Menu terloops
In Lysie-lysie [9 Mei 2023]

‘Diepe Waters’: Wie wou van Gys ontslae raak?


Gys Swarts (Justin Strydom) is waarskynlik een van die mees gehate karakters in die kykNET-telenovela, ‘Diepe Waters’. Hierdie week ontwaak Gys uit sy koma nadat hy drywend en bewusteloos in die klub se swembad gevind is. Met die man uiteindelik weer wakker is die vraag op almal se lippe: “Wie het dit aan hom gedoen?”

Kyk nou

‘Diepe Waters’: Wie wou van Gys ontslae raak?

Twee weke is ’n lang tyd om in ’n koma te wees – en dit is hoe lank Gys al daar in die Diepe Waters-wêreld in sy hospitaalbed lê. Dít nadat hy tydens die launch van vroutjie Meghan (Lea Vivier) se skoonheidsreeks in die swembad gevind is. Terwyl Gys probeer onthou wat gebeur het – of dalk eerder wie hom bygekom en vir dood gelos het – het ons ’n lys verdagtes saamgestel.

1

Meghan Swarts

Die vrou het beslis motief na sy ’n affair met Jacques, Gys se seun, begin het. Maar het sy die dryfkrag om Gys die verderf in te stuur? Absoluut! Sy jok dan al hoe lank vir hom oor haar gevoelens vir hom. Sy het selfs mt hom getrou net om ’n wraakplan uit te voer wat sy saam met sy aartsvyand, Zelda, beplan het. En boonop weet sy presies hoe om hom – en enige ander man! – se kop weg van die waarheid te draai met daardie perdebylyfie van haar.

Diepe Waters Meghan Lea Vivier
Kon Meghan se affair haar gedryf het om van Gys te probeer ontslae raak in Diepe Waters? Foto: Skermgreep
2

Rossouw Swarts

Gys en sy seun sit nou al vir ’n hele ruk nie meer langs dieselfde vuur nie. Rossouw blameer sy pa vir alles wat in die afgelope tyd in sy lewe skeefgeloop het. Hulle het al so erg koppe gestamp oor Rossouw se keuses (wat deur Gys veroorsaak is) dat Rossouw al op ’n kol werkloos was. Dit is geen geheim dat Gys nie ooghare vir Rossouw se nuwe meisie het nie, en dat hy nog minder dink Rossouw weet wat hy doen met die egskeiding van Sanet wat op hande is. Maar is hierdie genoeg rede vir poging tot moord?

3

Anja Botha

Gys het 20 jaar gelede vir Anja gedwing om ’n aborsie te ondergaan – min wetende dat die kind wat Anja verwag het sy eie kleinkind sou wees. Anja het al baie duidelik gemaak hoe sy oor Gys voel. Sy het selfs so ver gegaan om by die swembklub te gaan werk as ’n afrigter om haar susterskind, Karla, van sy invloed weg te kry. Sy weet dat Gys net belangstel in een ding, en sy is seker daarvan dat dit nie die welstand van die swemmers onder sy afrigting is nie… Sy het immers eerstehandse ondervinding. Maar sou dit dieselfde hand wees wat die man na sy watergraf sou stuur?

4

Jacques Swarts

Jacques se hart maak van hom ’n beter man as sy pa – veral as daardie hart ook ’n pad wil stap met sy pa se nuwe vroutjie! Jacques is ’n afrigter by die klub, is gebou soos ’n Griekse god en kan beslis sy man (of is dit nou pa?) staan rondom ’n swembad. Maar is die skuldgevoel wat hy het oor die verhouding met sy stiefma genoeg rede vir Jacques om permanent van sy pa ontslae te wil raak? Liefde is oor die jare dalk die donker gas in talle  moordmotiewe, selfs meer as verbode liefde ter sprake is…

5

Zelda Joubert

Haar jare lange vete met Gys is iets wat baie bekend is – en sy probeer dit nie wegsteek nie. Nee, wat. Sy adverteer dit om elke hoek en draai – en kon dit nie met groter smaad aan die gemeenskap bekend maak nadat sy as die swemklub se geheime belegger – en nou grootste aandeelhouer – onthul is nie. Maar is daardie wraak nie soet genoeg nie? Is haar plan om Gys vir altyd te verneder in die wiele gery deur Meghan se verbode liefde met Gys se seun? Is moord dalk die kersie op die wraakkoek?

Zelda Joubert Diepe Waters
Is moord dalk die kersie op Zelda se wraakkoek in Diepe Waters? Foto: Skermgreep
6

Johan Swarts

Die huidige swartskaap in die Swarts-familie het dit nou al alles gedoen. Hy het nie wat wonders in matriek presteer nie, hy is tydelik vir dwelmmisbruik geskors, hy het amper pa geword, en swem tans vir sy Oupa Gys se grootste kompetisie! Wat kan Johan nog doen om sy naam nog swarter te smeer as wat die Swarts-familie daarna uitsien? Woede is een ding, maar wraak is ’n ander. En Gys het meer as sy bydrae gelewer om te verseker dat hierdie heethoof nog vir jare gaan stoom! Dalk was hierdie Johan se enigste manier om homself te verlos van ’n juk wat hy nooit wil dra nie…

7

Karla Swarts

Trauma is iets wat ’n mens nie sommer net in ’n oogwink verwerk nie – vra maar vir die swart vlinder in die Swarts-familie. Ons weet reeds dat sy ’n eetsteurnis ontwikkel het as gevolg van wat haar oupa aan haar gedoen het as afrigter, maar wat as Karla dalk ook al die ander sondes van haar Oupa begin oplet het… En besluit het om iets daaromtrent te doen?

8

Bybie

Waar in die wêreld is Bybie? Ons weet dat sy “iewers” is om ’n sonde van die verlede te gaan oplos nadat Zelda haar daarmee gedreig het. Ons weet egter nie wat presies (of waar!) dit is nie. Sou dit moontlik wees om almal onder verdenking te plaas terwyl niemand eers die prettige rabbadoe kan verdink nie? Is dit haar onsigbare hand wat die man na sy einde probeer lei het? Het Gys dalk iets te doen met die dreigement wat Zelda soos ’n swaard bo Bybie se kop hou? Of was Gys dalk die los draad wat sy moes afknip?

Soveel verdagtes, maar tog so min antwoorde. Die skuldige gaan eersdaags aan die pen ry, maar dit is lank nie die einde van die geheime in dié gemeenskap nie…


Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae van 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Online).

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer
Sien alle opsies