Die aftel na die volgende seisoen van een van Suid-Afrika se gewildste werklikheidsreekse skop Sondag, 27 Oktober om 20:00 af wanneer kykNET die tien boere vir die volgende seisoen van Boer soek ’n vrou bekendstel.
Vanjaar se oes van deelnemers se ouderdomme wissel tussen 26 en 56, en die boere verteenwoordig ses provinsies met die Vrystaat wat die voortou met drie hubare boere neem.
Reandi Grey, wat pas as die sewende aanbieder van Boer soek ’n vrou aangekondig is, het reeds met die nuwe boere kennis gemaak en sy is baie opgewonde om hulle bekend te stel. “Elke liewe een van hierdie boere is volronde mense met soveel emosie en soveel liefde,” sê sy.
“Hierdie gaan ’n onvergeetlike seisoen wees en Suid-Afrikaners gaan aan hulle lippe hang.”
Die reeks sal van Augustus 2025 op kykNET uitgesaai word. Oudergewoonte sal dit fokus op die vyf boere wat die meeste briewe ontvang het.
Diegene wat vir een van die top-tien boere ’n brief wil skryf moet ouer as 21 wees, en ongetroud, geskei of ’n weduwee/wewenaar wees.
Persone wat die boere beter wil leer ken, kan om 20:00 op kykNET (kanaal 144 op DStv en DStv Stream) inskakel. Die boere se profiele en meer inligting oor die reeks sal ook hier op terloops en die kykNET-webwerf gedeel word.
Voornemende pasmaats sal vir die boere briewe kan skryf, of hul belangstelling op die gewilde Afrikaanse maatsoek-app KOER kan wys.
2025 se boere is:
Nicolaas (37), skaap- en saaiboer van Bredasdorp, Wes-Kaap

Rudi H (56), boerbokboer van Windsorton, Noord-Kaap

Lourie (26), beesboer van Vryburg, Noordwes

Rudi (47), toerisme en wildboer van Beestekraal, Noordwes

Evert (38), makadamia-, sitrus- en wildboer van Tshipise, Limpopo

Willie (26), makadamia- en wildboer van Badplaas, Mpumalanga

Reinier (29), saai-, bees- en skaapboer van Frankfort, Vrystaat

Ruan (30), Skaap-, bees- en saaiboer van Tweespruit, Vrystaat

Christof (38), turksvy- en soutboer van Petrusburg, Vrystaat

Pieter (29), skaapboer van Richmond, Noord-Kaap
