Menu terloops
In Recaps [23 Oct 2025]

‘Boer soek ’n vrou’: Skoen aan die ander voet met pasmaats se familie en vriende


Hierdie week was dit die boere se beurt om hul gekose pasmaats se familie en vriende te ontmoet – én te beïndruk… Hier is als wat jy moet weet van vandeesweek se episode van ‘Boer soek ’n vrou’.

Deur Annelene Oberholzer
‘Boer soek ’n vrou’: Skoen aan die ander voet met pasmaats se familie en vriende

“Dis een ding om by iemand te pas, maar ’n heel ander ding om in iemand se wêreld in te pas,” was Reandi Grey, aanbieder van kykNET se gewilde maatsoekreeks Boer soek ’n vrou se gevoel oor die boere wat hul gekose pasmaats se familie en vriende moes ontmoet. Sy was in die kol toe sy dit ’n senutergende ervaring genoem het.

Benewens die ontmoeting met die ouers en familie, het elkeen van die boere se pasmaats ook ’n aktiwiteit vir die kuiers beplan.

Pieter (29), ’n skaapboer van Richmond 

Anzelle het vir Pieter by OR Tambo Internasionale Lughawe gaan oplaai. 

“Ja, dis nou heel anderster as ons wêreld,” het hy erken. Maar hy was reg vir aksie – soos om koffie te drink saam met Anzelle se ouers. Pieter het gou om verskoning gevra dat hy nie sy hoed afgehaal het voordat hy Anzelle se ma ontmoet het nie, maar sy hande was vol met geskenke vir haar en Anzelle se pa.  

En hy was maar op sy senuwees, veral omdat Anzelle oortuig was dat haar pa die een is wat hom fyn gaan uitkyk.

Boer soek 'n vrou
Pieter het gevoel dat hy beslis die regte keuse met Anzelle gemaak het. Foto’s: Skermgrepe

Skertsend wou haar ma weet of Pieter meer as 4 000 skape op die plaas het – anders is sy kersie geblus. Laggend het die antwoord gekom: “4 001.” En hy wou weet of die springbokke op sy plaas darem ook vir ietsie tel. Pieter het tog wel ’n goeie indruk op haar pa gemaak. “Ek dink sy pa en ma het hom mooi grootgemaak,” het hy goedkeurend laat hoor. “En hy en Anzelle lyk ook vir my happy,” was haar ma se terugvoer.

En Anzelle? Sy het gevoel hulle twee is reg vir mekaar, en sy kon nie wag dat hulle weer tyd saam kon deurbring nie. Haar beplanning vir die dag was vir hulle twee om valskerm te gaan spring. Pieter se nerwe het maar gelol, en hy’t gesê hy gaan voorgee asof dit niks is nie. “Ek dink ek gaan maar met toe oë spring en hoop vir die beste,” was sy oplossing.

Selfs Anzelle se senuwees was soortvan aan flarde, maar die twee se glimlagte na hul oorwegend suksesvolle landing was baie groot. Of dit van verligting was of pure genot was nie seker nie.

Boer soek 'n vrou
Die senuwees was aan flarde nadat Anzelle en Pieter gaan valskermspring het.

Teen die aand se kant was dit Pieter se beurt om die res van Anzelle se familie en vriende te ontmoet. En toe die twee hand aan hand uitgestap kom, is hulle met ’n groot gejuig verwelkom.Woorde soos “oulike couple”, “lyk of hulle bymekaar pas”, “korter as wat ek gedink het” en “daar’s iets in die lug” was deel van die gesprekke. Die aand was ’n vrolike affêre met baie gelag en gesels.

Pieter het gevoel dat hy beslis die regte keuse gemaak het. Dit was ’n diep gelukkige boer wat die aand terdeë geniet het.

Evert (38), ’n makadamia-, sitrus- en wildboer van Tshipise, Limpopo

Lauren se mense het hom baie gasvry in die Oos-Kaap verwelkom. En toe daar ’n verwelkomingsheildronk ingestel word, het Evert haar seepglad met ’n, “Askies, skat” om verskoning gevra. Want vanweë ’n kommunikasiefoutjie tussen die twee het Evert onbepland Lauren se pa en ook later vriende die vorige dag reeds ontmoet. Sy was seker dat enige senuwees wat kon pla, sommer klaar pad gevat het.

Boer soek 'n vrou
Lauren se mense het vir Evert baie gasvry in die Oos-Kaap verwelkom.

Min het sy geweet hoe direk haar pa met Evert sommer voor almal gaan gesels, en sy was baie ongemaklik toe hy wou weet wat dit is wat Evert tot haar aangetrokke laat voel het. Dit was duidelik dat daar nie doekies omgedraai gaan word nie. “Om net te sê sy is beeldskoon, doen haar ’n onreg aan. Want sy het ’n baie sterk karakter wat sy effens probeer wegsteek onder ’n baie goeie sin vir humor. So, ek lag verskriklik saam met haar,” was Evert se reaksie.

“She knows what she wants,” het ma Diane ferm verklaar.  

“Wel, ek hoop ons sien jou meer gereeld,” was haar pa se uitnodiging aan Evert. Maar Lauren het vinnig gekeer en gesê hulle moet net eers deur die dag kom om seker te maak die uitnodiging gaan staan. Terselfdertyd was haar ma baie gelukkig om te sien dat Lauren se sprankel weer teruggekeer het.

Lauren se ouers is skaapboere, en hulle het gewonder: Wat weet ’n makadamiaboer dan nou van skaapskeer? Dit was iets wat Lauren ook wou uitvind. Evert se groot wens was dat hy dit kon oefen voor hy op die plaas aankom, want hy was senuweeagtig oor hoe hy die skeerdery gaan bemeester. 

Boer soek 'n vrou
Tydens die aand se kuier met familie en vriende het Lauren se pa half teësinnig erken hy kan solank vir Evert ’n halwe merkie gee.

Tussen hulle twee is die skaap wel  op ’n plekkie raakgeskeer – en al twee het duidelik gevoel hulle sal in die toekoms eerder toeskouers as skeerders wil wees.

Later het die twee meer uitgevind oor plante in die omgewing. Hulle is ook touwys gemaak oor hoe om meringues te maak en hoe om van die veldplante daarby te inkorporeer.

Tydens die aand se kuier met familie en vriende het Lauren se pa half teësinnig erken hy kan solank vir Evert ’n halwe merkie gee. Dit mag dalk eers ’n volle merkie word wanneer Evert weer kom kuier.

Willie (26), ’n makadamia- en wildboer van Badplaas 

Willie het hom op Memel bevind, waar hy Cilmari se ouers en vriende ontmoet het. Cilmari kon nie ophou glimlag nie. Dit was vir haar net te lekker om hom weer te sien. Hy was net so bly. Die beplande familiebesoek sou eers ’n dag later plaasvind, maar nie een van die twee wou langer wag nie.

Boer soek 'n vrou
Cilmari se ouers was ook beïndruk met Willie. Vir hulle was hy bloot net homself, “amper soos ’n ander boer wat hier ingery en afgeklim het.”

Cilmari se planne vir die dag het ’n rit na die kleiduifskietbaan en perdry ingesluit. Willie kon nie sy blydskap oor die aktiwiteite beteuel nie.

Haar ouers was ook beïndruk met Willie. Vir hulle was hy bloot net homself, “amper soos ’n ander boer wat hier ingery en afgeklim het. Gemaklike indrukke gehad,” het Cilmari se pa gesê.

Haar ma het gevoel Cilmari en Willie is baie verstandig en dat hulle hierdie moontlike verhouding ’n kans wil gee, “maar ek kan definitief sien sy’s in vir die proses”.

By die skietbaan het Willie die kleiduifteikens telkemale getref, en hy was baie gewillig om handjie by te sit om Cilmari ook die teiken te laat tref. En sy het dit daarna keer op keer reggekry.

Met teikenskiet het sy gewys sy kán – en een teiken ná die ander het gesneuwel. Willie was nie heeltemal so gelukkig nie.

Boer soek 'n vrou
Met teikenskiet het Cilmari gewys sy kán.

Haar piekniek op Memeldam se wal daarna was ook ’n absolute kolskoot. Daarna is die twee te perd deur Memel se strate met ’n vulletjie wat ewe spelerig agterna gedraf het.

Van die ouer garde het hom later die aand as “plat op die aarde” beskryf en gesê sy ouers moet gelukgewens word, want hulle het ’n goeie seun grootgemaak. Hy het ook punte gekry daarvoor dat hy mense in die oë kyk terwyl hy met hulle gesels en reguit op vrae antwoord.

Rudi H (56), ’n boerbokboer van Windsorton

Boer soek 'n vrou
Wat Rudi H waardeer het, was dat Lizelle se menswees dieselfde gebly het nadat die ander potensiële pasmaats hul tasse gepak het.

Terwyl sy besig was om die tafel te dek vir Rudi H, het Lizelle erken sy berei haarself altyd voor op die ergste. Maar sy besef sy moet eintlik daardie denkwyse in ’n positiewe een omskep en dat goeie dinge wel kán gebeur.

Al waarvan Rudi H seker was, was dat hy nie weet waar hy is nie en dat hy maar net kan hoop sy GPS sal hom weer daarvandaan huis toe lei. Maar van huis toe gaan was daar nog nie sprake nie. Lizelle het heelwat planne vir die dag beraam. Dit het met ontbyt begin, gevolg deur ’n masseersessie vir paartjies en nagereg vir aandete. Oe-la-la!

Wat Rudi H waardeer het, was dat Lizelle se menswees dieselfde gebly het nadat die ander potensiële pasmaats hul tasse gepak het. Hulle kommunikeer en bel mekaar gereeld.

“Nee, sy’s agtermekaar,” het hy verklaar.

Lizelle het vir Rudi H teen die koppie laat uitklim vir ’n lieflike uitsig oor Johannesburg. Aarbeie en vonkelwyn het die oomblik nog meer spesiaal gemaak. 

Boer soek 'n vrou
Rudi H was beïndruk met Lizelle se familie en vriende en het gesê hy sal graag weer wil kuier en meer van haar mense wil ontmoet.

Rudi H het erken hy’s al amper reg om te hardloop – met ander woorde, om deel te neem aan die wedloop om Lizelle se hand. Daar was egter nog baie risiko’s en onsekerhede waaroor eers duidelikheid gekry moet word.

Tuis het sy reeds ’n malvapoeding in die oond gehad en moes Rudi H self ook ’n voorskoot aansit. Lizelle het hom aan haar familie en vriende voorgestel as “my boer, Rudi”. Hulle het gevoel die interaksie met hom was baie gemaklik en die algemene indruk was dat hy besonder goed ingeskakel het.  

Haar twee kinders veral was bly om hul ma gelukkig te sien. Rudi H was net so beïndruk met haar familie en vriende. Hy het gesê hy sal graag weer wil kuier en meer van haar mense wil ontmoet.

Rudi (47), ’n toerisme- en wildboer van Beestekraal 

Vir Hannes was die week op die plaas vol spanning, en hy het besluit om ’n spadag vir hom en Rudi by Feather Hill naby Potchefstroom te reël. 

Die twee was reg vir ’n spabederf van hul toontjie tot hul kroontjie. Maar Rudi was baie bang hy gooi naam weg omdat hy ongelooflik kielierig is. Die twee het egter die bederf baie geniet.

Boer soek 'n vrou
Wat Rudi vir lank sal onthou, is hoe tuis hy gevoel het ten spyte van sy aanvanklike senuweeagtigheid.

Kuiertyd met Hannes se vriende het ook goed afgeloop. Daar was uitroepe van skok toe Rudi vertel dat Hannes byna-byna deur ’n wildebees geskraap is die week vantevore, maar nie lank daarna nie het almal heerlik oor sy noue ontkoming gelag.

Alhoewel Rudi baie selfvertroue het in sy gewone omgang met mense, het hy erken hy was effe senuweeagtig om Hannes se familie en vriende te ontmoet.

Boer soek 'n vrou
“Ek dink hier’s ’n baie sterk, positiewe toekoms. Ek dink rêrig so, uit my hart uit,” het Hannes gesê.

“Hannes lyk baie anders – Hannes is verlief,” het van sy vriendinne onmiddellik opgemerk. Wat Rudi vir lank sal onthou, is hoe tuis hy gevoel het ten spyte van sy aanvanklike senuweeagtigheid.

“Ek dink hier’s ’n baie sterk, positiewe toekoms. Ek dink rêrig so, uit my hart uit,” het Hannes gesê.

Reandi sê

“Niemand het gesê dis maklik om jou potensiële pasmaat se vriende of familie te beïndruk nie. Liefde kan ’n kronkelrige pad wees met baie draaie. En niemand van ons kan dit alleen aanpak sonder raad of ondersteuning van ons vriende en familie nie. 

“Net tyd sal leer of nie net die geliefdes nie, maar ook hul wyer kring van vriende, nommerpas vir elkeen is. Maar as ek dinge so kyk, het die boere ’n goeie indruk gemaak.”


Boer soek ’n vrou S17 saai uit op Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Nuwe episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Kyk ook Boer soek ’n vrou S14-S16 op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

kykNET se nuwe mini-dramareeks is ’n verhaal van verlies, vergifnis en hoop

Twee mans se paaie kruis in ’n ondersteuningsgroep ná die verlies van geliefdes. kykNET se 'Elke donker wolk' verken hoe ’n onverwagse vriendskap ruimte skep vir vergifnis, genesing en hoop.

Meer

Rubriek: Gaan griffel in Ouma se resepteboek! ‘Kokkedoor: Klassiek’ is terug! 

Ná ’n voorskou van die eerste episode laat 'Kokkedoor: Klassiek' vir Marteni Burger verlang na haar ouma se resepte én sien sy uit na nog skeppies nostalgie - met ’n knippie kombuisdrama en verrassende kinkels daarby.

Meer

Van die veld tot die kelder – kuier dié November saam met VIA

Van wildplase en wynkelders tot huise met karakter: VIA se November-aanbod beloof vars ontdekkings. Kuier saam met Shari Kennedy, Leandie du Randt, Frank Rautenbach en JP Quickelberge, en leer ken die mense, stories en plekke wat Suid-Afrika so besonders maak.

Meer

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer
Sien alle opsies