Sy mag een van die nuwer gesigte in die bedryf wees, maar die aktrise Sharfa du Plessis laat haar in Skemergrond geld. As Christine Atkins (Devonecia Swartz) se ambisieuse sekretaresse Haylee Dalton is dié karakter een wat stil in die agtergrond beweeg. Sy hou alles fyn dop, werk berekend en onthul stadig ’n donkerder kant…
Sy het vir Terloops meer vertel.
Toneelspeel-wortels
Sharfa het op die ouderdom van vier begin toneelspeel nadat sy by die Helen O’Grady Drama Academy aangesluit het, waar toneelspel ’n natuurlike deel van haar lewe geword het. Haar liefde vir rolprente het in hoërskool verdiep toe sy begin het om die filmkuns te bestudeer en ontleed. Dié belangstelling het gou uitgebrei na redigering en regie.

“Om drama by die Universiteit Stellenbosch te studeer, het my die ruimte gebied om al drie hierdie passies uit te leef,” sê sy. “Wat ek van die filmbedryf hou, is dat ek ’n wêreld van nuuts af skep waarin mense kan glo en kan gebruik om van die werklikheid te onstnap.”
Om die rol van Haylee te kry was ’n groot mylpaal. “Dit het te goed gevoel om waar te wees,” erken sy. “Dit was die eerste oudisie wat ek gedoen het en die eerste rol wat ek gekry het nadat ek graad gevang het.”
Hoewel sy aanvanklik geïntimideerd gevoel het om met ervare akteurs te werk, het sy die geleentheid omhels. “Ek het dit as ’n kans gesien om van die beste te leer.”
Wie is Haylee?
Haar karakter, Haylee, is al in seisoen een bekendgestel as Christine Atkins se sekretaresse by die geleentheidsmaatskappy Atkins Affairs. Haylee is angstig, oplettend en gretig om haarself te bewys. “Sy is so ambisieus dat sy mense wat vir haar belangrik is, sal verraai om haar doel te bereik,” vetel Sharfa. “Ek hou daarvan om Haylee as ’n cheerleader te beskryf, maar hierdie keer skree sy net vir die verkeerde span.”

Haar invloed op Gemoedsdrif is subtiel, maar dit sypel deur in die twyfelagtige take wat sy vir Christine uitvoer. Tog, ten spyte van Haylee se donkerder eienskappe, kan Sharfa haar met dele van haar karakter vereenselwig. “As sy omgee vir jou, sal sy lojaal wees en vir jou sorg tot die einde,” sê sy. “Wat ek nie van hou nie, is dat sy daardie onskuld gebruik om ander te manipuleer om te kry wat sy wil hê.”
Vir Sharfa is Haylee se neiging tot selfsabotasie ook een van haar mees frustrerende eienskappe.
Met die skrywers se uitbreiding van Haylee se storielyn, het die rol meer uitdagend vir Sharfa geword. Om in Haylee se donkerder kant te beweeg, het emosionele noukeurigheid en sorgvuldige voorbereiding vereis. “Dit was vir my belangrik dat alles wat Haylee sê of doen gemotiveerd is. Dat daar ’n gladde oorgang is van waar haar karakter begin het tot waarheen sy beweeg,” verduidelik sy.
Voorbereiding en aanhou leer
Haar voorbereidingsproses is hoogs persoonlik en intern. “Wanneer Haylee iets sou doen of sê wat ek nooit in my eie lewe sou doen nie, moet ek dit vir myself uitredeneer om dit natuurlik te laat voel,” sê sy. “Soms loop ek net in die straat en skielik dink ek: ‘O, so dít is hoekom Haylee dit doen!’ ”
Om aan te pas by die druk en sigbaarheid van ’n nasionale televisiedebuut is steeds ’n leerproses. “Dit neem beslis tyd om gewoond te raak, en ek het dit nog nie heeltemal onder die knie nie,” erken sy. “Maar my aanslag is dat dit ’n voorreg is om hierdie werk te doen. Ek het regtig geen klagtes nie.”

Sy skryf ’n groot deel van haar groei toe aan mentorskap op die stel. ’n Gesprek met Bobby Stuurman (deel van die regiespan en dialoogafrigter) vroeër in die proses het haar anders na haar rol laat kyk. “Hy het vir my gesê jy weet nooit wat die toekoms inhou of waarheen die karakter op pad is nie… En hy was reg. Ek sal dit nie vergeet nie,” sê sy.
Devonecia het ook ’n sleutelbron van aanmoediging en advies geword. “Sy is altyd daar om raad en leiding te gee wat vir my van onskatbare waarde as ’n jong aktrise is. Sy inspireer my om konstant my kuns te slyp sodat ek altyd probeer verbeter.”
Keerpunt vir Hayley
Een van die deurslaggewende oomblikke in haar Skemergrond-reis het in seisoen twee gebeur, toe Haylee gehelp het om vir Tyler (Ruben Engel) te ontvoer. “Dit was ’n keerpunt in Haylee se storielyn. Ons het uiteindelik gesien waartoe sy in staat is,” verduidelik sy. Dit was ook Sharfa se eerste blootstelling aan waaghals-choreografie en aksiefilmwerk waar sy buite en binne ’n bewegende voertuig verfilm is.

Uiteindelik hoop Sharfa dat kykers verder as Haylee se keuses kyk en ook die menslikheid daaronder sien. “Ek hoop hulle beskou Haylee nie as heeltemal sleg nie,” sê sy. “As hulle emosioneel deur die karakter geroer word, selfs al maak dit hulle kwaad vir haar, dan het ek my werk gedoen.”
Loopbaanhoogtepunt
Wanneer sy terugkyk op 2025, staan die vertolking van Haylee se transformasie uit as ’n groot loopbaanhoogtepunt. Buiten toneelspel, werk Sharfa ook as oorklankingsregisseur. Boonop het sy ook onlangs in die regisseurstoel gesit vir ’n kortfilm vir die 48 Hour Film Project. “Regie vir stemkunstenaars het ’n ware passie van my geword,” sê sy en voeg by dat sy opgewonde is om meer geleenthede as regisseur in die toekoms te verken.
Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.