In die dramareeks Appels en tee vertolk Ivan Zimmermann die karakter Dawid Rossouw wat met Diaan Lawrenson se Lisa getroud is. Hy het vir Terloops meer vertel:
Vertel ons meer van Dawid Rossouw. Hoe het jy die karakter gevorm?
“Wanneer ek ’n teks vir die eerste keer lees, vorm ek dadelik en soms baie impulsief ’n prentjie van hoe die karakter lyk. Meestal is dit ’n groot en rowwe plek waar ek begin. Maar met die leiding van die regisseur en skrywer, in hierdie geval Berdene Burger en Tina Kruger, skep ons dan as ’n span saam ’n karakter met ’n aanslag wat ons dink die eerlikste sal wees. Ek glo daardie driemanskap wat saamwerk, is ’n natuurlike vloei baie belangrik.
Wat is jou interpretasie van Dawid?
“Dawid is die persoon wat die spreekwoordelike spieël voor Lisa (Diaan Lawrenson) ophou. Hy is eintlik alles wat sy nié in die lewe wil wees nie. Vir my is Dawid presies wat fout is met meeste van ons mans, selfs vroue ook. Ons wil álles beheer en besit. Ons is gierig en selfsugtig. Ons doen absoluut niks daaraan om ons ego’s in toom te hou of selfs te vernietig nie.”

Dawid het aansienlik meer hare as jy. Wat was die motivering daaragter?
“Ek is altyd lief daarvoor om my voorkoms te verander om karakters te skep. Dis vir my amper noodsaaklik om te doen. Ek het al gaatjies in my ore geskiet vir ’n karakter, blou kontaklense gedra, my hare in ’n ronde bles geskeer, brille en boepense gedra. Dit is net vir my deel van die genot van toneelspeel.
“Die idee met die hare het gekom die eerste keer toe ek die teks lees. Ek het net gedink, ‘Hierdie ou moet ’n kuif hê!’. Maar dit was nie net ’n geval van gee vir Dawid ’n pruik nie. Dit moes deur almal van kykNET tot die regisseur goedgekeur word, en ek is bly almal het ingestem. Die mense by Quiff SA het uitstekende werk gedoen. Miskien met ’n volgende karakter het ek ’n poniestert.”

Wat dink jy is Dawid se swak- en sterkpunte?
“Dawid probeer te hard. Hy is nie baie lief vir homself nie, en sy sterkste punt is eintlik ook sy swak punt – en dit is dat hy geweldig ambisieus is. Dit is wat hom immers dryf. Dinge soos geldgierigheid word gebore uit mense wat nie lief vir hulself is nie.”
Wat het jy die meeste daarvan geniet om deel van hierdie rolverdeling te wees?
“Ek het dit baie geniet om saam met Neels [van Jaarsveld], Tinarie [van Wyk Loots] en natuurlik weer Diaan te werk. Dit was wonderlik vir my om saam met Berdene te werk en deel te kon wees van die natuurlike vloei van almal op stel.
“Om saam met iemand soos Ian Roberts te werk was ook ongelooflik. Hy is soos liefde op twee bene. Hy het die wonderlikste stories wat hy vertel. Wie sou ooit kon dink dat ek die voorreg sou hê om saam met hom te speel?”

Jy en Diaan het albei jul tande in 7de Laan geslyp. Hoe was dit om weer saam met haar te speel?
“Hoewel ek en Diaan nie op dieselfde tyd in 7de Laan gespeel het nie, het ons wel jare gelede saam op die verhoog gewerk. Dit was op Deon Opperman se toneelstuk Pleiboyz wat in 2006 by die KKNK opgevoer is. Diaan se man, Jody Abrahams, was die regisseur.
“As ek vandag na Diaan kyk, sien ek ’n talentvolle, beeldskone vrou wat met grasie deur ’n uitdagende bedryf beweeg. Só behou sy ook daardie grasie met haar familie, en sy en haar man is beide vir my baie inspirerend. Dit was ’n groot voorreg vir my om teenoor haar te kon speel. Sy het sonder twyfel die beste in my uitgebring.”

Wat het jy by die veterane Rika Sennett en Ian Roberts geleer?
“Hoe belangrik die oomblik is wanneer daar, ‘Aksie!’ geroep word. Bly in daardie oomblik. Maak nie saak wat nie. Ek het ’n mooi nederigheid van hulle ervaar wat ek saam met my kan dra.”
Waarmee hou jy jouself nog besig?
“Ek het ’n produksiemaatskappy, Milkybush Productions, wat spesiailiseer in YouTube-kanale, podsendings, korporatiewe video’s, troues, digitale advertensies en inhoud, asook in inhoud vir die toerismebedryf. Ek is lief vir verf en hou van die groeiproses waarin ek is. Ek tree ook elke nou en dan op saam met Koos van der Merwe waar beide van ons van ons oorspronklike liedjies deel.”
Wat was die beste deel van jou besluit om vyf jaar gelede Heroldsbaai toe te trek?
“Om my droomavontuur te kan leef en om te kan asemhaal waar my voete is. Eindelik is ek tuis.”
Wat is jou hoop vir 2026?
“Om die krag te hê om die dinge te verander wat ek kan, en om die dinge te aanvaar wat ek nie kan verander nie. Om verder te bou op wysheid, deursettingsvermoë, roetine en dissipline. Om daar te wees vir my vriende en familie wanneer hulle my nodig het.”
Appels en tee saai Dinsdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.