In die sesde episode van die huidige seisoen van die maatsoekreeks Boer soek ’n vrou het dit tyd geword vir die vyf boere om hul topdrie-pasmaats aan die plaaslewe bekend te stel.
In verlede week se episode moes die vyf boere nie net tent opslaan saam met hul vyf potensiële pasmaats nie – hulle moes ook twee huis toe stuur. Emosies het hoog geloop, maar nou het dit tyd geword om vorentoe te kyk. En dis ’n uitdaging op sy eie, want, soos Boer soek ’n vrou-aanbieder Reandi Grey sê: “As dit kom by die liefde, is niks eenvoudig nie.”
Sy het ook opgemerk dat die stof hier nie maklik gaan lê nie. “Drie pasmaats vir een boer se hart? Ek voorspel hope passievolle emosies.”

En natuurlik was die pasmaats ewe opgewonde om weer ná ’n tydsverloop die boere te sien. Dié keer in hul “natuurlike habitat”, soos sommige na die plase verwys het. Onder van die pasmaats het die senuwees gelol omdat hulle, ten spyte van hul groot belangstelling in die boere, bang was vir die moontlikheid van seerkry.
Terwyl daar ligweg geskerts is voor en tydens die gaste se aankoms, was die tasse allesbehalwe lig. Daar is gróót en swáár gepak – nie net aan drome nie, maar ook aan uitrustings vir die week.
Dit wikkel op die plase
Evert (38), ’n makadamia-, sitrus- en wildboer van Tshipise, Limpopo
Wie het kom kuier? Lauren, Theresa en Elouise.
Evert het erken sy hart het maar vinnig geklop toe hy besef het die dag het aangebreek om sy gaste te ontvang. Maar dit was ook vir hom ’n goeie ding, en hy het dit vergelyk met die afwagting wat rondom Kersfees heers.
Maar hoekom het Reandi vir Evert en Elouise sommer met die instapslag eenkant toe geneem? Ongelukkig moes Elouise ’n moeilike keuse maak – en dit het beteken dat sy vanweë haar werksverpligtinge nie op die plaas kon aanbly nie. Maar Evert het haar genooi om tog wel die aand daar te oornag voordat sy huiswaarts gekeer het.
’n Wildrit in die middel van die dag – ’n snikhete dag – was een van die onbeplande ervarings wat op die pasmaats gewag het. Was dit dalk so bloedig warm dat een van die skaam pasmaats se skanse gesmelt het?

En Evert? Hy was hartseer om Elouise te laat gaan, maar hy het ook gevoel dat Lauren en Theresa beslis goeie geselskap is.

Rudi H (56), ’n boerbokboer van Windsorton, Noord-Kaap
Wie het kom kuier? Paola, Ella en Lizelle.
Hy het baie daarna uitgesien om sy drie gaste beter te leer ken. Gaan ’n week lank of kort genoeg wees? Sommer gou-gou het Rudi H sy gaste na die bokkraal geneem waar hulle aan die werk gesit is om die bokke te oormerk.
Een van sy potensiële pasmaats se plaas-ervaring het hom vroeg reeds beïndruk. Nie dat die ander twee hom teleurgestel het nie.

Willie (26), ’n makadamia- en wildboer van Badplaas, Mpumalanga
Wie het kom kuier? Cilmari, Denike en Yvonne.
Selfs Willie, wat gewoonlik vol selfvertroue oorkom, het erken sy knieë voel maar rubberig met wat voorlê. Maar dat hy opgewonde was oor die pasmaats se koms, was duidelik. Nadat die gaste se tasse rusplek gevind het, het hy hulle na die makadamiabome geneem en touwys gemaak oor hoe die proses werk.
Dis mos ’n plaas, en daar moet gewerk word. Hy het dus die drie geleer om trekker te ry en te help om die gras te sny.

Rudi (47), ’n toerisme- en wildboer van Beestekraal, Noordwes
Wie het kom kuier? Nelius, Arnold en Hannes.
Rudi kon nie wag vir sy pasmaats om op te daag nie. Hy het soveel drome en wense, en sy soeke na iemand om sy visie met hom te deel, het die botoon gevoer.
Teen laatmiddag het die span lekker rondom ’n lieflike kampvuur gekuier. Maar Rudi het dit van meet af duidelik gemaak dat hy ’n gelyke hoeveelheid tyd met elkeen van sy gaste beplan. Hy het gevoel hy het te veel respek vir elkeen van hulle om voorkeur aan een bo die ander te gee.

Pieter (29), ’n skaapboer van Richmond, Noord-Kaap
Wie het kom kuier? Anzelle, Elizma en Lisa.
Pieter was hoogs in sy noppies met die drie kuiergaste, en hy dink hulle het net mooier geword ná hul vakansie. Maar dit het hom nie gekeer om hulle van die Karoo-stof te laat inasem toe hy hulle plaaswys gemaak het nie.
Nie eens ’n skop deur ’n skaap kon een van die pasmaats se opwinding demp nie. En ná ’n lang dag op die plaas het die viertal heerlik in die plaasdam gaan afkoel met ’n koel lafenis in die hand.
Tog het hy ’n stille stryd in sy hart so tussen alles deur gevoer. Hy is bang iemand gaan seerkry, al besef hy dis waarskynlik onafwendbaar.

Wag en hoop
Teen die einde van die episode het dit duidelik geraak dat Cupido reeds die eerste dag sy vlymskerp pyltjies op van die boere en hul pasmaats afgevuur het. Hier en daar lyk dit of iemand ook reeds getref, of ten minste gekwes, is – maar daar’s nog ’n paar dae oor.
“ ’n Bespikkelde hemelruim knipoog so af en toe vir ons potensiële paartjies. Ek wonder of ons pasmaats daai een ster gaan vind wat die rigting na hulle boer se hart sal aanwys. Al wat ons kan doen, is wag – en hoop,” was Reandi se samevatting van hoe die hartsake staan.
Boer soek ’n vrou S17 saai uit op Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Nuwe episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Kyk ook Boer soek ’n vrou S14-S16 op Showmax.