Menu terloops
In Wat om te kyk [15 Apr 2025]

‘Kykers gaan verstom wees’: Dokkiereeks oor Afrikaans verken taal se wortels, ontwikkeling


Die nuwe dokumentêre reeks ‘Die stories van Afrikaans’ se agt episodes verken die geskiedenis van Afrikaans, maar kyk ook vorentoe. Dit begin einde-April op kykNET uitsaai.

‘Kykers gaan verstom wees’: Dokkiereeks oor Afrikaans verken taal se wortels, ontwikkeling
Kyk lokprent

Almal wat Afrikaans praat, ken ’n storie oor waar hulle en die taal vandaan kom, maar die stories is so uiteenlopend soos die mense wat die taal geskep en gevorm het. 

Soos Ready D van Die Brasse Vannie Kaap dit stel: “Afrikaans is energie. Afrikaans is kwaai. Afrikaans is Khoi. Hy’s Nederlands. Hy’s Malei. Hy’s mens. Afrikaans is die grond. Afrikaans is die stof, en Afrikaans is deel van wie ons is. Hy gaan nêrens nie.”

Die nuwe dokumentêre reeks Die stories van Afrikaans, wat Sondag, 27 April 2025, op kykNET begin, vier en verken al hierdie aspekte oor die verloop van agt episodes. Ryk argiefmateriaal en meer as honderd gesaghebbende stemme word vir die vertelling ingespan.

Dryfkragte

Die navorsing en inhoudsregie is deur twee bekroonde joernaliste behartig: Erns Grundling, wat ook ’n medevervaardiger van die reeks is, en die digter Danie Marais.

“Ek glo dié reeks gaan kykers plek-plek verstom met dinge wat hulle nie geweet het nie, en hulle soms laat sluk aan ’n knop in die keel. Maar daar’s baie humor ook en soveel kleurvolle karakters wat hul ervarings en insigte deel,” sê Danie in ’n mediaverklaring.

Ons wou… ’n kaleidoskopiese beeld van Afrikaans en sy sprekers gee. Wat ook al jy dink of glo, jy sal stemme in dié reeks vind met wie jy heelhartig kan saamstem en verskil.”

Erns Grundlingh

“Een van die dinge wat die reeks wys, is hoe pyn, vooroordele en vrees mense en gemeenskappe vir die nood van ander blind kan maak. Dít is vir my die hartseerste deel van ons taalgeskiedenis. Ek hoop hierdie reeks gaan almal in ons groter taalgemeenskap aanmoedig om mekaar raak te sien.”

Op sy beurt sê Erns dis veral die vele tongvalle van Afrikaans wat in hierdie reeks opklink wat hom opgewonde maak. “Ons het die net wyd gegooi en wyd gereis, van Kaapstad tot in die Noorde, en ook in Nederland en België gaan draai. 

Die stories van Afrikaans
Die ikoniese Suid-Afrikaanse sangeres Amanda Strydom verskyn in die dokumentêre reeks Die stories van Afrikaans. Foto: Verskaf

Vertellers vir mylpaarjaar van Afrikaans

“Hierdie mylpaaljaar van Afrikaans se eeu as amptelike landstaal is ’n ideale geleentheid om bestek op te neem en ’n geskiedenis te heroorweeg wat veel verder as ’n 100 jaar strek,” voeg Erns by. “Daarom begin ons hierdie boeiende verhaal reeds in 1595. Ons mandaat was nie om enige oplossings aan te bied nie. Maar so ook nie om omstrede kwessies te verswyg of te omseil nie. Ons wou doelbewus ’n eggokamer vermy en ’n kaleidoskopiese beeld van Afrikaans en sy sprekers gee. Wat ook al jy dink of glo, jy sal stemme in dié reeks vind met wie jy heelhartig kan saamstem én verskil.”

Twee gesoute taalkundiges, Hein Willemse en Wannie Carstens, het as onafhanklike konsultante opgetree. Carstens se twee lywige volumes, Die storie van Afrikaans, is een van verskeie bronne wat geraadpleeg is.

Elke episode het ’n eie verteller. Hulle is: Sandra Prinsloo, Zane Meas, June van Merch, Albert Pretorius, Dean Balie, Frank Opperman, Lee-Ann van Rooi en Tinarie van Wyk-Loots.

Die kunstenaar Jotam Schoeman het treffende geanimeerde sketse van tonele en meer as 50 historiese figure vir die reeks geskep. Christiaan Scheepers (Chasing the SunDevilsdorp) en Wilmari van Biljon (Drie dekades se beste Bokke met Rapport) was die redigeerders.

Ander medewerkers sluit die skrywer Kirby van der Merwe en die TV-aanbieder Kabous Meiring in.

Die reeks is deur Bonanza Films vervaardig, wat ook vir gewilde programme soos Elders en Welvaartskeppers verantwoordelik is. Die Safta-bekroonde kinematograaf PJ Kotzé het die reeks geskiet, en Frankie Opperman is die regisseur.  


Die stories van Afrikaans première op Sondag 27 April om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-gids vir September 2026

Lily en Ruan is gebroke en Christine se verlede haal haar in. Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir September 2026

Nazeem is ’n doring in Bridgette se vlees en Frankie en Riaan het ’n moeilike gesprek. Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in September kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies