Dit is jare sedert gehore laas vir Anel Alexander gereeld in ’n Suid-Afrikaanse sepie of telenovela gesien het. Anel, wat bekend is vir haar rol as Nina in Binnelanders en bekroonde vertolkings in rolprente soos Semi-Soet en Sink, het die afgelope dekade grootliks agter die skerms gewerk as vervaardiger en skrywer. Maar nou is sy terug in die wêreld van plaaslike televisie met ’n splinternuwe rol in Diepe Waters – en haar karakter, Linda, gaan dinge in Boskruin behoorlik deurmekaar krap.
“Ek kan nie te veel verklap nie,” sê Anel laggend, “maar wat ek wel kan sê, is dat sy interessant en layered is. Sy bring beslis drama saam met haar.”

Haar verskyning in Boskruin gaan beslis nie ongesiens verby nie! Dié glansryke galery-eienaar van Dubai mag dalk ’n droomlewe leef, omring deur Afrika-kuns en die moderne glans van die VAE, maar sodra sy in die lewens van Boskruin se inwoners stap, is moeilikheid onafwendbaar…
TV-tuiskoms
Vir Anel was hierdie terugkeer na die sepiewêreld egter nie net oor die storie nie. Dit het ook oor tydsberekening, vriendskap en ’n tikkie nostalgie gegaan. “Dit was soos om huis toe te kom,” vertel sy.
“Die laaste ruk was ek so besig met Semi-Soeter (die opvolgfliek) dat my kop heeltemal in die filmwêreld was,” verduidelik Anel.
“Toe hierdie geleentheid opduik, was een van die groot redes hoekom ek ja gesê het, die feit dat dit in Johannesburg geskiet word. Ná al die gereis vir werk was dit heerlik om weer naby die huis te kan werk.”

Maar daar was nog ’n rede… die mense! “Baie van my vriende, mense wat ek jare laas gesien het, werk aan Diepe Waters. Party van hulle het ek laas 17 of 18 jaar gelede mee toneelgespeel. Om weer saam met bekende gesigte op stel te wees, in die rolverdeling én die crew agter die skerms, was ongelooflik spesiaal. Dit het soos ’n reünie gevoel, ’n kans om ou kollegas te herontmoet en terselfdertyd ’n hele nuwe generasie akteurs te leer ken wat by die bedryf aangesluit het terwyl ek weg was.”
’n Nuwe generasie betree die verhoog
Een ding wat Anel veral opgeval het, was die groot hoeveelheid jong talent wat nuwe energie na die stel bring. “Daar is ’n hele generasie wat ek misgeloop het omdat ek oorsee was of aan ander projekte gewerk het,” sê sy.
“Om hulle nou te ontmoet, om hul dissipline en toewyding te sien – dit is inspirerend. Suid-Afrikaanse televisie het so ’n vinnige omkeertyd, dit werk soos ’n masjien. Die feit dat hierdie akteurs dag ná dag op so ’n hoë standaard lewer, sê soveel oor die talent in hierdie land. Dit maak my trots om weer deel van die bedryf te wees.
“As ek kyk na wat by feeste soos Silwerskermfees uitkom, die gehalte van plaaslike produksies, die stories, die vertolkings… dit is wêreldklas. Om terug te stap in daardie ruimte en te sien hoe dit gegroei het, is ongelooflik opwindend.”
Van filmstelle tot sepiestelle
Vir kykers wat Anel hoofsaaklik uit rolprente soos Sink of Semi-Soet ken, gaan haar terugkeer na ’n sepie/telenovela-omgewing soos ’n terugflits na haar vroeë akteursdae voel. Maar vir Anel self is die ervaring om aan Diepe Waters te werk ’n verfrissende pasverskil.

“Rolprente is wonderlik, maar dit gaan stadig. Jy kan ’n hele dag aan een toneel werk, terwyl ’n telenovela se skedule so vinnig is, jy moet voorbereid wees en vinnig kan dink. Daar is ’n energie waarvan ek amper vergeet het,” erken sy.
“Die produksiewaardes is nou so hoog. Die kameras, die beligting, die stelle – alles lyk ongelooflik. Plaaslike televisie het werklik na ’n nuwe vlak beweeg.”
Die jaar van Semi-Soeter
Terwyl Diepe Waters haar terug in die sepie-omgewing plaas, was 2024 ook ’n ware Semi-Soeter-jaar vir Anel. Die opvolgfliek van die geliefde romantiese komedie het gehore laat gons, die verhoogmusiekblyspel het vol teaters gelok en gehore is weer herinner hoekom die oorspronklike fliek so ’n klassieke treffer geword het.
“Dit was heeltemal onverwags,” vertel Anel.

“Ek sou nooit in ’n miljoen jaar gedink het dat Semi-Soet eendag ’n musiekblyspel sou word, wat nog te sê so ’n groot sukses. Om ná 18 jaar weer op die verhoog te wees voor vol gehore, was net magic. Ons kyk reeds hoe ons dit kan terugbring omdat die aanvraag so groot was.”
Tussen die fliek, die musiekblyspel en nou haar rol op televisie, was dit ’n mal paar maande. “Ek voel asof hierdie jaar my Semi-Soet-hoofstuk was,” lag sy. “En ek kla glad nie. Dit was heerlik.”
En nou… Linda
En wat van Linda, die vrou wat Boskruin op hol gaan jaag? Anel is stil, maar kom ons sê maar Linda kom nie stilletjies in nie.

Die rol van Linda het vir Anel herinner hoe lief sy vir toneelspeel is. “Ek werk graag aan projekte met Scramble Productions, ons doen dokumentêre werk, ’n bietjie stemwerk, alles dinge wat ek geniet, maar toneelspeel sal altyd my eerste liefde wees. Wanneer ’n rol soos hierdie opduik, met goeie mense, ’n goeie span en ’n bietjie drama…dan is ek daar.”
Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.