Menu terloops
In Onderhoude [20 Mar 2025]

Vir aktrise Anré Bouguenon is ‘Binnelanders’ die kans waarvoor sy gewag het


Aktrise Anré Bouguenon hou kykers al die afgelope paar weke op hul tone terwyl hulle probeer om die raaisel rondom haar ‘Binnelanders’-karakter Imke – of is dit Desiré? – op te los. 

Deur Tarren-Lee Habelgaarn

Stroom 'Binnelanders'

Vir aktrise Anré Bouguenon is ‘Binnelanders’ die kans waarvoor sy gewag het

In kontras met haar onlangse karakters is die aktrise Anré Bouguenon ’n oop boek. Wat jy sien, is wat jy kry.

Sy het haarself nog altyd met ’n oop hart en selfvertroue gedra, vertel Anré. Dis juis dié selfvertroue, tesame met ’n hunkering na avontuur, wat haar genoop het om haar plattelandse tuisdorp, Upington in die Noord-Kaap, vir die Goudstad te verruil. 

Maar, soos die lewe dit wou hê, het haar planne ’n bietjie van ’n ompad geneem voordat sy ons skerms getref het. 

“Ek wou nooit regtig ’n aktrise wees nie. Ek het nog altyd ’n liefde vir die kunste gehad, maar ek was mal oor dans. Ek het nooit betrokke geraak by alkohol of partytjies nie; my verslawing was dans. En ek het groot drome gehad om ’n danser te word,” vertel Anré.

Uiteindelik het sy besluit om teater te studeer. “Ek het vinnig besef die enigste manier hoe ek ooit genoeg geld sou kon maak as ’n danser, sou deur kinderteater wees of as deel van die ensemble in musicals. Ek was nie regtig lus om voor mense te sing nie, so musicals was nie my eerste keuse nie. Maar dit was eintlik tydens my kinderteater-studies dat ek verlief geraak het op die storievertel-aspek daarvan. Dit is toe dat die droom van dans na toneelspel oorgeskakel het,” sê sy.

“Ek het begin om myself ernstig in toneelspel te dryf. Toe ek my studies voltooi het, het ek hard gewerk om ’n agent te kry. In 2014 het ek my eerste rol as ’n dans-ekstra op die stel van Sterlopers gekry. Dit was nie ’n groot rol nie, maar dit het my ’n voorsmakie van ’n stel gegee.”

Tuis agter die skerms

Vir die volgende paar jaar het sy baie oudisies gedoen, maar sy het gesukkel om rolle voor die kamera te kry. Dit is tydens die beplanning van haar troue met mede-akteur Charlie Bouguenon dat sy die geleentheid gekry het om as ’n assistent te werk op ’n projek vir FliekNET – en dié bul het sy by die horings gegryp. 

“Ek wou net op ’n stel wees en sien hoe dinge werk. Dit het my nie gepla wat ek op die stel doen nie, ek wou net dáár wees,” onthou sy.

“Wanneer ek terugkyk, is ek so dankbaar vir daardie geleentheid, want ek het ongelooflik baie as ’n jong aktrise geleer. Om wonderlike akteurs dop te hou en te sien hoe hulle tonele aanpak, was regtig amazing. Meer belangrik, ek het ook die verskillende elemente van ’n stel leer ken, en nou weet ek presies wat elke departement van ’n akteur verwag. Dit help my om my beste werk te lewer wanneer ek voor die kamera is.”

Anré het sedertdien op die stelle van talle ander produksies gewerk, waaronder Thrift tot die dood, Vergeet my nie, Die Speelkamer en Getroud met rugby. Anré sê wanneer sy nie voor die kamera werk nie, sal mense haar steeds iewers agter die skerms op stelle vind. 

“Dit is nie altyd dat ’n mens van een projek onmiddellik na ’n ander projek oorgaan nie. Jy moet maar wag totdat daar ’n rol of geleentheid beskikbaar is. Dit is in daardie stil tye wat ek baie gelukkig is om behind the scenes te kan werk. Dit het tot dusver verseker dat ek nog altyd ’n inkomste gehad het,” vertel sy. 

“Ek onthou hoe mense vir ’n baie lang tyd vir my altyd net agter die skerms gesien het. Ek ek weet baie van hulle het nie geglo dat ek eintlik ’n aktrise is of wou wees nie. Dit is nou vir my baie lekker om baie van daai mense op stelle te sien en saam met hulle te werk. Elke nou en dan kan ek sien iemand is verbaas en dan besef hulle, ‘O, sy is ’n aktrise,’ deel sy laggend. 

Die droomrol

Vir Anré was daar egter nog altyd een groot droomrol as aktrise: om op Binnelanders te speel. Sy onthou hoe sy as jong meisie voor die TV vasgenael was om eers 7de Laan, en toe later Binnelanders, te kyk. As ’n sepieliefhebber was daar een karakter wat vir haar uitgestaan het en dit was Binnelanders se Pippa (Nadia Valvekens). 

Anre Bouguenon, Binnelanders
Anré Bouguenon in Binnelanders. Foto: Verskaf

“Ek was gaande oor die karakter; sy was altyd so sweet en veelsydig. Nadia het haar ook natuurlik ongelooflik vertolk. Ek het altyd gehoop ek kry die kans om op Binnelanders te speel.” 

Vir ’n hele paar jaar het dit gelyk asof dit nie sou gebeur nie… Anré het immers al sewe keer vir ’n rol in Binnelanders oudisie. En toe kom die rol van Desiré/Imke. “Ek dink hulle was toe al so moeg van my dat hulle uiteindelik besluit het om ’n kans op my te neem,” skerts sy. “En ek is so bly dat dit nóú gebeur het. Nie een van die ander rolle waarvoor ek voorheen oudisies gedoen het (by Binnelanders) het só ’n diepte en soveel verskillende lae nie. Hierdie rol was beslis die wag werd. Dit is regtig ’n droomrol. 

“Ek sou gelukkig gewees het om enigiets op Binnelanders te kon speel. Maar toe ek die dag by die groot table read sit en besef waarheen die storie gaan – en dat ek twee karakters sou speel – was dit vir my ’n ekstra bederf. Dit het gevoel asof ek die maan en die sterre gekry het met ’n lekker uitdagende rol vol vleis.” 

Omgeehart

Volgens Anré is Desiré baie nader aan haar eie persoonlikheid as Imke. “Imke is baie meer slinks en maak nie oogkontak met mense nie. Desiré het ’n hart vir mense en gee baie om. Dit is juis oor haar omgee dat sy haarself in die situasie bevind waarin sy tans is,” vertel sy. 

En hoewel sy twee karakters vertolk met verskillende persoonlikhede, was dít nie die grootste uitdaging vir haar nie. “Omdat hulle nie episodes in volgorde skiet nie, was dit nogal uitdagend om by te hou met Imke/Desiré se siekte. Soms was sy al baie meer gesond, die volgende dag heeltemal gesond, en dan is sy skielik weer siek. So om by te hou met hoe my lyf moet wees, hoe siek ek moet wees of voel of lyk in ’n toneel was nogal uitdagend. Maar ek het elke oomblik geniet.” 

Anre Bouguenon, Binnelanders
“Omdat hulle nie episodes in volgorde skiet nie, was dit nogal uitdagend om by te hou met Imke/Desiré se siekte,” vertel Anré. Foto: Verskaf

Oor die res van haar storielyn kan Anré nie te veel weggee nie. Sy glo egter dat Imke mettertyd nog diep in kykers se harte gaan kruip as hulle eers haar gedrag beter verstaan. Sy het glad nie slegte bedoelings nie en kyk eintlik maar net uit vir die mense naaste aan haar, meen Anré. 

Klein plesiertjies

Wanneer sy nie voor of agter die kameras is nie, vind sy geluk in stilte en by diere. Anré is juis ook die aanbieder van ’n stapprogram (Nomades) en is al vir meer as ’n dekade ’n vrywilliger by Brainy Birds Parrot Rescue. “As kind het ek baie diere huis toe gebring. Nou is ek steeds so lief vir diere, maar gelukkig neem ek nie meer diere Upington toe as ons Desember in die bloedige hitte in die Noord-Kaap gaan kuier nie.”

Dit is die eenvoudige dinge wat vir haar die meeste plesier in die lewe gee, meen Anré. En al droom sy groot, het sy nie veel meer nodig as wat sy reeds het nie.   


Nuwe episodes van Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Daar is ook elke aand ’n herhaling van die episode om 23:30, asook Dinsdag tot Vrydag om 08:30. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

26

‘G20’, ‘1923’, ‘One Piece’ en nog: 20+ TV-reekse en flieks wat in SA geskiet is

Van 'One Piece', een van Netflix se reekse met die meeste kykertalle in 2023, tot die nuwe fliek 'G20' met die Oscar-bekroonde Viola Davis – hier is ’n lys van internasionale produksies wat of gedeeltelik, of heeltemal in Suid-Afrika verfilm is.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir April 2025

Shani is opgewonde oor haar oudisie, maar Rachelle het slinkse planne vir haar... Dít terwyl Sunette met haar gesondheid sukkel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir April 2025: Koebaai aan June en Joe in ‘The Handmaid’s Tale’, ‘You’

Wat om te kyk: Dis koebaai-tyd met die finale seisoene van die fenomeen-reekse ‘The Handmaid’s Tale’ en ‘You’; Pedro Pascal is terug vir S2 van ‘The Last of Us’; en Afrikaans se wortels word ondersoek in ’n nuwe dokkiereeks – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-kykgids vir April 2025

Aline weier om met Antônio te onderhandel terwyl al wat ’n man is oënskynlik ook op haar verlief is... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in April. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies