Menu terloops
In Recaps & Resensies [6 Nov 2025]

‘Boer soek ’n vrou’: Dis reünietyd! Wie se harte het Kupido getref…?


… en watter boere het Kupido heeltemal gemis tydens die afgelope seisoen van ‘Boer soek ’n Vrou’?

Deur Annelene Oberholzer
‘Boer soek ’n vrou’: Dis reünietyd! Wie se harte het Kupido getref…?

“Toe ek vir die eerste keer ons tien boere ontmoet, kon ek myself nooit die reis voorstel wat ons saam gaan aanpak nie. ’n Mens dink altyd jy weet hoe die lewe gaan uitdraai, of watter impak liefde op ’n mens se lewe kan hê. Maar om op so ’n manier deel te kon wees daarvan, soveel van die eerste oomblikke saam met hulle te kon beleef …  was net onbeskryflik.” Met hierdie woorde het Reandi Grey, aanbieder van kykNET se maatsoekreeks Boer soek ’n vrou, die laaste episode van die 17de seisoen van die reeks ingelei.

Boer soek 'n vrou
Reandi Grey, aanbieder van kykNET se maatsoekreeks Boer soek ’n vrou, het die pad wat sy saam met vanjaar se boere gestap het as ’n “onbeskryflike” ervaring bestempel. Foto’s: Skermgrepe

Dit was nie net die laaste episode van die reeks nie, maar ook die eerste keer dat agt van die tien boere wat die aanvanklike kortlys gehaal het, mekaar in persoon ontmoet het. Twee Vrystaatse boere het nie die reünie bygewoon nie. Dit was Christof (38), ’n turksvy- en soutboer van Petrusburg, en Ruan (30), ’n skaap-, bees- en saaiboer van Tweespruit.

Die bymekaarkomplek was Brenaissance Wyn en Stoet-landgoed naby Stellenbosch.

Reandi kon nie wag om uit te vind waar die boere met hul pasmaats staan nie. 

Evert (38), ’n makadamia-, sitrus- en wildboer van Tshipise, Limpopo

“Jy kry ’n boer in al vier hoeke van die wêreld, maar elkeen van ons kniel op dieselfde grond in ons soektog na bietjie produksie, oes, bietjie liefde,” het hy gesê met Lauren styf onder die arm vasgeknyp. 

Hy en Lauren het erken dat die afstand vir hulle moeilik is, maar dat hulle maniere soek om dit makliker te maak. Soos byvoorbeeld deur op hul onderskeie fone terselfdertyd na dieselfde fliek te kyk.

Maar, wou Reandi weet, is daar planne om plaas toe te trek? Lauren het glad nie ongeneë gelyk nie terwyl Evert bly glimlag het soos ’n kat wat room gesteel het.

Evert en Lauren het sedert die verfilming van die finale episode besluit om afsonderlike paaie te stap.

Boer soek 'n vrou
Ongelukkig het dié twee se paadjies sedert die verfilming van die reünie-episode geskei…

Lourie (26), is ’n beesboer van Vryburg, Noordwes

Boer soek 'n vrou
Lourie en sy Monya!

Kyk net so vir Lourie. Hy het nie alleen opgedaag nie – en hy glo hy het “die een” gekry, en haar naam is Monya. Sy was een van die briefskrywers, en haar brief en foto het glo dadelik sy oog gevang. Haar brief het boonop elke keer op Eddie en Jeandré, sy makkers wat saam met hom deur die briewe gewerk het, se hopie beland.

Tydens die reünie was die twee reeds twee maande lank in ’n verhouding.

Willie (26), ’n makadamia- en wildboer van Badplaas 

Ná ’n heerlike kuier saam, is hy en Cilmari steeds bymekaar, en alhoewel beide oopkop is oor die pad vorentoe, wil dit voorkom asof daar ’n toekoms vir die twee saam wink.

Willie het Reandi vertel hulle het mekaar al beter leer ken, en gelukkig, tot dusver, is daar niks waarvan hulle nie van mekaar hou nie. En as ’n bonus dra sy keuse boonop sy ouers se goedkeuring weg.

Willie en Cilmari het sedert die verfilming van die finale episode besluit om afsonderlike paaie te stap.

Boer soek 'n vrou
Dié romanse het ook ongelukkig in die stof gebyt…

Reinier (29), ’n saai-, bees- en skaapboer van Frankfort, Vrystaat

Die jong boer het op sy eie hinkepink opgedaag, met sy regterbeen stewig ondersteun deur ’n mediese stut. Hy het wel met vier van sy briefskrywers kontak gemaak – en in hierdie stadium gesels hy gereeld met een van die briefskrywers, het hy met ’n baie breë glimlag vertel.

“Ek kan nou nie sê ek is beenaf op ’n meisie nie,” het hy tergend na sy regterbeen verwys en gesê dit was waarskynlik sy gelukbringertjie. Toe hy ’n voël op versoek van sy pa van onder die dak moes verwyder, het hy sy meniskus geskeur. Maar ten spyte van die pyn en ellende van maande buite aksie wees, was die geluk aan sy kant – die meisie met wie hy gekommunikeer het, het op dieselfde dag by die hospitaal begin werk waar hy sy knie laat versorg het!

Rudi H (56), ’n boerbokboer van Windsorton

“Lenmarie is die een wat nie wou kom nie,” het Rudi H vir Reandi gesê, maar sy het hom gou reggehelp: “Lenmarie is die een wat nie kón kom nie.” 

Wat kykers nie geweet het nie, is dat Lenmarie reeds op die lughawe was toe sy koue voete gekry het. Deels het sy aan haar intuïsie gehoor gegee, wat ook goed was, want haar dogtertjie het in die hospitaal beland tydens die week wat die plaaskuier by Rudi H plaasgevind het.

Boer soek 'n vrou
Ja, Lenmarie en Rudi H is nog gelukkig saam!

“Ek het van ’n klip af geval vir hom. Ek het baie hard geval vir hom,” het Lenmarie aan Reandi erken. Rudi H kon vir geen enkele oomblik ophou glimlag nie en het sy gevoelens vir haar behoorlik met ’n soentjie bevestig.

Nicolaas (37), ’n skaap- en saaiboer van Bredasdorp, Wes-Kaap

Hy het gesê hy’s gelukkig – sy hart is gelukkig – en dis lekker om iemand aan sy sy te hê. En hoe dan anders met ’n lieflike nooi soos Chantel?

Die twee het mekaar op die dansbaan ontmoet. Eers het hy met een van Chantel se vriendinne gedans, en toe volg ’n draai om die baan met haar, wat opgevolg is met ’n afspraak, sommer die volgende dag.

Boer soek 'n vrou
Nicolaas en Chantal het mekaar op die dansbaan ontmoet.

Vreemd genoeg het die twee baie gemeenskaplike vriende, maar hulle het mekaar nog nooit voor daardie aand van die dans ontmoet nie. Bloot toevallig het Chantel (’n opvoedkunde sielkundige) en ’n kollega ’n praktyk in Bredasdorp oopgemaak, nog lank voor die dans. Nou werk die kuiery baie lekker uit.

Rudi (47), ’n toerisme- en wildboer van Beestekraal 

Rudi het erken hy het ná afloop van die plaaskuiers tog alleentyd nodig gehad. Hannes het hom daarin ondersteun omdat hy sélf ook by tye alleen wil wees. Dis maar net om balans te vind.

Hulle het ná die Weskusvakansie Gansbaai toe gegaan waar Hannes vandaan kom. Dit het baie gehelp met onderlinge begrip tussen die twee. En ja, hulle sien mekaar om die beurt waar moontlik. “Tyd sal leer waar ons gaan opeindig,” was Rudi se antwoord op die vraag oor hulle twee se pad vorentoe.

Rudi en Hannes het sedert die verfilming van die finale episode besluit om afsonderlike paaie te stap.

Boer soek 'n vrou
Kupido het ook met dié paartjie gemis… Hulle is sedert die verfilming van die laaste episode uitmekaar.

Pieter (29), ’n skaapboer van Richmond 

Sowel Pieter as Anzelle was duidelik oor een ding: Hulle doen moeite om hul verhouding oor ’n afstand te laat werk. En hulle doen dit met die grootste vreugde. Die arme Pieter het bloedrooi gebloos toe Anzelle ’n tussenwerpsel gemaak het: “My ma kan net nie wag om kleinkinders te kry nie.” Hy het gou gekeer met: “Dis ’n bietjie vroeg vir daai.”

Boer soek 'n vrou
Anzelle en Pieter is darem nog baie verlief! Sjoe!

Sou Anzelle bereid wees om haar werk en vriende prys te gee vir die plaas? Ongetwyfeld. En hoe voel sy oor haar deelname aan Boer soek ’n vrou? Sy het erken sy het nooit gedink sy sal ooit so gelukkig kan wees soos nou met Pieter nie.

Vir oulaas

Reandi het ’n paar vrae vir die boere en hul pasmaats gehad.

  • Wie was die stoutste in die groep? Rudi H
  • Wie het almal die meeste verbaas? Willie 
  • Wie gaan eerste trou? Almal is dit eens: Pieter en Anzelle
  • Oor wie het hulle die verkeerdste indruk gehad? Nicolaas
  • Wie was die grootste terggees? Rudi H
  • Wie is die grootste kuiergat? Rudi H

Onder groot gelag het Reandi die boere een ná die ander gevra om een van die ander tien boere met net een woord op te som. Die antwoorde was insiggewend. Hierdie groep boere kan nie net boer nie – hulle beskik ook oor goeie mensekennis.

Boer soek 'n vrou
Willie en Pieter. Die een se romanse loop nog volstoom, die ander s’n het gesneuwel…

Een ding is duidelik, soos Rudi dit opgesom het, en dit is dat vanjaar se boere wel liefde gevind het. Dit hoef nie liefde vir ’n pasmaat te wees nie, maar ook liefde vir jouself. En dit is goed genoeg.


KykNET stel die agtiende seisoen se tien boere op Donderdag 13 November om 20:00 bekend. Volgende op kykNET se werklikheidsreekspyskaart is Kokkedoor: Son & see wat op Donderdag 20 November begin. Dié seisoen van Boer soek ’n vrou is vir nog ’n wyle op Catch Up beskikbaar. Kyk ook die vorige seisoene op Showmax

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Binnelanders’-kykgids vir Augustus 2026

Die waarheid oor ’n dokter lei tot ’n dramatiese wending en Joe is desperaat om vrae oor sy identiteit te beantwoord. Dít en nog meer is wat op ‘Binnelanders’-kykers vandeesmaand wag.

Meer

Jou ‘Diepe Waters’-kykgids vir Augustus 2026

Jacques en Theresa se groot dag breek aan, terwyl Karla en Arno nie tot ’n vergelyk kan kom nie. Hier is waarna 'Diepe Waters'-kykers in Augustus kan uitsien.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir Augustus 2026

Mike maak (weer) droog, Kaashifa vind iets skokkend uit en die Samsodiens sien rooi... Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in Augustus kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies