Ononderbroke tyd met mekaar durf nie geringskat word nie. “Dis nie net vir liefde om te groei nie, maar vir daai ware diep bewuswording van mekaar,” het Boer soek ’n vrou-aanbieder Reandi Grey met die aanvang van die episode verduidelik.
In hierdie stadium is daar reeds verskeie van die pasmaats wat nie daardie tyd gegun is nie.
In die sewende episode het Willie vir Yvonne gegroet. Op sy beurt het Rudi vir Nelius ’n veilige rit huis toe toegewens.
In die agtste episode was dit Lisa wat deur Pieter gevra is om die plaas te verlaat. Maar vir Rudi H (56), ’n boerbokboer van Windsorton, Noord-Kaap, was dit alles behalwe maanskyn en rose toe die lang naels begin uitkom het en die vroue gewys het presies hóé vasberade hulle was om sy hart te verower. Drama was daar meer as genoeg, en dit was Paola wat moes pak, hoewel Lizelle tydens ’n emosionele kuier om die lang tafel aangebied het om die plaas te verlaat.
Tot nou toe was Evert die bitter beker van keuses maak, gespaar. Maar vir hoe lank nog?
Wat volgende?
Pieter (29), ’n skaapboer van Richmond
Op Pieter se plaas was dit Anzelle en Elizma wat deur hom touwys gemaak is oor hoe daar met wol te werk gegaan moet word.
Skaam-skaam het Pieter erken dat oogkontak van Anzelle se kant “definitief ietsie daarsô” losgekyk het. Maar hy het sy kaarte baie na aan die bors gehou en het erken dat Elizma se glimlaggies ook “ietsie” doen.
Alleentyd
Anzelle het eerste die geleentheid gekry om op haar eie met Pieter te gesels. Alhoewel sy aanvanklik stillerig oorgekom het, het sy van die geleentheid gebruik gemaak om prontuit vir Pieter te vra of hy ’n toekoms saam met haar kan sien.
“Ja, definitief ja,” was sy reaksie. Het sy dalk reeds trouklokkies hoor lui?
Elizma was net so ingenome met haar alleentyd met die jong boer. Maar toe sy by hom wou weet hoe belangrik ’n vonkie tussen mense vir hom is, het hy half benoud geraak. Nog ’n kwelvraag vir hom was of langafstandverhoudings kan werk. Elizma het gereken dit kan, solank albei bereid is om die nodige werk in te sit.
Piekniek op ’n bakkie
Pieter het sy gaste op ’n rit geneem vir skemerkelkies op die bakkie, met swem en braai daarna op die agenda.
Maar in almal se agterkop was daar ’n mate van onsekerheid oor wat die volgende aand sou gebeur. Dis mos een van die groot maak-of-breek-oomblikke vir die boere en hul pasmaats – wanneer hulle aan hul vriende en families bekend gestel word.

Kuiertyd met familie en vriende
Sommer vroegmiddag kom die groot bakkies oor die plaaspad aangery, en die vuurtjies vlam hoog. Die warm Karoo-gasvryheid het sowaar op die skerm ook gestalte gekry.
Elizma en Anzelle het al twee vlinders van onsekerheid oor hul ontvangs gehad, terwyl Pieter baie opgewonde was oor die feit dat hulle saam met sy vriende en familie gaan kuier. Hy het glad nie gespanne gevoel oor die aand wat voorgelê het nie.
“Julle single manne hier voor, julle druk nie lank nie,” het hy tot groot vermaak van almal geterg nadat hy sy twee gaste aan almal voorgestel het.
“Hulle is al twee werklik mooi nooiens,” het Johan en Ashley, vriende van Pieter, later die aand gesê. En, soos wat Elizma teenoor die gaste opgemerk het, is sy en Anzelle boonop bourekenaars. “Dis sy tipe,” het sy laggend oor hierdie vreemde toeval te sê gehad.
“Spontaan,” het vriend JH oor die twee gesê. Pieter se vriende Carl en Saag was net so beïndruk met die twee potensiële pasmaats.
“Dis werklik twee bitter oulike meisies,” het Janine, Pieter se ma gesê, maar vinnig bygevoeg dat sy sake in die Here se hand laat om hom te help kies.
Pieter het erken daar’s reeds witbroodjies onder sy vriende en familie en dat hulle nie teruggehou het met terugvoer en aanbevelings nie.

Janine het ook ná die tyd genoem dat veral sy wat Janine is, reeds ’n belangstellende flikker in Pieter se oë sien. Vir pa Ben is dit net belangrik dat Pieter ’n vrou sal kies wat die Here dien. En dat Pieter gelukkig sal wees.
Natuurlik was Janine in die kol. Ná ’n paar langarmdanse het Pieter genoem hoe lekker dit vir hom was om weer iemand vas te hou en ja, daar is definitief ’n ietsie, ’n vlammetjie by een van die meisies, het hy erken.
Verlief? Nee, maar definitief iets wat aan’t gebeure is, het hy toegegee.
Evert (38), ’n makadamia-, sitrus- en wildboer van Tshipise
“Ek voel ’n bietjie soos ’n skurk,” het hy erken omdat hy besef het daar’s waarskynlik gevoelens vir beide Lauren en Theresa. Daar is Lauren se liefde vir buitemuurse aktiwiteite en haar avontuurlustigheid. Op haar beurt het Theresa se rustige, gestruktureerde benadering tot die lewe en haar opregtheid hom beïndruk.
Alleentyd
Theresa was die een wat eerste alleentyd met Evert kon deurbring. Die twee het heel gemaklik met mekaar onder een van die enorme kremetartbome gekuier. Evert het vir haar gesê dat sy hom aan een van sy hoërskoolonderwyseresse herinner. Sy was ook stil, nes Theresa, maar as sy die klaskamer binnegekom het, het die hele klas stilgebly.

“Jy maak ’n baie groot impak,” het Evert vir haar gesê. Hy het ook erken dat hy seker moet maak dat sy hart en kop deel van sy besluit is en dat emosies nie moet oorheers nie. Gaan Theresa se hoop op iets meer gekortwiek word, of wag daar dalk ’n aangename verrassing op haar? “Tyd sal leer,” het dit van Evert gekom.
Lauren het met ’n skalkse glimlag erken die proses was allesbehalwe wat sy verwag het. Sy was seker sy sou haar antwoord op die pad vorentoe gekry het ná afloop van haar alleentyd met Evert.

En Evert? “Daar’s natuurlik romanse op die horison,” maar hy wou nie veel meer as dit verklap nie. “Chemistry is waarvan vuurwerke gemaak word, is dit nie?” het hy geterg.
Op haar beurt was Lauren seker dat sy haar keuse gemaak het. Gaan sy en Evert dalk dieselfde keuse maak?
Swemtyd en ’n glasie wyn
Op Evert se plaas het al drie hulle in die swembad bevind met ’n yskoue glasie wyn in die hand. Hy het erken daar is beslis chemistry – met al twee! Maar dalk in ’n meerdere mate met een van die pasmaats.
Theresa was oortuig dat Evert besef het watter gevoelens sy jeens hom koester, terwyl Lauren meer waaksaam was oor haar eie gevoelens en die potensiaal van seerkry.
Evert het geglo sy ma gaan baie van die twee hou – en as sy pa nog gelewe het, sou hy ook.

Kuiertyd met familie en vriende
Die aand van kuier met familie en vriende het aangebreek. Dit was ’n belangrike aand vir die drietal. Lauren en Theresa het beide besef dat hierdie geleentheid hul tyd op die plaas kan verleng of verkort, want familie en vriende se opinies tel. En daar was so baie van hulle daar.
Eddie, Marike en Tharien, drie van Evert se vriende, het later gesê ook hulle was senuweeagtig om die twee kuiergaste te ontmoet. Hulle was egter aangenaam verras met Lauren en Theresa. Sy vriende Britt en Kyle het dit geniet om hulle te ontmoet en het gesê daar lê moeilike keuses vir Evert voor.
Suster Mari en swaer Dean het vertel hoe spesiaal Evert vir hulle is. En sy soektog na liefde – oor ’n geruime tyd – het ook nie sy vriende Linda en Grant verbygegaan nie.
“As Evert van ’n meisie hou, dan dra hy haar op sy hande,” het ma Lana vertel. “Hy’s baie ondersteunend en liefdevol.”
Tog, ten spyte van die feesmaal en gepaardgaande vrolikheid, kon Lauren en Theresa nie hul onsekerheid oor die toekoms afskud nie.
Evert het gevoel dat Lauren sy familie se hoë energievlakke kan hanteer en soms selfs oorskry. Dit was vir hom belangrik. In teenstelling daarmee het Theresa die vermoë gehad om almal rondom haar te anker en mense bymekaar te bring. Ook belangrik!
Moet nooit ’n ma se instink onderskat nie. Lana het in alle waarskynlikheid nog voordat Evert dit self besef het, geweet hy’s verlief. En dit het haar baie goed laat voel, want sy kon sien hy’s gelukkig.
Rudi (47), ’n toerisme- en wildboer van Beestekraal
Op Beestekraal het Rudi saam met Hannes en Arnold pyltjies na watergevulde ballonne gegooi. Elke ballon was gekoppel aan ’n vraag wat deur hulle beantwoord moes word.
“Wat moet ’n pasmaat doen om jou in ’n goeie bui te kry?” was die vraag wat Rudi voorgelees het. Vir Hannes was dit wanneer iemand krag uitoefen en vir Arnold ’n glas wyn.

Die volgende vraag was so reg in Hannes se kraal: “Kan jy kosmaak?” Hy het ses jaar lank ’n restaurant gehad en kan boerekos maak, vertel hy. Arnold het ook vertel dat hy graag kos sal maak, elke aand boonop.
Hoewel nie een van dié twee eerlik wou antwoord oor hoe hulle met mekaar oor die weg kom nie, was dit duidelik ’n ongemaklike vraag wat hulle probeer ontduik het. En die ouderdomsverskilgogga het weer kop uitgesteek.
Kykers sal onthou hoe ontsteld Arnold was toe Hannes dit in die sewende episode pertinent genoem het.
Alleentyd
Hannes het eerste die geleentheid gehad om met Rudi op sy eie te gesels, en volgens hom is liefde ’n werkwoord.
“Jy kry daai gevoel in jou lewe wat jou hoendervleis gee,” het hy vir Rudi vertel oor hoe hy gevoel het nadat hy Rudi se video gekyk het. En daarmee, het Rudi erken, het Hannes sy voete heeltemal onder hom uitgeslaan.
Hannes wou by Rudi uitvis oor sy slegte eienskappe. Volgens hom het hy nog niks negatief van Rudi se kant ervaar het nie. Wel, benewens sy administrasiewerk en telefoon-etiket, moes Rudi erken dat hy soms “so soort van ’n vloermoer kan gooi” as dinge nie uitwerk soos hy wil hê dit moet nie.

Vir Arnold was dit tot nou toe ’n baie emosionele reis, maar een wat hom verwonderd gelaat het. Rudi se onderhoude was iets wat ’n groot impak op hom gemaak het. En Rudi se hart – sy liefde vir mense en sy diere.
Rudi het later genoem dat Arnold se brief aan hom sy hart heeltemal verower het. Maar daar moet in gedagte gehou word dat dit ’n brief was en dat hy nou eers werklikwaar vir Arnold leer ken het.
Rudi het nog nie begin onderskeid tref tussen Hannes en Arnold nie, maar hy is beslis ontvanklik vir die een wat vir hom die gevoel van sy kleintoontjie deur sy hart tot in sy brein kan gee, en hy glo vas dit sal nog gebeur.
Boer soek ’n vrou S17 saai uit op Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Nuwe episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Kyk ook Boer soek ’n vrou S14-S16 op Showmax.