Daar is ’n tyd om te kom . . . en ’n tyd om te gaan. Maar ai, as dit jou tyd is om Boer soek ’n vrou te verlaat, is die gaan nie altyd lekker nie. Met die vyf boere wat nou klaar hul keuses gemaak het oor wie se geselskap hulle ’n bietjie langer wil geniet, is daar uitgevind hoe dit met diegene gaan wat ongelukkig hul tasse moes pak.
Soos wat met 28-jarige Theresa Venter van Bloemfontein in die 12de episode van die 17de seisoen van die reeks gebeur het.
Dié aantreklike slimkop het in die pastorie saam met haar twee broers en ’n suster grootgeword. En binnekort gaan sy haar graad in neurofisiologie afhandel voordat sy vir twee neuroloë in die Rosestad gaan werk.
Theresa het haarself saam met Lauren op die plaas van Evert (38), ’n makadamia-, sitrus- en wildboer van Tshipise (Limpopo) bevind. Sy het kort voordat sy uitgestem is, skamerig aan Reandi erken dat sy tog wel effe verlief op die jong boer was. Vir haar was hy “awesome and well-rounded”, kwaliteite wat sy tot nou toe as baie raar in die regte wêreld ervaar het.
Wie se hart sal dan nou nie vinniger gebons het as die aantreklike boer haar as asemrowend bestempel het nie?

Was jou inskrywing vir Boer soek ’n vrou die eerste keer dat jy so iets oorweeg het? En was Evert die enigste boer in die huidige seisoen wat jou aandag getrek het?
“Die keuse om vir Evert te skryf, was ’n spontane besluit wat ek op die ingewing van die oomblik gemaak het. Ek is nie juis iemand wat belangstel in werklikheidsreekse nie, maar ek geniet wel uitdagings.
“Evert se bekendstellingsvideo het ’n dinamiese en wyse persoonlikheid reflekteer. Dít, saam met van sy ander belangstellings, het my gedagtes geprikkel rondom moontlikheid om in daardie tipe lewe te deel. Nee, my aandag was beslis nie verdeel tussen ander boere nie.”
Jy en Lauren kon meer tyd met Evert op die plaas deurbring nadat Eloise weens werksverpligtinge die plaas verlaat het. Het dit jou meer hoopvol gelaat?
“Ek was dankbaar vir die voorreg om meer tyd saam met Evert te kon deurbring; ek glo dit het vir beide hom en myself die geleentheid gegee om mekaar beter te leer ken. Ek het vrede oor elke keuse wat gemaak is, asook die uitkoms van die proses.”
Wat was vir jou die lekkerste en die moeilikste oomblikke tydens die reeks?
“Ek het elke aktiwiteit op die plaas saam met hom (en Lauren) vreeslik baie geniet. Die atmosfeer was altyd respekvol en vrolik tussen ons. Baie van my gunsteling herinneringe sluit in die tye wat nie op kamera vasgevang is nie. Soos daardie aande waar ons die stoele kon nader trek om die vuur, tafel dek en eet by die uitkykpunt en dan bed maak onder die mooie baobab met die hemelruim wat doer ver bo sy blare flikker. Dit was tydens hierdie oomblikke wanneer ons dieper gedagtes gedeel het en ons persoonlikheidseienskappe eerlik na vore gekom het.

“Een van die aktiwiteite wat my kinderlik opgewonde gemaak het was toe ons een middag ’n paar skote gaan skiet het. Sonder enige doelbewustheid van my kant glo ek Evert kon my subtiele uitdagende persoonlikheid raaksien.
“Daar is nie een enkele oomblik wat ek as moeilik sal beskryf nie. Tog sal ek erken dat ek van die begin van die seisoen oortuig was van die uitkoms, maar ek het steeds met goeie moed en vriendelikheid deelgeneem.
Ek het vrede oor elke keuse wat gemaak is, asook die uitkoms van die proses.
Theresa
“Wat wel vir my sleg was, was dat ek nie die produksiespan behoorlik kon groet of my dankbaarheid teenoor elkeen van hulle kon uitspreek nie. Alles het net so vinnig aangegaan nadat ek huis toe moes gaan.”
Het jou deelname aan die reeks vir jou tot ander insigte oor die liefde en verhoudings gebring?
“Ek het wel tot geen nuwe insigte oor die liefde gekom nie, maar daar was wel oomblikke wat ek geworstel het oor die gepastheid van optrede met oorgawe, of om eerder meer konserwatief te bly. Ek dink dat tyd op die plaas my tog geleer het om geduldig te wees wanneer verhoudings gebou word. It takes two to tango en ’n verhouding kan nie geforseer word nie.”
Sal jy na dese steeds oorweeg om ’n boer as lewensmaat te soek?
“Ek het nog altyd die hoop gekoester om eendag ’n boer as ’n lewensmaat te hê.” (Maroela Media berig dat Theresa liefde gevind het.)
Enige boodskap vir Evert?
“Dit was vir my mooi om te besef en te beleef dat Evert se optrede teenoor ons in lyn was met dit wat sy familie, vriende en kollegas oor hom te vertelle gehad het. Ek is dankbaar vir die wondermooi tyd wat hy my op die plaas en dorp gebied het! Mag goedheid en guns hom volg, en mag al sy keuses vredevol en suksesvol wees.”

Wat was vir jou die grootste groei-oomblik in die reeks gewees?
“Daar was nie ’n spesifieke oomblik vir my nie, maar ek het ’n doelbewuste besluit geneem om so goed as moontlik met al die uiteenlopende persoonlikhede oor die weg te kom, selfs al was ons daar met dieselfde doel.”
Wat is jou raad aan voornemende deelnemers aan Boer soek ’n vrou?
“Sou jy hierdie doen met die uitgangspunt dat jy niks het om te verloor nie en dat jou bedoelings opreg is om moontlik liefde te vind, is hierdie ’n besonderse ervaring. Doen dit!”
Wat lê nou vir Theresa voor?
“Nuwe vooruitsigte vir werk en liefde…”
Boer soek ’n vrou S17 saai uit op Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Nuwe episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Kyk ook Boer soek ’n vrou S14-S16 op Showmax.