Menu terloops
In Recaps & Resensies [30 Sep 2025]

‘Lottoland help ’n dorp’: Die groen bussie kom na derduisende kilometers vir eers tot rus


In die laaste episode van ‘Lottoland help ’n dorp’ is daar teruggekyk na die ongelooflike transformasies en wonderlike mense met wie die span se paaie tydens dié program gekruis het.

Deur Annelene Oberholzer
‘Lottoland help ’n dorp’: Die groen bussie kom na derduisende kilometers vir eers tot rus

“Ek kan met trots sê die Lottoland help ’n dorp-span het meer as die omtrek van die aarde – wat 40 000 km is – gery. Dit sluit nie vlugte in nie,” het Maryke Haywood, bemarkingsbestuurder van Lottoland SA te sê gehad oor daardie kenmerkende groen bussie wat die land met ’n lading van hoop deurkruis het. 

Die Lottoland help ’n dorp-aanbieder, Leah van Niekerk, en haar span het tot dusver 44 dorpe landwyd besoek en gehelp. Hulle het nie minder nie as 487 ure op pad spandeer – en, soos sy dit verwerk het, het dit neergekom op 20 dae se aaneen-ry.

Vir haar was dit merkwaardig dat die projekspanne ten spyte van negatiwiteit en ander uitdagings, steeds onvermoeid gestoei het om verbeteringe in hul gemeenskappe teweeg te bring.

Lottoland
Die koevertjie het keer op keer hele gemeenskappe verander. Foto’s: Verskaf

Elim

In die tweede seisoen van die reeks se negende episode het Leah en haar span met Hennie Ulster kennis gemaak. Hierdie Morawiese sendingdorpie in die Overberg is die plek waar die gemeenskap saamgestaan en saamgebid het – en hul besondere kerk weer nuut laat herleef het.

“Ons is nie engeltjies nie. Hier’s baie mense met die van ‘Engel’, maar ons baklei ook maar onder mekaar,” het hy geskerts. En toe Leah vir hom die koevertjie gee waarin Lottoland R417 000 belowe het, kon hy net sy kop vasgryp en daarna hande in die lug met groot vreugde “prys die Here” aangekondig!

“Dit was ’n geskenk van Bo,” het Hennie vertel toe Leah weer kom inloer het. Volgens Hennie het talle mense die episode destyds gekyk en toeriste kom loer nou al te graag in. Sommer ook vanuit die buiteland om hierdie lieflike dorpie eerstehands te kom ervaar.

Hy het voorts vertel dat Lottoland help ’n dorp nog verdere bydraes aan die gemeenskap ontlok het. Daar is nou ook ’n gedenkmuur vir die dorp se pioniers, kalk is geskenk om die dorp weer lieflik af te wit en plante is aangekoop om die dorp te verfraai. Bredasdorp se plaaslike koerant, Suidernuus, het oor die projek geskryf en mense het weer opnuut opgewonde geraak oor hierdie streek.

Eie aan die Morawiese kerk, speel musiek ’n uitsonderlike rol in die gemeenskap, hetsy dit die orrel, ’n koor of die blaasorkes is. Nou spog die orkes met 20 nuwe basuinblasers wat die orkes se ledetal tot 42 opgestoot het. Om nie te vergeet van die geelhoutboom wat Leah op 19 Maart 2024 daar geplant het nie. Dit groei al te mooi en volgens Hannes gaan dit vir ewig daar staan!

Fauresmith

Waar Fauresmith voor Leah en haar span se aankoms meer bekend was vir die uithou-perderenne wat daar gehou word nie, is hierdie dorpie deesdae ’n gereelde “kuiergas” op TV en in tydskrifte. En boonop ’n finalis in die Kwêla dorp van die jaar-kompetisie.

Fauresmith, die dorp wat in die derde episode van die derde seisoen van Lottoland help ’n dorp aan die land bekend gestel is, het sedertdien net van krag tot krag gegaan. Lizamé Coetzee het vertel dat die dorp R500 000 van Lottoland SA ontvang het waarmee hulle die stadsaal kon restoureer. “Maar dit het natuurlik kleintjies gekry,” het sy vir Leah vertel. 

Straatname en -borde en padtekens het ook soos paddastoele opgespring en die ArtFound-roete het tot stand gekom. Sy het vertel dat die F1-groep, oftewel die Fauresmith-aksiegroep nog steeds sterk staan en dinge laat gebeur.

Ná Leah en haar span die dorp besoek het na afloop van hul projek, het die groep voortgegaan en nog ’n hele paar lieflike muurskilderye die lig laat sien. Die plaaslike kleuterskool lyk vreeslik vrolik en die Anglo-Boereoorlog-begraafplaas is mooi reggeruk. En die lysie hou nie op nie. Ook Ipopeng spog ook nou met pragtige muurskilderye.

En vandag? Die gastehuise is beslis voller en die belangstelling in Fauresmith het toegeneem. Besoekers kan ook eersdaags besoek gaan aflê by die Jangroentjie-gastehuis wat terselfdertyd ’n koffiewinkel, galery en ’n klein museum gaan huisves.

Geen droom is ooit te groot nie. Daarvan kan Lizamé ook getuig. Sy het tydens die opgradering van die stadsaal gewens dat Coenie de Villiers daar sal kan optree. Dapper-dapper het sy ’n e-pos gestuur om hom te nooi. En vroeg in Januarie het hy die dak daar behoorlik kom lig. 

Lottoland help ’n dorp se hele program wat dorpe in staat stel om saam te werk. Dít, dink ek, is ’n wonderlike wonderlike wonderlike inisiatief. En dit bring net ’n gemeenskap bymekaar,” het sy gesê.

Lottoland
“Wonderwerk op wonderwerk op wonderwerk het die afgelope seisoene van Lottoland help ’n dorp op elke dorp gebeur,” meen Leah, die program se aanbieder.

Jeffreysbaai

Hierdie dorpie was nog altyd een van die mooistes vir Leah. Tydens die derde seisoen in episode 13 het kykers gesien hoe die projekspan ’n hout-promenade van ’n outydse droommyl begin bou het. 

Leilani Coetsee en haar span se droom het destyds ’n R400 000-hupstoot van Lottoland SA ontvang waarmee hulle die eerste 250 m van die promenade kon bou. Maar hulle droom was 1,6 km . . . Die Lottoland-bydrae was fase een. Fase twee is daarna deur die Kouga-munisipaliteit en borge wat deur hulle bekom is, oorgeneem. 

Teen die tyd weet kykers dat planne soms in die wiele gery kan word. Gewoonlik was dit as gevolg van weersomstandighede, maar Jeffreysbaai het ’n unieke uitdaging gehad. Die houtstompe was klaar geplant, alles was reg om vorentoe te gaan… Maar toe besluit die dierbare rooi tobie dis presies net daar waar broeityd gaan plaasvind. Alles moes maar net weer afgebreek word om later weer van vooraf te begin.

Loulita Vosloo, die voorsitter van die Dorp van Drome-projek, het saam met Leah die voltooide promenade gestap. En dis was een groot lekkerte. Vandag word dit volgens haar elke liewe denkbare dag deur mense gebruik. Dit het nege maande geneem tot waar dit nou is, maar dis daar en dit werk! Kan jy glo? Die rooi tobies het weer teruggekeer vir broeityd – maar hierdie keer onder die skuiling van die dek wat gebou is. Loulita is vol hoop dat dit die nuwe broeiplek sal bly. Nie net is die geveerdes beskerm teen diere nie, maar ook teen strandgebruikers wat nie maklik die eiertjies kan raaksien nie en dit per ongeluk stukkend kan trap.

Bryan Dhludhlu, projeklid, is nog steeds in die wolke oor die projek. Veral ook oor die positiewe terugvoer wat in die sosiale media gedeel word.

Leilani het vertel van Pretorianers wat na afloop van die episode begin bel het om navraag oor eiendom in Jeffreysbaai te doen – juis omdat die dorp nou so mooi lyk. Dis nou nie meer net ’n lieflike vakansiebestemming nie, mense wil hier kom bly.

Daar is tog ’n bietjie hartseer verweef met die vreugde van die promenade. Een van die projekspanlede, Johan Deysel, is in Maart vanjaar oorlede. En, vertel Leilani, elke keer as hulle by Johan se paadjie kom, is daar ’n bietjie hartseer, maar ook gemeng met dankbaarheid. Want sonder hom sou hierdie projek nie gebeur het nie. Hy het vir nege maande elke dag aan die projek gewerk en ook tyd ingeruim om die terrein by die Seereddingsinstituut reg te kry vir die ontwikkeling daar.

Die drome duur voort. Onlangs is daar afgeskop met die skep van ’n fietsrybaan vir die inwoners en besoekers. 

Leah sê

Leah kon nie uitgepraat raak oor hoe ongelooflik projekleiers is nie. Dis klippe kou met alles aan’t gebeure, daar’s geen vergoeding ter sprake nie want die geld word aan al die kontrakteurs en diensverskaffers oorbetaal. En dis boonop twee maande van hul lewe wat hulle aan hierdie projekte wei. Hulle het dit bloot net ter wille van hul onderskeie dorpe en die liefde wat hulle vir hierdie dorpe koester, gedoen.

“Ek dink wat baie belangrik is om te besef is dat die verandering wat jy nie noodwendig kan sien nie. Dit was ongelooflik groot in elke dorp. Daar is hande gevat, daar is brûe gebou, daar is mure afgebreek tussen mense. En daai samewerking, daai samekoms . . . ag, dis ’n baie groot verandering vir die beter in elke dorp.

“Wonderwerk op wonderwerk op wonderwerk het die afgelope seisoene van Lottoland help ’n dorp op elke dorp gebeur.”


Lottoland help ’n dorp se episodes is nog op CatchUp beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Binnelanders’-kykgids vir Augustus 2026

Die waarheid oor ’n dokter lei tot ’n dramatiese wending en Joe is desperaat om vrae oor sy identiteit te beantwoord. Dít en nog meer is wat op ‘Binnelanders’-kykers vandeesmaand wag.

Meer

Jou ‘Diepe Waters’-kykgids vir Augustus 2026

Jacques en Theresa se groot dag breek aan, terwyl Karla en Arno nie tot ’n vergelyk kan kom nie. Hier is waarna 'Diepe Waters'-kykers in Augustus kan uitsien.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir Augustus 2026

Mike maak (weer) droog, Kaashifa vind iets skokkend uit en die Samsodiens sien rooi... Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in Augustus kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies