Elmarie “Ella” Laubscher is ’n boorling van Pretoria wat in Sabie grootgeword het. Deesdae bevind sy haar in die Strand in die Wes-Kaap waar sy onlangs haar 50ste verjaardag gevier het. Twee van haar kinders is reeds getroud en sy spog al te lekker met haar tweejarige kleindogter.
Ella vertel sy was 30 jaar lank betrokke by aankope – van hoenderplase tot die lugvaart. Maar toe het sy in die hoësorgeenheid beland waarna sy met ’n chroniese siekte gediagnoseer is. Dit het haar voete onder haar uitgeruk. Sy moes haar hele lewe weer herbou en ook ’n waardebepaling doen van wie sy is sonder ’n beroep. Dit was nie maklik nie, maar dit het haar op die pad van berading en motivering geplaas.
Annelene Oberholzer het met Boer soek ’n vrou se Ella ná die gebeure van vandeesweek se episode gesels:
Hoe was dit vir jou om daardie brief aan Rudi H te stuur? En is jy vandag spyt jy het dit gedoen?
“Om my eie nuwe weg oop te kap het my baie oor boerdery laat dink en ek het ook besef hoeveel wisselvallige elemente daar is waarmee boere daagliks te doen kry. Hierdie bewuswording het dit vir my maklik gemaak om ’n brief te skryf, veral omdat die rol wat boere in ons land speel nog altyd vir my bewonderenswaardig is.”

Wat was die grootste stukrag agter jou besluit om in te skryf?
“Daar was baie van Rudi H se video wat vir my uitgestaan het. Hy het genoem dat dit vir hom ’n seën was dat hy en sy broer die plaas kon koop. Verder het hy verwys na dankbaarheid wat ook ’n indikasie van sy geloof was. Dan is daar ook sy spesiale verhouding met sy dogter en hoe diep hy by sy gemeenskap betrokke is. Rudi H het wel ’n ernstige kant maar daardie glinstering in sy oë het verklap dat hy ook ondeund kan wees.”

As jy nou terugkyk na Ella voor Boer soek ’n vrou en Ella ná Boer soek ’n vrou – hoe het jou deelname aan die reeks jou perspektiewe rondom vriendskap en liefde verander?
“Om iemand berading te gee ná die afloop van ’n liefdesteleurstelling en om iemand se drome en hoop te hoor in ’n proses waarby jy persoonlik betrokke is, is wêrelde van mekaar verwyder. Elkeen van ons het ingeskryf omdat daar iets was wat ons in ons eie wese aangeraak het.
“In hierdie proses het baie van ons ook ons hartseer en ons drome gedeel. Dit het ook die besef meegebring dat alhoewel ons dames vir Rudi H ingeskryf het as gevolg van ons belangstelling in hom, ons geensins geregtig op sy aandag was of ’n verhouding met hom kon eis nie. Dit het gemaak dat ek vriendskappe kon vorm. Die proses het my weereens laat besef dat jy weerloos moet wees in ’n verhouding en vriendskappe as jy iets besonders daaruit wil bou.”
Hoe diep het jy vir Rudi H begin voel? Sou jy jouself op die plaas kon sien?
“Ek kon myself op die plaas en in die gemeenskap sien. Daar is my omgeehart en ook my kennis wat ek kon inspan om aankope vir die plaas te doen. Dis nie aldag dat ’n vrou soos ek, wat nie op die plaas bly nie, weet wat alles gaan nodig gaan wees om ’n boorgatpomp te vervang nie.
“Ek het die middag voordat ek huis toe is wel oop kaarte met Rudi gespeel. Ek het respek vir hom as mens en sal hom graag beter wil leer ken, maar ek is nie verlief op hom nie. Omdat vertroue vir Rudi H iets is waarmee hy sukkel, glo ek dat jy niks op ’n fondasie van leuens kan bou nie. Juis daarom was dit vir my belangrik om eerlik te wees oor hoe ek voel.”
Ek het soveel mense ontmoet wat verandering en geleenthede in my lewe te weeg gebring het. Ek het nou wel nie die boer se hart gewen nie, maar dit wat ek geleer het en die nuwe mense in my lewe is beslis meer as wat ek myself voor die proses kon indink.
Elmarie “Ella” Laubscher
Wat is volgens jou Rudi H se beste eienskap? En is daar enige boodskap vir hom?
“Rudi se omgeehart, sy geloof en ook sy bereidwilligheid om daar te wees vir ander daar, is vir my beslis sy mooiste eienskappe.
“Ek voel wel dat die atmosfeer op die plaas daartoe gelei het dat ek nie die ware Rudi H en hy nie die ware Ella leer ken het nie. Daar was duidelik ’n verskil te bespeur toe hy hom eers tussen sy hartsmense bevind het. My mense sal vinnig vir jou vertel dat jy my gewoonlik eers uitbundig hoor lag voor jy my sien.
“Ek weet nie waar Rudi H homself in sy liefdeslewe bevind nie. Rudi H, jy en die mense wat jou help kies het aan pasmaats, het na soveel meer as net die uiterlike gekyk. Volgens my was dit ’n eerste in Boer soek ’n vrou se geskiedenis. Dit het ons pasmaats en die kykers laat kopkrap oor die tipe vrou waarna jy opsoek is.
“My rol in jou soektog na die liefde is vandag verby. Ek het egter vrede in my hart oor my betrokkenheid in jou soektog en wens jou/julle net die beste in die lewe toe.”
Watter oomblik op Boer soek ’n vrou was vir jou die beste? En ook die onaangenaamste?
“Om die boerbok-lammetjie vas te hou was beslis een van my gunsteling-oomblikke. Diere kruip vinnig in my hart in. Soos Rudi se hond Zuka wat in die rivier af huis toe swem as hy per ongeluk by die bure toegemaak word ná hy self besluit het om daar te gaan kuier.

“Dan is daar spesiale Bobbie wat buite my kamer geslaap het. Hy kry soveel liefde, maar hy hou homself maar eenkant. Ek het tot oor my ore toe verlief geraak op Annatjie von Below se huis, tuin en kuns. Sy het ’n ongelooflike mooi hart vir ander.
“Ek het vir die klankmanne ná afloop van die kerkdiens om verskoning gevra omdat ek so begeesterd saamgesing het. Ek het sommer heeltemal van my mikrofoon vergeet. Die lag en gesels met die filmspan gaan my nog lank bybly. So ook die respek vir hoeveel harde werk dit vat om die reeks te produseer.
“My besoek aan The Bridge se nie-winsgewende projek in Hartswater sal ook altyd deel van my bly. Kinders lê my na aan die hart. Volwassenes kan ’n weg vind of omstandighede verstaan, maar ’n kind is so weerloos.
“Om te sien wat hulle met bitter min infrastruktuur en die tekort aan die nodige hulpmiddels vir elke kind doen, het my diep geraak. ’n Kind sal altyd die mense onthou wat in hulle geglo en bygestaan het. Daar is soveel nood, veral vir kinders met leer-agterstande, maar die staat alleen gaan nie die mas opkom nie. Ons moet betrokke raak waar ons kan.
“Dan was daar die grade wat die hoogte ingeskiet het in Windsorton. Dit het daartoe gelei dat my kleredrag moes oordink. 47° C het beteken dat ons almal blink gesiggies gehad het. Ek hou van vroulike klere maar kantbloesies en rokke sou nie deug op die plaas nie.
“Om so koel moontlik aan te trek en nie dwars in die spieël te kyk nie, het egter daartoe gelei dat my witbroek omtrent opslae veroorsaak het. 118-duisend keer. Die ironie is dat ek gewoonlik bekend is vir my goeie kleresmaak. Duidelik het ek raad nodig as dit by klere vir die plaas kom. Ek het egter besef dat ek soveel meer is as die klere wat ek dra en dat niemand perfek is nie. Ons wys gewoonlik net die ‘perfekte’ oomblikke.
“Die atmosfeer wat daar was, het dinge met tye moeilik gemaak. Ek wat Elmarie is, is ’n vredemaker en ek hou nie van konflik nie. Humeure het ongelukkig ontplof en dit was glad nie aangenaam nie. My belofte aan my kinders en myself het my egter gefokus gehou om met respek teenoor die ander op te tree.”
Behou jy kontak met enige van die ander pasmaats wat jy tydens die reeks leer ken het?

“Ek het twee baie goeie vriendinne gemaak uit ons pasmaatgroep. Daar is ook ander vriendinne wat ek nog besig is om beter te leer ken. Vier van ons was bymekaar op my 50ste verjaardag. In ons eie pasmaatgroep het ek nog kontak met vyf van die pasmaats. Ek het ook kontak met van die jonger pasmaats, onder andere Leoné (een van Pieter se oorspronklike pasmaats) wat my kamermaat was en diep in my hart ingekruip het. Nelius (een van Rudi se oorspronklike pasmaats) en ek het ook goeie vriende geword en ons kuier soveel as moontlik saam.”
Het jy enige boodskap vir pasmaats wat oorweeg om vir die volgende seisoen van Boer soek ’n vrou in te skryf?
“Daar is twee dinge wat ek graag met voornemende pasmaats wil deel. Die eerste is dat jy glad nie in kompetisie is met enigiemand nie. Die boer het sekere eienskappe waarna hy sélf op soek is. As jy van daardie eienskappe het, gaan hy jou kies. Weet wat jou waarde is en wees net jouself. Elkeen se mooiste lê juis in dit wat jou uniek maak.
“Ek het geleer dat ek tot soveel meer in staat is as wat ek myself partymaal voor erkenning gee. Dat ek weet wie ek is. Jou waarheid in die lewe hoef nie deur ander raakgesien te word om dit krag te gee nie. Jy kan berus daarin dat jy weet wat gesê is en wat gebeur het.
“Ek het soveel mense ontmoet wat verandering en geleenthede in my lewe te weeg gebring het. Ek het nou wel nie die boer se hart gewen nie, maar dit wat ek geleer het en die nuwe mense in my lewe is beslis meer as wat ek myself voor die proses kon indink. Ek is daagliks betrokke by mense om ’n verskil in hul lewe te maak. Die waarheid is dat hulle elke dag vir my so baie leer oor dankbaarheid en om daar te wees vir jou medemens.”
Jy het ’n dryfkrag om jou medemens in nood te help en dit is ook verder deur Boer soek ’n vrou aangewakker. Waar kom dit vandaan en by watter projekte is jy betrokke?
“My hulp aan my medemens en die projekte waarby ek tans betrokke is, is my dryfkrag. Die Here het my geroep met Psalm 34:18 in die passie-vertaling lees dit as volg: Die Here is naby die wie se harte gebreek is, en Hy herstel die wat moedeloos is en wie se gees verpletter is.
“Ek is die afgelope twee jaar betrokke by die Helderberg-beradingsentrum waar gratis berading aangebied word vir mense wat dit nodig het. Dit is ’n voorreg om saam met hierdie passievolle mense ’n verskil in moeilike tye te maak. Partymaal het iemand net nodig om te weet hulle is nie alleen nie.
“Ek het vir Sandy Pekeur by ’n sopkombuis in Tarentaalpark ontmoet en ons het begin saamwerk. Sy is aan die stuur van SA Society of Hope, ’n nie-winsgewende organisasie wat al vir 11 jaar in die gemeenskap werksaam is. Tans word kos na 21 punte versprei vanwaar dit dan aan die gemeenskap uitgedeel word.
“Terwyl ek in Windsorton was, het die gemeenskap se liefde vir FC my diep ontroer. Daar is selfs ’n rolstoelvriendelike ingang by Rudi H se huis aangebring sodat hy ook saam rugby kon kyk. Dit het my met bewondering maar ook met hartseer gevul omdat dit nie in baie gemeenskappe gebeur nie. Terug tuis het ek besef hoe ons as mense in ’n gemeenskap kan saamwerk selfs al bly ons nie in ’n klein dorpie nie.
“Sandy, Michelle en my gedeelde passie vir differently able (daar is nie ’n mooi Afrikaanse woord nie) het daartoe gelei dat ons begin het met werkskeppingsprojekte vir jong volwassenes. Die jonger mense en hul ouers het ook drome maar die geleenthede is min. Tans is ons besig om stalletjies by markte uit te rol. Die jongmense word betrek deur arbeid of om produkte te verskaf. Dit val onder ’n nuwe been van die organisasie wat ons Able noem. Ons leuse is: Breaking barriers & building futures.
“Ons het ook ’n 18-jarige nie-verbale jongman waar ons nou besig is met die bywerking van sy handelsmerk. Hy is ons eie superheld by wie ons so baie kan leer. Ons doel is om vir hom, en vele ander, werk te skep.
“Daar is so groot behoefte aan werkgeleenthede asook verblyf. Nie alle ouers het die fondse beskikbaar om dit moontlik te maak nie.
“Hou op vaskyk teen dit wat in die pad staan. Kom ons bou op hulle unieke sterk punte. Ons drome is groot, maar ons harte is nog groter.”
Hoe lyk die pad vorentoe vir jou en hoe lyk dit met die sake van die hart?

“Wat die liefde aanbetref, is die Here nog besig om my liefdesverhaal te skryf. Hy weet presies wat die eienskappe is wat nodig is vir die pad vorentoe – en dat ons verhouding die doel waarvoor hy ons geskape het, sal volbring.”
Boer soek ’n vrou S17 saai uit op Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Nuwe episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Kyk ook Boer soek ’n vrou S14-S16 op Showmax.