Met die afskop van die huidige seisoen van Boer soek ’n vrou was daar baie hoopvolle harte wat woorde laat wip het in hul eerste kennismakingsbriewe. Min het die briefskrywers geweet wat op hulle sou wag as hulle deur “hul” boer gekies word.
Een van hulle was Yvonne (23) wat besig is met haar meestersgraad in chemie aan die Universiteit van Pretoria.
Toe Willie in die sewende episode kort en kragtig haar naam genoem het as die eerste pasmaat wat haar tasse moet maak, het sy op pad huis toe tot groot vermaak van die programaanbieder, Reandi Grey, gesê: “Ja, vir iemand wat in chemie werk, kan ek sê, ‘no chemistry’.” Maar sy het gesê sy het vrede in haar hart oor hoe sake nie vir haar uitgewerk het nie . . .
Sy het vir Terloops meer oor haar ervaring vertel:
Hoe sou jy jou algehele ervaring op Boer soek ’n vrou beskryf?
“Ek sal my ervaring as ’n positiewe een beskryf. Dit was regtig ’n belewenis om deel van die program te kon wees – van die ongelooflike mense wie ek ontmoet het, tot die geleentheid om te sien hoe dinge agter die skerms werk.”
Wat het jou die meeste verras oor die reeks en die produksieproses?
“Dit was vir my interessant om te sien hoe die verfilming plaasvind en hoe tegnies die hele proses met kameras en klank is, iets waarvan baie mense glad nie eers bewus is nie.”
Was die ervaring anders as wat jy verwag het toe jy ingeskryf het?
“Ek het oop-kop ingegaan met die houding dat enigiets moontlik is – van glad nie gekies te word nie tot om dalk eerste huis toe te gaan. Ek dink dit help altyd om ’n positiewe uitkyk te hê, maak nie saak hoe dinge uitwerk nie.”

Wat het jou aanvanklik na Willie aangetrek?
“Wat my opgeval het, is sy liefde vir sy familie en sy sterk ambisie”.
Is daar iets oor Willie wat jy nou anders verstaan ná hierdie ervaring?
“Al het hy in die video baie ernstig voorgekom, het ek gou agtergekom hy het eintlik ’n goeie sin vir humor.”
Wat het hierdie ervaring jou oor jouself geleer?
“Hierdie ervaring het my ook geleer om my identiteit net in die Here te vind, en om te besef dat dit nie saak maak wat ander van my dink nie, maar slegs wat die Here se opinie oor my is.”
Hoe het dit gevoel toe jy hoor jy is nie gekies om voort te gaan nie?
“Dit was natuurlik nie lekker om te hoor nie, maar ek het baie vrede daaroor gehad in die oomblik. Ek glo Willie is ’n goeie man, maar ek het besef ons is nie vir mekaar bedoel nie, en ek dink hy het beslis die regte besluit geneem.
“Dit het my nie heeltemal onkant gevang nie, ek het dit tot ’n mate verwag.”
As jy die kans gehad het, wat sou jy nog graag aan Willie wou sê?
“Een ding waaroor ek spyt is, is dat ek nooit vir hom dankie kon sê vir al sy moeite nie.”
Was daar ’n onvergeetlike oomblik agter die skerms wat vir jou uitgestaan het?
“Daar was nie een gróót oomblik wat uitgestaan het nie, maar ’n hele paar klein oomblikke, veral die kere wat ons almal lekker saam kon kuier en lag. Dit was ook onvergeetlik om al die pasmaats te leer ken en tyd saam met hulle deur te bring.”

Sou jy dit weer doen as jy die kans kry?
“As ek die kans sou kry om terug te gaan, sou ek dit beslis weer doen. Ek glo ’n mens moet nooit spyt wees oor jou keuses nie, daar is altyd ’n motivering vir die besluit.”
Het hierdie ervaring verander hoe jy oor liefde en verhoudings dink?
“Die program het my definitief geleer watter vrae ’n mens vir jouself moet vra wanneer jy op soek is na liefde. In dieselfde asem het dit nie noodwendig verander oor hoe ek oor liefde dink nie. Dit het eerder ’n insiggewende bydrae gemaak.”
Boer soek ’n vrou S17 saai uit op Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Nuwe episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Kyk ook Boer soek ’n vrou S14-S16 op Showmax.