Menu terloops
In Onderhoude [15 Sep 2025]

‘Boer soek ’n vrou’ se Nelius vertel meer oor sy ervaring: ‘Vertrou die Here’


“Die Here weet wat sy plan is met ons, die Here weet wat die passie is wat ons het. Ons hoop net dat Rudi gaan oukei wees, want hy is in goeie hande,” was Nelius se reaksie nadat sy tyd saam met boer Rudi op ‘Boer soek ’n vrou’ tot ’n einde gekom het. 

‘Boer soek ’n vrou’ se Nelius vertel meer oor sy ervaring: ‘Vertrou die Here’

In vanjaar se seisoen van Boer soek ’n vrou, was Rudi (47), ’n toerisme- en wildboer van Beestekraal daar in Noordwes se wêreld, onder die top-5 boere was wat die meeste briewe ontvang het. 

Een van die briefskrywers wat die blitsafsprake oorleef het en later plaas toe genooi is, was die 38-jarige Nelius van Nortchliff in Johannesburg. Nelius is die operasionele bestuurder van die borskankerorganisasie PinkDrive.

Ongelukkig was Nelius die eerste pasmaat wat in die sewende episode deur Rudi versoek is om die plaas te verlaat. “Die Here weet wat sy plan is met ons, die Here weet wat die passie is wat ons het. Ons hoop net dat Rudi gaan oukei wees, want hy is in goeie hande,” was Nelius se reaksie.

Hy het vir Terloops meer oor sy ervaring vertel: 

Hoe sou jy jou ervaring op Boer soek ’n vrou beskryf?

“Ek dink min mense besef wat die proses alles behels. En dat ’n mens regtig respek kry vir die proses. Jy word in ’n boot gesit saam wildvreemde mense, en jy kan net staatmaak op jouself en wie jy is. 

“Die wêreld is klein, en iewers is iemand connected met iemand anders. Dit was voorwaar iets om te ervaar hoe mense kan wees, hoe hulle optree en in die oomblik net die uitdaging aanvaar. 

“Jy kon die missie om liefde te vind van dag een af optel – vandat jy die oproep gekry het tot waar jy in die bakkie moes klim om huis toe te gaan. Die produksiespan se harte as die hele tyd saam jou om liefde te vind.” 

Wat het jou die meeste verras oor die reeks en die produksieproses?

“Ek was verras hoe vinnig dinge gebeur. Ek was nie daarop voorbereid dat wanneer ek nie voor die kameras is nie, ek myself van kos moes voorsien en versorg. En dit ver buite ’n dorp uit sonder vervoer. 

“Dan kan jy ook sien hoe klieks gevorm word. Maar op die einde van die dag gaan dit alles oor wat jou gesindheid is. Kan jy planne maak as jy nou op die plaas moet gaan bly? Kan jy op jou eie twee voete staan, besluite maak en steeds aangaan? 

“Wat ek wel geniet het van die proses en reeks, was die omgee van die filmspan. Die manier hoe hul werk. En natuurlik die eindproduk op TV. Dit wys regtig die mooi van waar ons was. Vanjaar het dit vir my gevoel of hulle die program werklik mooi gemaak het om sover moontlik die beste van elkeen van ons te wys.”

Boer soek n vrou, Nelius
“Ek is ’n gelowige mens, en vertrou die Here en die proses,” sê Nelius oor hoe hy dit hanteer het nadat Rudi hom nie genooi het om verder op die plaas te kuier nie. Foto’s: Skermgrepe

Was die ervaring anders as wat jy verwag het toe jy ingeskryf het?

“In die Kaap kan ek sê ek dink ek was gemaklik met dit. Die plaas-week het ek nie als verwag wat gebeur het nie, veral nie dit wat agter die skerms gebeur het  nie. Daar was selfoon-probleme, ons het verdwaal op pad na plekke toe en veral die groot een: die curve ball om uitgestem te word voordat ek nog alleentyd met Rudi kon hê om ander vrae te kan inwerk.”  

Wat het jou aanvanklik na Rudi aangetrek?

“Sy manier van praat, hoe hy met sy werkers en span praat op die plaas. Jy kan die liefde en opregte omgee in sy stem hoor. En jy kan dit sien in sy menswees. Hy praat reguit en draai nie doekies om nie. As ’n mens sy video gekyk en na sy radio-onderhoude geluister het, het jy aanklank by hom gevind . . . en tuis en veilig gevoel. 

Ek is ’n gelowige mens, en vertrou die Here en die proses. Ek het die ander deelnemers se arms omhoog gehou en van die dames in die Kaap, asook die manne, bly motiveer dat alles oukei gaan wees. Ek was teleurgesteld, want ek het dit glad nie sien kom nie.

Nelius

“Ek het gehou van die mens wat skyn van binne en wou graag die hartklop van die persoon ervaar. Ek wou die mens leer ken wat ek op die TV en tydens sy radio-onderhoude gesien en gehoor het. 

“Rudi is nie ’n projek waaraan gewerk moet word nie. En hy soek nie iemand aan wie gewerk moet word nie. Hy soek ’n lewensmaat vir opregte liefde uit die hart uit, iemand vir wie hy is as mens en nie net wat hy kan en wil bied nie. 

“Daar is twee mense saam in ’n verhouding, nie net een wat moet gee en voorsien nie. Ek hou van sy standvastigheid.”

Voel jy dat jy die “regte” persoon agter die boer wat ons op TV sien, leer ken het?

“Ek dink beslis so, ja. Regverdig, op die man af, hy sê ’n ding soos dit is en hy kan op sy voete dink. Hy handhaaf balans en gee regtig om vir almal wat om hom is. “

Is daar iets oor Rudi wat jy nou anders verstaan ná hierdie ervaring?

“Ek verstaan hy is meer ’n in-persoon mens wat one-on-one verkies, en natuurlik glad nie lief vir ’n selfoon nie.” 

Wat het hierdie ervaring jou oor jouself geleer?

“Ek is beslis sterker as wat dit mag voorkom. Ek het nie nodig om te baklei vir ’n plekkie onder die son nie. Ek is uniek en verstaan dat nie almal my sal verstaan nie. Ek het ook geleer dat bloot net my teenwoordigheid mense gemaklik laat voel met die wete hul kan my vertrou. Ek is beslis ’n versorger.” 

Hoe het dit gevoel toe jy hoor jy is nie gekies om voort te gaan nie?

“Ek is ’n gelowige mens, en vertrou die Here en die proses. Ek het die ander deelnemers se arms omhoog gehou en van die dames in die Kaap, asook die manne, bly motiveer dat alles oukei gaan wees. 

“Ek was teleurgesteld, want ek het dit glad nie sien kom nie. En op daai oomblik het ek net besef, nou is dit jy vir jouself, en soos jy ander se gemoed en arms omhoog gehou het, moet ek nou dit vir myself doen. En ek het myself gebly, so bietjie teen die reëls gegaan toe ek, in plaas daarvan om dadelik vorentoe te stap, teruggedraai het en die ander twee pasmaats eers gegroet het. Hannes se gesig het als gesê; hy was geskok. Maar weer kon ek hom troos en sê, ‘Als gaan oukei wees.’ 

Boer soek n vrou, Nelius
Nelius en Rudi groet…

Was jy verras deur Rudi se besluit?

“Baie verras. Eintlik heeltemal uit die veld geslaan. Soos wat jy jou klere pak, begin die dag se gebeure deur jou kop spoel, en jy begin dan goed sien wat tekens kon wees jou tyd op die plaas raak min. Dan dink jy weer aan dinge wat vir jou gesê was tydens middagete en vroeg die oggend. Dan maak niks weer sin nie. 

“Maar geskok vir seker. In die water inspring was vir hom reeds ’n teken dat ek nie net ’n grapjas is nie. Ek kan ook ernstig wees en terselfdertyd iets so impulsief doen soos om in ’n plaasdam te spring en deur te swem. 

“Hy wou kyk wie volg hom om in te spring en ek was kort op sy hakke. So, die klein goedjies wat gesê was en gebeur het, het my sprakeloos oor sy besluit gehad.” 

As jy die kans gehad het, wat sou jy nog graag aan die boer wou sê?

“Bid altyd deur. Daar gebeur goed wat jou aandag aftrek om gefokus te bly. Maar mens moet altyd biddend bly. 

“Ek is nie kwaad vir jou nie, Rudi. En dink na die proses verby is, sal ons weer kuier. En tien teen een lag oor alles. Jy het ingeskyf om liefde te vind, moet nie dat aksies maak dat jy opgee nie. Hou aan om die voorbeeld te wees in die samelewing waar jy is. 

“Ek weet jy is trots op jouself en wat jy bereik het. Maar laat toe dat ander ook help. My vrae langs die kampvuur en in die rivier was nie beantwoord nie. Laat sak die mure en laat toe dat iemand jou liefhê sonder voorgee. Gee kans en vertrou.” 

Was daar ’n onvergeetlike oomblik agter die skerms wat vir jou uitgestaan het?

“Daar was so paar wat goeie tye was, en dan ’n paar wat nie so aangenaam was nie. Ek moet sê toe ons verdwaal het en vreemde mense moes vra vir rigting, was dit vir my lekker. Rudi moes so ’n bietjie beheer verloor sodat ons saam rigting kon kry as span. 

“Ek kon vir hom sy medisyne gee op die uur nadat hy siek begin raak het. Daar en dan kon ek vir hom wys dat my hart vol omgee is en dat ek ook kan voorsien.” 

Sou jy dit weer doen as jy die kans kry?

“Ek sou, ja. Dit was lekker. Tot vandag toe het ek kontak met van die vroue wat deel was en ons top-3 manne het gereeld kontak. Dit word ’n gemeenskap van sy eie om mekaar te ondersteun en in te check dat almal nog oukei is. 

Het hierdie ervaring verander hoe jy oor liefde en verhoudings dink?

“Ek het nog altyd my selfde siening oor verhoudings en liefde. Soos ek in die derde episode gesê het: Jy het ’n sterk fondasie nodig. As jy inkom met verkeerde bedoelings of voornemens, dan is daar reeds krake. Nie elke verhouding lei na liefde nie. Maar ná jare het ek besef dit is die moeite werd om myself weer oop te maak vir liefde, want elkeen verdien om lief gehê te word. Jy moet net seker maak die liefde is wedersyds.” 


Boer soek ’n vrou S17 saai uit op Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Nuwe episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Kyk ook Boer soek ’n vrou S14-S16 op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Binnelanders’-kykgids vir Augustus 2026

Die waarheid oor ’n dokter lei tot ’n dramatiese wending en Joe is desperaat om vrae oor sy identiteit te beantwoord. Dít en nog meer is wat op ‘Binnelanders’-kykers vandeesmaand wag.

Meer

Jou ‘Diepe Waters’-kykgids vir Augustus 2026

Jacques en Theresa se groot dag breek aan, terwyl Karla en Arno nie tot ’n vergelyk kan kom nie. Hier is waarna 'Diepe Waters'-kykers in Augustus kan uitsien.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir Augustus 2026

Mike maak (weer) droog, Kaashifa vind iets skokkend uit en die Samsodiens sien rooi... Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in Augustus kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies