Menu terloops
In Onderhoude [18 Oct 2025]

‘Boer soek ’n vrou’ se Denike oor die liefde en voluit leef


“Ek was net myself – heeltyd, altyd. En as dit nie was wat Willie wou hê nie, is dit ook reg so,” vertel ‘Boer soek ’n vrou’ se Denike nadat Willie vir haar gevra het om eerder die plaas te verlaat.

Deur Annelene Oberholzer
‘Boer soek ’n vrou’ se Denike oor die liefde en voluit leef

Een van die Boer soek ’n vrou-pasmaats wat in die 12de episode haar tasse moes pak, was die 25-jarige Denike. Sy is deur Willie (26), ’n makadamia- en wildboer van Badplaas, gevra was om die plaas te verlaat.

“Vir die meisie wat nie bly nie: Weet net jy’s ongelooflik oulik en daar is nie een enkele ding wat fout is nie. Dit is maar net hoe die ding verloop…” het hy die aanloop tot sy keuse begin – en vir Cilmari gekies om agter te bly. 

Boer soek 'n vrou
Haar trane het gevloei, maar Denike het nogtans vir Willie en Cilmari ‘n mooi storie saam toegewens. Foto’s: Verskaf

Denike, ’n jong haarstilis van Centurion, Pretoria, vertel haar gesin noem haar soms tergend “De-nikke”, want sy erken sy kan vol nukke wees. Maar daar bestaan geen twyfel dat sy, nukke en al, die lewe voluit takel nie. Van die liefde tot lag en drome droom – sonder enige huiwering storm sy voort. En sy vind haar energie in die buitelug en by haar gesin. 

Haar groot passie is om ander mense as hul beste sélf gelukkig te sien en daarom geniet sy haar loopbaan baie. Vir haar is dit ’n voorreg om enige man of vrou wat in haar stoel kom sit, selfvertroue te gee. En sy glo dat wanneer mense goed en mooi voel, hulle ook goed en mooi optree.

Die gesoute Pretorianer sê sy ken elke straat in Centurion en om elke hoek is daar herinneringe wat haar altyd laat glimlag.

Boer soek 'n vrou, Denike, Boer Willie
“Willie het my net weer gewys dat daar werklik opregte mans daarbuite is, en vir daardie herinnering is ek opreg dankbaar,” sê Denike.

Was jou inskrywing vir Boer soek ’n vrou die eerste keer dat jy so iets oorweeg het? En het enige van die ander boere dalk ook jou aandag getrek?

“O ja, dit was absoluut my eerste keer! Ek weet nou nog nie waar die skielike ‘kom ek doen dit’-gees vandaan gekom het nie, maar ek glo ek sal iewers in die toekoms presies verstaan hoekom dit uitgedraai het soos wat dit gebeur het.

“Ek was, om eerlik te wees, altyd van dié wat Boer soek ’n vrou met ’n groot gegiggel bekyk het en gewonder het hóé mense dit kan doen. Maar toe verskyn die bemarkingsvideo een aand op TV – en die volgende oomblik is ek besig om te kyk hoe om in te skryf. Dit was net Willie wat daardie aand my aandag getrek het.” 

Die liefde is vir my iets besonders en ek sien met groot opgewondenheid uit na die dag wanneer ek daardie liefde met iemand kan deel.

Denike

Hoe het dit vir jou gevoel toe jy een van die drie was wat deur Willie plaas toe genooi is?

“Om deel te wees van die eerste tien dames was reeds vir my so ’n wow!-oomblik. Ek het regtig nie verwag om een van die drie te wees wat plaas toe sou gaan nie.

“Jy skryf mos maar in met hoop in jou hart. Elke keer as ek ’n bietjie nader beweeg het aan daai eindprentjie waarvoor ek gehoop het, kon ek nie help om gelukkig en opgewonde te raak nie, al was die tyd so kort.”

Wat was vir jou die moeilikste oomblik tydens die reeks?

“Ek moet sê die moeilikste oomblik vir my was toe ek huis toe gestuur is. Dit was nie noodwendig omdat ek huis toe moes gaan nie, maar meer omdat mens so half simpel voel dat jy die kans gevat het om jouself daar buite te sit en dit dan nie uitgewerk het nie. Dit was ’n klein tydjie, maar ’n tyd vol groot hoop. ’n Mens kan vanweë die hele ervaring nie help om maar ’n bietjie emosioneel te raak nie.”

Boer soek 'n vrou
Wie bly en wie ry? Dis toe Denike wat moes groet.

Het jou deelname aan die reeks vir jou tot ander insigte oor die liefde en verhoudings gebring?  

“Verseker! Die ervaring het my net weer geleer om vas te staan in dit wat vir my belangrik is – nie net in die lewe as mens nie, maar ook in ’n verhouding. Dit het my ook laat besef hoe nodig dit is om van vroeg af die “belangrike” vrae te vra aan enige moontlike toekomstige lewensmaat. 

“ ’n Mens is geneig om dinge ligweg te begin, wat heeltemal reg is, maar dikwels word die ‘maak-of-breek’-vrae eers later gevra. Boer soek ’n vrou het my geleer om daardie vrae vroeër te vra, sodat enige pad – of dit bloot net vriendskap of ’n verhouding is – van die begin af oop en eerlik kan wees.

“Willie het my net weer gewys dat daar werklik opregte mans daarbuite is, en vir daardie herinnering is ek opreg dankbaar.”

Dink jy daar was iets wat jy anders kon doen om langer op die plaas te bly?

“Behalwe dat ek dalk iewers sou gaan wegkruip het toe dit die laaste dag vir my was, sou ek nie sê daar is enigiets wat ek anders sou doen nie. Ek was net myself – heeltyd, altyd. En as dit nie was wat Willie wou hê nie, is dit ook reg so.

“Daar is baie potte en baie deksels in die wêreld; die hele ervaring was nie net vir my nie. Ek herinner myself daaraan dat dit ook vir Willie was. Hy moes sý deksel vind in hierdie proses. En as een van ons ons pasmaat kon kry, sou ek sê dit was beslis suksesvol.”

Enige boodskap vir Willie?

“Willie, bly altyd jouself. Jy’s regtig ’n opregte en gawe mens. Ek hoop jy kry ook die respek en aandag tot detail terug wat jy so natuurlik vir ander bied.

“Dankie vir die tyd en moeite wat jy ingesit het in die kort tydjie wat ons mekaar leer ken het. Ek wens vir jou net mooi dinge vorentoe; die soort goed wat ’n glimlag op jou gesig sit.”

Wat is jou raad aan voornemende deelnemers aan Boer soek ’n vrou?

“Doen dit net! Wat is dan nou die ergste wat kan gebeur? Hy kan dalk nee sê, en dan gaan jy huis toe met herinneringe en ’n onvergeetlike ervaring. Ek sou sê dis steeds ’n wen!

“Laat jouself toe om emosioneel te raak as jy moet; dis hartsake die, nie ’n besigheidstransaksie nie.

“En die belangrikste van alles: hou jou waardes, jou geloof en jou opregte self naby aan jou deur die hele proses.”

Boer soek 'n vrou_Denike
Denike moedig mense in om vir die reeks in te skryf. “Doen dit net! Wat is dan nou die ergste wat kan gebeur? Hy kan dalk nee sê, en dan gaan jy huis toe met herinneringe en ’n onvergeetlike ervaring. Ek sou sê dis steeds ’n wen!”

Wat lê nou vir jou voor?

“Vir my lê dit daarin om aan te hou om mooi na myself te kyk. ’n Vrou wat goed na haarself omsien, sal ook mooi kan omsien na haar toekomstige man en gesin.

“Ek kyk met sorg na my hart, my gemoed, my geloof en selfs my uiterlike – want ek weet wanneer my lewensmaat oor my pad kom, sal ek met ’n oop hand 100% van dit kan gee. Die liefde is vir my iets besonders en ek sien met groot opgewondenheid uit na die dag wanneer ek daardie liefde met iemand kan deel.”


Boer soek ’n vrou S17 saai uit op Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Nuwe episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Kyk ook Boer soek ’n vrou S14-S16 op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

kykNET se nuwe mini-dramareeks is ’n verhaal van verlies, vergifnis en hoop

Twee mans se paaie kruis in ’n ondersteuningsgroep ná die verlies van geliefdes. kykNET se 'Elke donker wolk' verken hoe ’n onverwagse vriendskap ruimte skep vir vergifnis, genesing en hoop.

Meer

Rubriek: Gaan griffel in Ouma se resepteboek! ‘Kokkedoor: Klassiek’ is terug! 

Ná ’n voorskou van die eerste episode laat 'Kokkedoor: Klassiek' vir Marteni Burger verlang na haar ouma se resepte én sien sy uit na nog skeppies nostalgie - met ’n knippie kombuisdrama en verrassende kinkels daarby.

Meer

Van die veld tot die kelder – kuier dié November saam met VIA

Van wildplase en wynkelders tot huise met karakter: VIA se November-aanbod beloof vars ontdekkings. Kuier saam met Shari Kennedy, Leandie du Randt, Frank Rautenbach en JP Quickelberge, en leer ken die mense, stories en plekke wat Suid-Afrika so besonders maak.

Meer

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer
Sien alle opsies