemand wat maklik by my en my mense en my omgewing sal kan inskakel. My persoon moet ‘n lékker mens wees, en dit is Pieter beslis,” het sy gesê.
Hartseer
Alhoewel Pieter se besluit om haar huis toe te stuur, vir haar as ’n groot skok gekom het, het sy wel gevoel dat hy nie haar hart gebreek het nie. Hartseer was sy beslis, maar dit het alles te doen gehad met die ander gevoelens wat dit in haar ontlont het, en ook die feit dat sy gevoel het asof haar instink haar in die steek gelaat het.

“Ek was meer hartseer en teleurgesteld omdat daar wéér ’n deur toegegaan het vir my. Ja, ook hartseer omdat ek hierdie keer weer nie ’n kans op liefde gekry het nie, en omdat ek weer nie gekies is daarvoor nie.
“Ek voel ook hartseer omdat dit steeds nie my tyd was nie. Dit het vir my op daardie spesifieke oomblik gevoel dat liefde nie vir my beskore is nie,” het sy na die tyd erken.
“Tog gebeur alles soos wat dit moet. Die Man daarbo weet wat hy doen.”
Van senuwees wat lol tot hernude selfvertroue
Al die onderhoude en alomteenwoordige kameras het haar aanvanklik erg ontsenu – en sy het gesê dat mense wat haar goed ken, dit duidelik raaksien tydens haar eerste paar verskynings op TV.
“Met tydsverloop het ek wel meer gemaklik geraak met alles en dit selfs baie geniet.Dit was ’n onvergeetlike ervaring, een waarvoor ek diep dankbaar is. Daar is min mense wat die geleentheid gebied word om deel te wees van hierdie proses.
“Om sélf deel te kon wees van ’n reeks wat ek van seisoen na seisoen volg, was werklik spesiaal,” het sy oor haar deelname aan Boer soek ’n vrou gesê.
En, het sy met ’n glimlag laat hoor: “Ek lyk eintlik glad nie te sleg op TV nie – ek mag dit dalk oorweeg om van beroep te verander.”
Lisa het ook heelwat lof vir die produksiespan en programaanbieder Reandi Grey.

“Almal weet presies wat op die regte tyd gedoen moet word en daar is baie mooi na ons gekyk. Daar gaan soveel tyd, moeite en sweet in . . veral in die warm Karoo. Sommige dae het ons ure lank geskiet, en dan word daar net 10% gewys van wat ons werklik gedoen het.”
Wat van Pieter?
Sy het hom, nes hul almal, ook maar erg op sy senuwees gevind tydens die ontmoeting in die Kaap.
“Maar op die plaas kon ek sien hy is beslis meer op sy gemak, omdat hy in sy space is. Pieter is absoluut in wese ’n Karoo-boer, en een wat sy vrou op die hande sal dra. Die Pieter op die plaas wat die kykers op die TV sien . . . dis werklik wie en wat Pieter is.”
Die pad vorentoe – met of sonder liefde?
“Ek het geleer ek kan wel op my eie vlieg en ek sal fine wees. En belangrik: moenie verwagtinge koester nie. Wees altyd net 100% jouself. Ek het besef ek moet ook nie bang wees om ’n kans te vat nie want soms is dit tog nodig om buite jou eie gemaksone te beweeg.”
Maar van een ding is sy seker – sy sal nie weer vir die reeks inskryf nie. Dit het fisies en emosioneel ’n hoë tol geëis, alhoewel sy ander potensiële pasmaats aanmoedig om tog wel vir Boer soek ’n vrou in te skryf.
“Dit is ’n onvergeetlike en lekker reis. Jy maak soveel herinneringe bymekaar en leer soveel mense ken wat jy andersins nooit sou ontmoet het as jy nie ’n kans gewaag het nie.”
Sy het beslis nog nie tou opgegooi om liefde te vind nie.
“As twee mense vir mekaar bedoel is, dan sal dit gebeur op God se tyd. Nie ons tyd nie.”
Boer soek ’n vrou S17 saai uit op Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Nuwe episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Kyk ook Boer soek ’n vrou S14-S16 op Showmax.