Menu terloops
In Recaps [9 Okt 2025]

‘Boer soek ’n vrou’: ’n Onverwagte oproep, groot onsekerheid en gemengde gevoelens


Twee boere maak hul finale keuses, maar nie voordat nog ’n kinkel dinge deurmekaar krap nie… Hier is als wat jy van vandeesweek se episode van ‘Boer soek ’n vrou’ moet weet.

Deur Annelene Oberholzer
‘Boer soek ’n vrou’: ’n Onverwagte oproep, groot onsekerheid en gemengde gevoelens

“Liefde is ’n gee-en-neem-proses, nie net in jou eie gesin nie, maar ook in die omgewing waar die pasmaats hoop om eendag eie wortels te skiet. Maak die boer die gemeenskap, of maak die gemeenskap die boer?” het die aanbieder van Boer soek ’n vrou, Reandi Grey, in die 11de episode van kykNET se gewilde maatsoekreeks gevra.

Pieter (29), ’n skaapboer van Richmond 

Anzelle en Elizma het hierdie keer saam met Reandi op ’n uitstappie gegaan om kos voor te berei vir kinders in die gemeenskap. In Richmond het die drietal kennis gemaak met Ovetin Ferris van Grassroots Hope in South Africa (GHISA), wat al die afgelope 17 jaar daar ’n bydrae tot die gemeenskap maak. 

Die spannetjie het met hande vol groente kombuiswaarts geloop, vanwaar hulle sop en broodjies aan die kleinspan uitgedeel het. Al twee pasmaats het gevoel hulle kan hulself in hierdie situasie sien en dat hulle beslis deel van ’n klein gemeenskap wil wees.

Hul dag was egter nog nie verby nie. By Richmond Book Binding by die plaaslike Modern Art Projects-kompleks het hulle gaan leer hoe om boeke uit aartappel-, meel- en suikersakke te maak. 

Geselstyd met Pieter

Boer soek 'n vrou
“My hart klop vinnig,” het Pieter aan Reandi verklap. Foto’s: Skermgrepe

Maar wat het Pieter gedink nadat hy die twee pasmaats die vorige aand aan sy vriende en familie voorgestel het. Hy sê hy moes gaan motorfiets ry om sy kop weer helder te kry, maar ook dat die kuiertjie vir hom baie lekker was en dat hy gehou het van wat hy by die twee pasmaats gesien het.

“Nee, my hart klop vinnig. Ja, ek dink definitief daar kan dalk iets wees,” het hy met sy skaam laggie erken.

Alleentyd

Boer soek 'n vrou
Wie is dit wat Pieter se hart vinniger laat klop – Anzelle of Elizma?

Pieter het ’n geleentheid geskep om alleentyd met sy kuiergaste deur te bring. En die eerste kuiertjie was met Anzelle. Sy het baie opgewonde vir hom vertel hoe lekker dit was om glimlagte na gesiggies te bring. Sy het haar boek wat sy gemaak het vir hom gegee – met ’n waarskuwing dat daar ’n briefie in is, maar hy mag dit eers die volgende dag lees. 

Ook Elizma het haar handgemaakte boek aan hom geskenk. Sy was beslis baie beïndruk met wat Richmond alles bied.

’n Onverwagte oproep

Reandi vertel sy was al halfpad op pad terug dorp toe, toe sy ’n onverwagte oproep van Pieter ontvang. Hy het iets op die hart gehad – en dit moes nóú gedeel word.

“Sy’t ook maar gevoel daar gaan niks meer as vriende van ons twee af verder kan aangaan nie. So, ja, sy het maar besluit om  . . . ja, om maar eerder te gaan, ja,” het dit van Pieter gekom.

Boer soek 'n vrou
Elizma het vir Reandi verduidelik sy het besef sy het nog nie die konneksie waarop sy gehoop het, met Pieter gevorm nie.

Dis ’n gesamentlike besluit, het die twee bevestig. Terwyl daar vrede in Elizma se hart is oor die keuse wat sy gemaak het, is Anzelle, wat nou alleen gaan agterbly, baie gelukkig. “Om iemand op ’n vriendskaplike vlak te leer ken, sien jy eers ’n ander kant,” het Elizma gesê terwyl sy haar tas vir oulaas op Richmond toegerits het.

Hoekom het Elizma die besluit geneem?

Sy het vir Reandi verduidelik sy het al die vorige dag begin besef sy het nog nie die konneksie waarop sy gehoop het, met Pieter gevorm nie. Maar sy het vrede in haar hart. “Jy doen hierdie met die hoop om liefde te vind, en ja, dis sleg as dit nie uitwerk nie. Maar dit is deel van die proses.”

Reandi kom kuier

Pieter en Anzelle het van oor tot oor geglimlag. Hulle het kinderlik gelukkig gelyk en deurentyd gelag.

En die rede? “Pieter gaan my nog steeds kies,” het Anzelle geantwoord. Sy het gesê dis die eerste keer dat sy dit van Pieter gehoor het. Hy het baie gou ingespring en gesê: “Ek sou jou definitief gekies het – van die begin af.”

Boer soek 'n vrou
Anzelle het van oor tot oor geglimlag.

En sy sê sy het geweet hy gaan haar kies die oomblik toe sy haar brief ingestuur het. ’n Blosende Pieter moes erken hy kan nie alles onthou wat geskryf is nie. Maar, skop hy vas, hy gaan nie nou alles met Reandi en Anzelle deel nie. En hy systap Reandi se vraag of hy ’n bietjie verlief is. Anzelle wil dit ook nie prontuit bevestig nie.

Met die groettyd, het Reandi skertsend gesê sy voel of sy die twee moet vermaan om soet te wees.

Die laaste dag

Op haar laaste dag op die plaas het Anzelle en Pieter koffie op die koppies gaan geniet. Dit was met ’n swaar hart dat sy besef het sy moet weer huiswaarts keer. Gaan hierdie twee se koppie-kuiertjie uiteindelik na die kansel lei? Net tyd sal leer.

Boer soek 'n vrou
Lui daar trouklokkies vir Pieter en Anzelle?

Reandi het weer kom inloer en wou weet vir wie Anzelle eerste gaan bel wanneer sy haar selfoon terugkry? Haar Boer soek ’n vrou-maatjies, het sy onmiddellik geantwoord. En, wou Reandi weet, hoe sou sy Pieter nou aan daardie einste maats beskryf? “Iemand liefdevol en wat omgee; iemand wat ’n sagte hart het. En ja, wat familievas is en sterk is in sy geloof,” het dit skamerig van haar gekom.

“Jy sal een of ander tyd jou kaartjie kry, hoor,” het Pieter vir Reandi belowe. Ja, klokkies mag dalk lui – en dit gaan nie skaapklokke wees nie.

Rudi H (56), ’n boerbokboer van Windsorton

Daar het ’n salige kalmte op die plaas neergedaal nadat Paola vertrek het. Maar dit het nie beteken Lizelle en Ella kon op hul louere rus nie. Die twee het saam met Reandi na The Bridge gegaan waar daar ekstra klasse aan kinders gebied word en hulle ook van kos voorsien word. 

Hul volgende bestemming was ’n werkswinkel waar die twee touwys gemaak is in die kuns van sweiswerk. 

Ella het die sweiswerk met verhoudings vergelyk. “Partymaal is jy aan die begin nog ’n bietjie in die donker. As jy lig werp op party dinge, is [die lig] dalk ’n bietjie te skerp of te vroeg. Net soos met welding ook – jy moet maar so ’n bietjie skuur.”

Boer soek 'n vrou
Ella het die sweiswerk met verhoudings vergelyk. “Partymaal is jy aan die begin nog ’n bietjie in die donker. As jy lig werp op party dinge, is [die lig] dalk ’n bietjie te skerp of te vroeg. Net soos met welding ook – jy moet maar so ’n bietjie skuur.”

Lizelle het gesê sy besef dinge kan verander en dat daar geen waarborge bestaan nie. Aan die een kant het sy gewens die week wil nou tot ’n einde kom, maar sy is ook baie huiwerig daaroor. Wat as Rudi H haar dalk nie kies nie? Dit sal vir haar baie hartseer wees.

Vir Ella is dit meer ’n kwessie van “versigtig opgewonde”. Het dit dalk iets te doen met die soentjie wat verlede week ingeglip is?

Boer soek 'n vrou
Lizelle was eerlik daaroor dat sy baie hartseer sal wees as Rudi H haar nie kies nie.

Maar die twee kon nie wag hom hul handgemaakte trollie vir Rudi H te wys nie. “Hy stoot nog nie so lekker nie, maar ons het dit vir jou gemaak,” het dit trots van Ella gekom.

“Ons dink nogal dit lyk bevange,” het Lizelle hul handewerk verder geprys. Rudi H het die semi-stootbare trollie dadelik opgetel om ’n plek daarvoor te gaan vind.

Geselstyd met Rudi H

Reandi wou by hom uitvind of hy tussen alles deur darem ook tyd gehad het om werk te doen. Hy het gesê daar was baie agterstallige werk wat ingehaal moes word, maar daar was beslis ook tussendeur tyd om oor alles te dink.

Boer soek 'n vrou
Rudi H meen sy deelname aan die program het hom laat besef dat soms kan vrae nie net onder die mat ingevee word nie – en dit kan by tye moeilik wees.

Hy voel positief oor wat voorlê, maar … daar is ’n voorwaarde aan verbonde. Natuurlik wou Reandi onmiddellik weet wat die voorwaarde is. “As die dame instem om te bly, gaan ek sê sy moet net weet dit is nie ’n surety nie. Daar is nog onsekerheid. Ek wil amper hê sy moet self die keuse maak of ek vir haar moet gaan kuier of nie.”

Alhoewel die proses nie vir hom ’n “walk in the park” was nie, het dit hom tog geweldig gehelp met sy pad vorentoe. Hy sê hy het ook besef soms kan vrae nie net onder die mat ingevee word nie – en dit kan by tye moeilik wees.

Alleentyd met Rudi H

Voor ’n gesellige kaggelvuur wou Rudi H by Lizelle weet hoe sy daaroor voel dat dit die laaste aand is. “Dis nie lekker nie, want ek is nie baie, baie seker nie,” het sy erken en genoem dat al twee sy pasmaats baie aangetrokke tot hom voel. Maar sy het ook aan Rudi H gesê dat hy aan haar erken het daar is wel ’n mate van aangetrokkenheid by hom. Tog voel dit vir haar asof Rudi H en Ella lekker saamkuier, want as hulle bymekaar is, word daar baie gelag. En sy het erken dat sy jaloers begin voel. 

“As iemand jou nie wil kies vir iemand wie jy is nie, dan kies hulle jou nie,” het Ella verklaar. Maar dit gaan ook nie daartoe lei dat sy opgee in haar soeke na liefde nie. Sy’t laggend vir Rudi H gesê dat sy baie jammer is dat die besluit nie in haar hande is nie. Ook dat sy baie seker is dat sy vir die regte rede ingeskryf het vir Boer soek ’n vrou.

Boer soek 'n vrou
Ella het laggend vir Rudi H gesê dat sy baie jammer is dat die besluit nie in haar hande is nie.

Hy het ná afloop van die alleengesprekke gesê hy het vir die eerste keer besef hoe ernstig Ella oor die proses is. Ook dat hy in ’n stadium gedink het hy wil nie een van die twee kies nie, maar dat hy nie ’n proses gaan kortknip voordat dit deurloop is nie. “Jy kan nie ’n wedloop wen vyf treë voor die wenstreep nie. So, ek wil die hele ding hardloop.”

Die laaste dag

Die vuur is aangesteek, en daar was maar baie gemengde gevoelens – van hartseer oor wat voorlê tot verligting dat daar nou gekies en aanbeweeg gaan word. Gelukkig was daar koffie byderhand om te troos, net vir in geval. 

Toe Lizelle by Rudi H wou uitvind of daar iets was wat die afgelope week hom effe ontspoor het, het hy erken dat hy nie besef het vrouens kan so emosioneel raak nie.  Ella het gevoel of sy met ’n vol hart van die plaas kan wegstap. Maar Lizelle se emosies het hoogty gevier, en die trane het gerol.

Reandi kom kuier

Ella het aan Reandi erken dat sy gevoelens vir Rudi H ontwikkel het en dat sy veilig genoeg voel om die pad met hom te wil stap. Sy het bygevoeg dat sy nog nie 100% daar is nie, maar daar is genoeg gevoelens om haar opgewonde te maak om hom beter te leer ken. Sy wou dit al vir Rudi H noem, maar het nog nie die kans gewaag nie.

Boer soek 'n vrou
Op die laaste dag op Rudi H se plaas daar was maar baie gemengde gevoelens – van hartseer oor wat voorlê tot verligting dat daar nou gekies en aanbeweeg gaan word.

Vir Lizelle was Rudi H se ondeunde glimlag een van die redes hoekom sy vir Boer soek ’n vrou ingeskryf het. Ná die tyd op die plaas het sy die energie rondom hom beter begin verstaan. “Die persoon wat ek kies, se familie wil ek ook graag gaan ontmoet,” het ’n senuweeagtige Rudi H gesê nadat hy albei sy pasmaats bedank het vir die week. Hy het ook, soos hy teenoor Reandi gesê het, beklemtoon dat die persoon wat hy gekies het, dit nie as committed moet sien nie.

En net daarna het hy aangekondig dat Lizelle sy keuse is. Sy het hom onmiddellik die versekering gegee dat sy, nes hy, dit nie onmiddellik as ’n commitment sal sien nie.

Ella het hom en Lizelle voorspoed toegewens en met ’n glimlag in die motor geklim. Maar toe hulle wegtrek, het die emosies haar oorweldig. “Ek huil nie omdat ek huis toe gaan nie – ek huil omdat hy haar nie ken nie,” het sy tussen die trane deur gesê. Wat haar pla, is dat Lizelle na bewering Rudi H se video 72 keer gekyk het.

“Sy’s obsessief oor hom. Van die begin af. En dit kom van al die girls af. Sy is die common denominator in alles en om ’n goeie mens te sien ’n verkeerde keuse maak … Maar ja, dis ander mense se skoolgeld. Dis nie myne om te betaal nie.”

Boer soek 'n vrou
“Ek huil nie omdat ek huis toe gaan nie – ek huil omdat hy haar nie ken nie,” het Ella tussen die trane deur aan Reandi gesê. “Sy’s obsessief oor hom.”

Intussen is Lizelle bekommerd oor hoeveel sy van haar “eie ek” gaan moet kruisig en dat sy vroeër wel vir Rudi H genoem het dat sy “geite en grille” het.

Reandi sê

“Vandag was ’n dag vol nuwe ontmoetings, nuwe plekke en onvergeetlike ervaringe. Maar aan die einde van die dag is dit die hart wat saak maak. En daar moet besluite gemaak word rondom die liefde – liefde, nie net vir jou naaste nie, maar ook vir daai een wat hoop om jou hart te wen.”


Boer soek ’n vrou S17 saai uit op Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Nuwe episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Kyk ook Boer soek ’n vrou S14-S16 op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Binnelanders’-kykgids vir Augustus 2026

Die waarheid oor ’n dokter lei tot ’n dramatiese wending en Joe is desperaat om vrae oor sy identiteit te beantwoord. Dít en nog meer is wat op ‘Binnelanders’-kykers vandeesmaand wag.

Meer

Jou ‘Diepe Waters’-kykgids vir Augustus 2026

Jacques en Theresa se groot dag breek aan, terwyl Karla en Arno nie tot ’n vergelyk kan kom nie. Hier is waarna 'Diepe Waters'-kykers in Augustus kan uitsien.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir Augustus 2026

Mike maak (weer) droog, Kaashifa vind iets skokkend uit en die Samsodiens sien rooi... Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in Augustus kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies