Menu terloops
In TV [11 Des 2025]

‘Een keer om die son’: Hart van nuwe seisoen draai om hoop, deel medeskepper Donnalee Roberts


Een van die grootste plaaslike TV-treffers in 2024 was die dramareeks ‘Een keer om die son’ – 2026 begin dus sommer op ’n goeie noot vir kykers met die tweede seisoen wat op 20 Januarie op kykNET begin uitsaai. Kyk nou die lokprent.

Deur Redaksie

Kyk solank S1 op Showmax

‘Een keer om die son’: Hart van nuwe seisoen draai om hoop, deel medeskepper Donnalee Roberts
Kyk lokprent

Wanneer die tweede seisoen van Een keer om die son op 20 Januarie 2026 begin uitsaai, is die Van Wyk-gesin nie weer oudergewoonte saam om die afskop van die nuwe jaar te vier nie. Die lewe het sy pad geloop, en elkeen het hul eie uitdagings – nie net op die eerste dag van die jaar nie, maar ook in die 12 maande wat gevolg het. Onder die uitdagings tel aanvaarding vind, tweede kanse aangryp, verslawing, lewensveranderende mediese probleme en elkeen se soeke na hulle plek in die familiekring.

Waar is die karakters nou?

Jacques Bessenger is weer te sien as dr. Ruan van Wyk, ’n neuroloog wat sy werk soms voor ander prioriteite plaas. Jana Kruger is Lani van Wyk, wat in die eerste seisoen oorlede is en wie se dood meer vrae as antwoorde gelos het. Lani is in terugblikke weer deel van seisoen 2. 

Ruan en Lani se kinders is Markus (Liam Bosman), Leandri (Alma van Heerden) en Sophia (Klara van Zyl), en in dié nuwe seisoen het elkeen ’n uitdaging wat oor hul pad kom. 

Albert Maritz is te sien as Sebastian, die afgetrede professor in insektekunde, en Joanie Combrink is Elma, die matriarg van die Van Wyks wat in seisoen 1 met Alzheimer se siekte gediagnoseer is. 

Amé (Donnalee Roberts), Ruan se jonger suster, se huwelik het in die eerste seisoen op die rotse beland. In seisoen 2 vind sy haar voete as onafhanklike en ambisieuse vrou, maar sal sy weer liefde vind? 

’n Nuwe karakter in seisoen 2 is Erika du Randt, ’n maatskaplike werker wie se loopbaan haar eerste en enigste liefde is. Die rol word deur Cindy Swanepoel vertolk. 

Ander karakters wat terugkeer, is Sebastian en Elma se goeie vriende Salie en Jan Wessels (Susanne Beyers en Pierre van Pletzen), Markus se dansmaat, Charlie (Simone Neethling), Leandri se kêrel, Xavier (Alex van Dyk), Lani se pa, Trevor de Kock (Deon Lotz), die verpleegsuster Karen (Isadora Verwey) en Charl Boshoff (Ivan Botha), Amé se kollega. Die jong akteur Heinrich Wentzel, bekend vir sy rolle in Niggies en Die nuusmakers, is te sien as Elijah Smith, met wie Leandri se pad op ’n ongewone manier kruis. 

Hart van die storie

Die reeks is deur Ivan Botha, Donnalee Roberts, Liani Jansen van Rensburg, Marista van Eeden en Almero Welgemoed geskryf. Ivan, Donnalee en Danie Bester is die vervaardigers, en Ivan is die regisseur. 

“ ’n Belangrike beginpunt vir ons was beslis wat die hart van die tweede seisoen moet wees; wat daardie boodskap en gevoel is waarmee ons kykers ná elke episode en ná afloop van die reeks wil laat,” sê Donnalee oor hoe hulle die legkaart vir die tweede seisoen gebou het. 

“Dit het elke keer teruggekom na een woord: hoop. Mense moet besef dat in hierdie lewe – maak nie saak hoeveel keer jy struikel nie – daar altyd hoop is: hoop vir opstaan, hoop vir vernuwing, hoop op ’n tweede kans. Maak nie saak hoe donker tye voel nie, die son gaan altyd weer skyn.”

Vernuwing

Vir Ivan was dit belangrik om vernuwing na die tweede seisoen te bring. “Ons het ’n groot storiewêreld met verskeie plekke waar ons verfilm het. Dan is daar natuurlik ons ongelooflike akteurs en tegniese span wat net so hard gewerk het om self meer na die tweede seisoen toe te bring. Ná die partytjie op die laaste dag van ons verfilming, het ek ’n boodskap van een van die produksielede gekry wat gesê het dit het vir haar gevoel of sy weer lig sien. Ek hoop kykers sien daardie lig ook. 

“Ons hoop hierdie seisoen gee vir mense die moed om gesprekke met hulle eie families oop te breek – om nie bang te wees hulle familie verstaan hulle nie of bang te wees vir oordeel nie. Ons moet begrip vir mekaar hê en besef ons is eintlik net hier om mekaar huis toe te loop.

“Dit is altyd ’n uitdaging om ’n tweede seisoen aan te pak, veral as die eerste seisoen ’n sukses was,” voeg Ivan by. “Ons is uiteraard dankbaar vir die sukses en dat dit so geliefd was, maar ons het ook geweet dat die storie nog nie klaar vertel is nie. Dit was ’n fees om die karakters weer af te stof en as ’t ware weer ou wonde oop te krap.” 

 Storielyne en balans 

Volgens Ivan is daar iets vir almal en storielyne vir alle generasies in die nuwe seisoen van Een keer om die son. “Daar is ook ’n lekker spanningslyn wat deur hierdie seisoen loop,” vertel hy.

“Ja, kykers kan alles verwag – spanning, liefde, hartseer, humor,” voeg Donnalee by.  “Die balans van seisoen 2 is voller as die eerste seisoen. Daar word verskeie temas aangeraak: angs en depressie, om jou eie sterflikheid in die oë te kyk, wat ná die dood gebeur, verslawing en hoe maklik dit kan gebeur, generasies wat weer saam onder een dak moet woon en ja, tweede kanse. In die hart en kern kom ons egter terug na die feit dat familie die middelpunt van jou sonnestelsel moet wees.” 

Sy sê families is geneig om dinge onder die mat te vee. “Soos die Van Wyks ook geneig is om te doen, maar hierdie keer werk hulle baie hard om die mat op te rol.” 

Vir Donnalee was dit ook ’n voorreg om weer saam met Ivan as regisseur te werk. “Hy is op dag een dieselfde as wat hy op dag 65 van verfilming is. As regisseur en produksieleier het hy ’n ongelooflike vermoë om vir almal hulle spasie te gun. En omdat hy so hard werk, inspireer hy ander om ewe hard te werk en net so diep te delf.” 


Die tweede seisoen van Een keer om die son begin op Dinsdag 20 Januarie op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitsaai. Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees. Kyk ook die eerste seisoen op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk in 2026: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

Van dáái yshokkiespelers tot ‘Bridgerton’ se Aspoestertjie-verhaal, die terugkeer van die geliefde vampierslagter Buffy en nog ’n 'Game of Thrones' spin-off – hier is ’n keur van die TV-reekse wat vanjaar op kykers wag.

Meer

Wat om te kyk: Sit dié reekse op jou moet-kyk-lysie vir Januarie 2026

Die volgende romantiese rondomtaliedans in 'Bridgerton', die terugkeer van die trefferreeks 'Een keer om die son', en die Afrikaanse weergawe van 'The Office' tel onder my top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Dís waar jy die 2026 Golden Globe-benoemdes plaaslik kan kyk

Van die heerlike derde seisoen van ‘The White Lotus’ en Seth Rogen se briljante ‘The Studio’ tot die ingrypende dramareeks ‘Adolescence’ en die fabelagtige fanfare in ‘Wicked: For Good’ – hier is al die reekse en films wat benoemings vir 2026 se Golden Globes ontvang het, én waar jy dit plaaslik kan kyk.

Meer
10

Wat om te kyk: 10 Kersfeesflieks vir die feestyd

Van een van die mees romantiese flieks van alle tye tot een baie, baie spesiale Kersbriefie – hier is ons keuse van Kersfeesflieks om oor dié feestyd te kyk. 

Meer
Sien alle opsies