Bridgerton 1-3
Kyk dit op Netflix. Seisoen 3, Deel 2 is vanaf Donderdag, 13 Junie 2024 ook beskikbaar.
Dié drama is gegrond op die Bridgerton-boeke van Julia Quinn en speel af in die Regency-tydperk (1811-1820). Dit volg die weduwee Lady Bridgerton en haar agt kinders soos hulle deur die lewe met skandale, swak besluite, en met die koningin wat hulle stip dophou, deur die lewe strompel. Of dans. Hang af of daar ’n high society paartie daai aand is.
In die derde seisoen draai die hoofstorielyn om Penelope Featherington (Nicola Coughlan), óftewel Lady Whistledown, en Colin Bridgerton.
Peaky Blinders S1-6
Kyk dit op Netflix.
Dié absoluut briljante reeks is losweg gegrond op die werklike Peaky Blinders-bende wat in die 19de eeu amok in Birmingham, Engeland gemaak het.
Peaky Blinders is sedert 2013 soos TV-stapelvoedsel. Dit is een van die min reekse wat oor die afgelope dekade konsekwent in gehalte was. Só ook konsekwent in die gebruik van nimmereindige geweld. Maar dis hoe die Shelby-broers werk om dinge gedoen te kry. Aan die hoof van die familie-bende is die koel, maar genadelose Tommy, wat met intimiteit deur Cillian Murphy gespeel word. Paul Anderson is Arthur, die oudste broer wat te veel van ’n fokop van alles maak en dus nie met familiesake vertrou kan word nie.
Queen Charlotte S1
Kyk dit op Netflix.
Die jonge koningin Charlotte se huwelik met koning George van Engeland ontketen ’n epiese liefdesverhaal wat uiteindelik reuse-verandering meebring in die Netflix-reeks, Queen Charlotte: A Bridgerton Story. Queen Charlotte dien as ’n prequel vir die gebeure in die gewilde periode-dramareeks, Bridgerton. Dit werp dus lig op die menswees en geskiedenis van die Charlotte wat ons in Bridgerton leer ken het.
The Crown S1-6
Kyk dit op Netflix.
Die reeks draai om die heerskappy van Koningin Elizabeth II vanaf haar troue in 1947 tot vroeg in die 21ste eeu. Uit die staanspoor uit, is die reeks deur hoë drama en uitnemende toneelspel deur akteurs soos Olivia Colman, Gillian Anderson, en Helena Bonham Carter gekenmerk. Die laaste seisoen speel af tussen 1997 en 2005 met Koningin Elizabeth wat oor haar nalatenskap tob soos Prinses Diana die publiek se harte wen in die laaste weke voor haar dood.
The Law According to Lidia Poët S1
Kyk dit op Netflix.
The Law according to Lidia Poët is ʼn ses-episode reeks oor Italië se eerste vroulike advokaat.
Riëtte van der Wat het oor dié reeks geskryf: “Lidia moet al haar lewe lank hoor wat sy nié kan doen nie, omdat sy ʼn vrou is. Maar dié beeldskone, intelligente, dinamiese en vreeslose vrou gaan nie vir haar laat voorsê nie. Sy vind dus die heeltyd maniere om haar vaardighede en talente in te span. Nie net ten bate van haar kliënte nie, maar ook vir vroue in die algemeen… Dit is deels misdaadfiksie, deels ʼn stryd om geregtigheid vir Lidia (pas in die regte gegradueer), wat in die eerste episode ʼn groot terugslag beleef in haar droom om ʼn praktiserende advokaat te word.”
The Marvelous Mrs. Maisel
Kyk dit op Prime Video.
Miriam “Midge” Maisel (Rachel Brosnahan) beland heel toevallig op ’n stand up-verhoog nadat haar man haar met sy sekretaresse verneuk – glo omdat sy eie verborge stand-up komediedrome aan skerwe lê.
Oor die verloop van vyf seisoene het daai enkele besluit om op ’n verhoog vir haar eie omstandighede – voor en met vreemdelinge – te lag, haar hele wêreld omgekeer. Tussen kinders grootmaak en die verbrokkeling van haar huwelik, het Midge ook harde klippe gekou om haarself in ’n seksistiese bedryf te probeer bewys.
The New Look
Kyk dit op Apple TV+.
The New Look se aangrypende tien episodes speel af teen die agtergrond van die Nazi-besetting van Parys tydens die Tweede Wêreldoorlog. Dis veral besonders in hoe dit ’n ongelooflike verhaal na vore bring – dié van die mode-ikoon Christian Dior en hoe hy as’t ware weer lewe in Parys geblaas het met grensverskuiwende ontwerpe. Ook sy tydgenote (en mededingers), soos Coco Chanel, Pierre Balmain en Cristóbal Balenciaga, en hoe hulle midde die gruwels van oorlog die fondasie vir moderne mode gelê het, kom onder die loep in dié treffende vertelling.
Lessons in Chemistry
Kyk dit op Apple TV+.
Dié reeks is gegrond op die gelyknamige boek deur die skrywer Bonnie Garmus. Die boek, wat in 2022 gepubliseer is, is reeds in sowat 40 verskillende tale beskikbaar, is uiteindelik omskep in ’n TV-reeks waarin die Oscar-wenner Brie Larson (Room, Captain Marvel) die hoofrol vertolk.
Die storie speel af in die vroeë 1950’s en volg Elizabeth Zott (Larson), wie se droom om ’n wetenskaplike te wees danksy ’n stifling patriargale samelewing aan skerwe lê. As sy dan van haar werk by ’n lab afgedank word, begin sy ’n nuwe rol as die aanbieder van ’n kookprogram op televisie. Dit word gou veel groter as net ’n “kookprogram” as sy dan vir kykers – vroue én mans – oor meer as net resepte leer.
Shaka iLembe S1
Beskikbaar op DStv Catch Up.
In Mzansi Magic se Shaka iLembe word ’n fiktiewe interpretasie van die historiese gebeure rondom die Zoeloekoning, Shaka, se opkoms en heerskappy uitgebeeld.
Die rolverdeling sluit in Lemogang Tsipa as die volwasse Shaka, die nuweling Ntando Zondi as jong Shaka en Nomzamo Mbatha as koningin Nandi.
’n Tweede seisoen is reeds in die pyplyn.
Boardwalk Empire S1-5
Kyk dit op Showmax.
Steve Buscemi vertolk die hoofrol in dié epiese periodedrama wat in Atlantic City in die 1920’s – met die aanvang van die Prohibisie-tydperk as agtergrond – afspeel. Ook met die briljante Michael Shannon en Kelly Macdonald in die rolverdeling.
The Gilded Age S1-2
Kyk dit op Showmax.
The Gilded Age is ’n nuwe periode-dramareeks deur die bekroonde TV-skepper Julian Fellowes, ook die skepper van Downton Abbey.
Die vertelling begin in 1882 as ’n jong Marian Brook (Louisa Jacobson) ná die dood van haar pa van die plattelandse Pennsylvania na Manhattan verhuis. Sy trek in by haar tantes Agnes van Rhijn (Christine Baranski van The Good Fight) en Ada Brook (Cynthia Nixon van Sex and the City). Maar dan raak Marian per ongeluk gewikkel in ’n sosiale oorlog tussen haar tantes en hul nuwe, baie ryk bure, ’n meedoënlose spoorwegmagnaat George Russell (Morgan Spector, Homeland) en sy ambisieuse vrou, Bertha (Carrie Coon van Fargo).
Gentleman Jack S1-2
Kyk dit op Showmax.
Gentleman Jack speel af in 1830’s en is gegrond op die dagboeke van die Victoriaanse era lesbiese grondeienaar en nyweraar Anne Lister. Dié historiese romantiese dramareeks word deur The Guardian as “’n meesterstuk” beskryf, terwyl Metro UK dit as een van die mooiste reekse van die jaar bestempel.
“Visueel is dit een van die mooiste dinge waarna jy die hele jaar sal kyk. Van die sorgvuldig vervaardigde tydperkkostuums, versier met krulle en korsette, tot die pragtige Yorkshire-tonele, wat die reeks help om soveel sjarme te behou.”
World On Fire S2
Kyk dit op Showmax.
World on Fire se vertelling draai om die Tweede Wêreldoorlog met die tweede seisoen wat tussen 1940 en 1941 afspeel. Dit storie neem ons dus na die oorloggeteisterde strate van Brittanje en die begin van die Blitz-aanval in Manchester, tot diep in Nazi-Duitsland, die weerstand binne besette Frankryk en die dorre Noord-Afrika woestyn.
1883
Kyk dit op Showmax.
1883 is deel van die gewilde Yellowstone-franchise en dien as die origin story.
Dié reeks speel af in die nasleep van die Amerikaanse Burgeroorlog, en volg die Dutton-familie soos hulle armoede probeer ontsnap en van die Weste na Montana reis. Daar begin hulle wat weldra as die Yellowstone Ranch bekend sou staan. Tim McGraw (James Dutton) en Faith Hill (Margaret Dutton) vertolk die hoofrolle. Dié twee is in die werklike lewe al vir jare getroud.
1923
Kyk dit op Showmax.
1923, wat spog met veteraan- en bekroonde akteurs soos Helen Mirren, Harrison Ford en Timothy Dalton, dien as nog ’n prequel vir die uiters gewilde dramareeks, Yellowstone. Dié reeks speel af in die vroeë 20ste eeu met die Dutton-familie wat teen nuwe uitdagings – waaronder die begin van die Groot Depressie en die Prohibisie-tydperk – te staan kom.
En nog…
- Rome S1-2, Showmax
- The Winter King S1, Showmax
- Anne with an E S1-3, Netflix
- The English S1, Showmax
- The Empress S1, Netflix
- Band of Brothers S1, Showmax
- Vikings S1-6, Netflix
- The Last Kingdom S1-5, Netflix