Menu terloops
In Wat om te kyk [1 Jan 2025]

‘Lottoland help ’n dorp’: Jeffreysbaai, klein dorp met groot hart


Vandeesweek se episode, waarin Jeffreysbaai besoek word, is die 13de en laaste episode van die derde seisoen van ‘Lottoland help ’n dorp’.

Deur Annelene Oberholzer

Stroom nou

‘Lottoland help ’n dorp’: Jeffreysbaai, klein dorp met groot hart

In die finale episode van die huidige seisoen, kuier aanbieder en sangeres Leah van Niekerk en die Lottoland help ’n dorp-span by die branderplankry-paradys van Suid-Afrika. Dis natuurlik Jeffreysbaai, of J-bay soos dit ook bekend staan.

Dis jou dorp . . .

“Dit is ’n klein dorp met ’n groot hart. Dit is groot genoeg dat ons om ’n kwaliteit-lewe hier kan hê, maar klein genoeg om jou medemens te help en jou bure te ken,” vertel Leilani Coetsee, Dorp van Drome-projekspanleier.

“Wat ek van Jeffreysbaai hou, is die mense. Daar is soveel liefde in die mense,” is hoe Bryan Dhludhlu, Dorp van Drome-projekspanlid, oor hierdie pragtige stukkie aarde en sy mense voel. En hy is trots daarop dat almal, ongeag ras of voorkeur, net die goed in ander raaksien.

“Briljante golwe, briljante strande, briljante mense . . .” sê Johan Deysel, Dorp van Drome-projekspanlid. 

Vir hoofbouer en projekspanlid Waldo van Niekerk beteken Jeffreysbaai net so baie. Hy beskryf dit as ’n gesinsvriendelike plek waar daar iets van alles is vir oud en jonk. 

Leilani noem dat mense graag hierheen kom. Benewens die goeie skole is daar beter werksgeleenthede. Dan is daar die lieflike skoon wit strande en die konstante mooi branders. Sy het ses jaar gelede na Jeffreysbaai getrek, maar is reeds diep ingewortel om die dorp nog beter en mooier te maak.

Sy was ’n eiendomsagent wat kort voor lank ’n lid van die Sakekamer geword het. Dis met trots dat sy vertel Jeffreysbaai was Kwêla se Dorp van die Jaar in 2018. Dit het ’n groep mense in die gemeenskap aangemoedig om voort te bou daarop.

Droomdorp

Dorp van Drome, een van Leilani se passies, het ontstaan danksy vrywilligers wat, soos Leah dit stel, ‘hulle hande wou vuil maak vir die dorp’.

Leilani vertel van al die vaardighede wat die vrywilligers na hierdie partytjie bring. Van hulle is gek oor tuinmaak, ander ken weer plante en bome baie goed. Daar’s mense wat kan verf, daar’s kunstenaars, daar is ’n ietsie van alles. 

Deon Goosen, stigterslid: Dorp van Drome en projekspanlid, sê hulle het besluit om die dorp te bemark vir wat dit is: ’n toeristedorp en dat daar aandag spandeer moet word op die plekke waar toeriste kom. “Die ingang van die dorp is belangrik, die roetes wat hulle ry, is belangrik. Die plekke wat hulle besoek wat van toerisme-belang is, is belangrik.”

Bryan vertel die groep doen meestal die mooimaak van die dorp in samewerking met die munisipaliteit. Dit sluit onder andere die bushaltes, parke en ook die strand in.

“Die terugvoering wat ons kry van die inwoners, asook mense wat vir onse dorpie kom kuier vakansietyd is net ongelooflik. Dit gee ons woema om te weet wat ons doen, is rêrig-rêrig ’n goeie ding,” sê Bryan.

Leilani vertel vir Leah dat een van die projekte wat hulle beoog, die Droommyl genoem word. Dit is waar dit moontlik is vir diegene in rolstoele om naby die strand te kom, en vir oues van dae om op te loop sodat hulle ook dieselfde kan doen.

Help, Lottoland help ’n dorp

Deon sê nadat hulle besluit het om vir Lottoland help ’n dorp in te skryf, moes daar op ’n projek besluit word. “Dit was soos universeel gewees. Almal het gesê ‘kom ons pak hierdie ding nou aan want almal vra altyd daarna’,” vertel hy. Dit is die houtpromenade (boardwalk) wat Leilani aan Leah genoem het.

Sy verduidelik dat hul eerste fase hul Lottoland help ’n dorp-inskrywing is. Met fase twee gaan die munisipaliteit ingespan word. Vir die derde fase het hulle skenkers gevind om die projek mee af te handel.

Die naam Droommyl is gekies omdat die promenade 1,5 km lank gaan wees, wat so na as deksels aan ’n myl is. (Een myl is 1,60934 km lank.) Dit begin by die NSRI-stasie in Pellsrus waar daar ’n piekniek- en braai-area is. Hulle wil dit vir die gemeenskap oopstel asook paadjies aanlê wat veilig en toeganklik is. Dit gaan aansluit by die hoofstrand se promenade. Fase een van die hoofpromenade begin by die karavaanpark en dit strek oor 250 m tot by Sandkasteel.

Behalwe dat hierdie toegang vir almal makliker gaan maak, is dit ook ’n werkskeppingsaksie. Verder gaan daar ook sekuriteitskameras en veiligheidspersoneel wees. Die karavaanpark gaan skoongemaak word vir parkering en tydens fase drie gaan dit geplavei word en ’n dek gaan daar gebou word vir stalletjies tydens besige tye.

“Die Droommyl waaroor hulle so droom, is eintlik vir my so ’n mooi metafoor en dis ook ’n fisiese manier om die gemeenskap aan die een kant van die dorp en die ander kant van die dorp bymekaar te bring,” sê Leah.

Die groen koevertjie

Leah noem aan Leilani dat Lottoland help ’n dorp goed na hul beoogde projekte gekyk het en dat daar iets vir haar en Dorp van Drome beskikbaar gestel is.

Leilani is eers effe uit die veld geslaan, maar toe word sy bitter opgewonde. Sy erken sy het sonder enige verwagtinge vroeër die dag gedink dit gaan bloot ’n evaluasie wees. Die R400 000 vir hulle projek het haar heeltemal oorbluf gelaat.

“Hulle het baie ander drome en projekte wat hulle wil doen, maar Lottoland help ’n dorp is die begin van daai hupstoot. Ek dink dit gaan ’n spark in hierdie dorp aansteek,” sê Leah. 

Nege maande later

Leah erken die senuwees lol so ’n bietjie omdat hulle so lank moes wag voordat hulle weer kon terugkeer. Leilani noem dat hulle dieselfde tydsduur (agt weke) as ander dorpe gehad het om die projek te voltooi. Alles was in plek, planne van waar alles gebou gaan word, was in orde. Die weeklikse vergaderings is gehou.

“En toe besluit die swart tobie (African oystercatcher) hulle wil kom eiertjies lê. Presies waar ons die boardwalk begin bou het,” vertel sy. Die stutpale was reeds in . . .

Die twee voëls se verskyning het daartoe gelei dat die munisipaliteit genader moes word vir leiding want die swart tobie was ’n stadium was die tweede skaarsste voël in Suid-Afrika. Noodgedwonge moes die bouwerk eers tot stilstand kom tot waar mnr. & mev. Tobie hul huishoudelike takies afgehandel het.

Nomvelo Siwela, omgewingspesialis: Kouga munisipaliteit, vertel die twee het reeds hul nes gebou en daar was minstens twee eiers gelê. Sy voeg glimlaggend by dat alle aktiwiteite daar gestaak moes word sodat die natuur sy gang kan gaan. Dit beteken ook die pale moes verwyder word.

En Leilani vertel hulle het eers drie weke voor Leah se terugkeer amptelik die groen lig gekry dat hulle kan voortgaan met die promenade. “Dit was ’n wilde drie weke hier in Jeffreys gewees,” erken sy.

Selfs Moeder Natuur kan hulle nie stuit

Lottoland
Die pragtige uitsig vanaf die promenade. Foto: Skermgreep

Van die bosse waardeur hulle moes strompel toe Leah die vorige keer daar was, is daar nou geen teken nie. ’n Netjies-geplaveide paadjie met vrolike kunswerk op die mure verkondig reeds luid dat daar groot dinge gebeur het en nog groot dinge vorentoe wag.

LOTTOLAND
Leah het ook gehelp met die verfwerk. Foto: Skermgreep

Die nuwe promenade laat Leah in verwondering. Leilani noem dat dit nog nie heeltemal klaar is nie, want Moeder Natuur het nog ’n paar dinge gehad om te doen . . . Die reën het so sterk neergekom dat hulle vir ’n week nie kon werk nie. Tydens die storms het die bestaande pale weggespoel. Maar die mense van Jeffreys is onverstoord – hulle het immers die reën ook bitter nodig gehad.

Waldo sê hulle het in ’n rekordtyd ongelooflik baie vermag. Buitemaatskappye, skrynwerkers en nog meer het net hand opgesteek en kom help. 

Met die nuwe ligging van die promenade nader aan die duine, dien dit nou nog ’n onbeplande goeie doel: dit help beskerm die duine!

Vanweë die weerpatrone en klimaatsverandering moes die promenade aangepas word en kon dit nie so na aan die water gebou word as wat aanvanklik beplan is nie. Selfs dit het die Dorp van Drome nie gesink nie.

“So, ons pas nou duine, diere, sommer alles hier op,” sê Leilani.

Ricardo Adams, bouer en gemeenskapslid, gee toe dat ’n terugslag in die lewe soms tot iets goed kan lei. Soos in hierdie geval waar die omgewing soveel meer baat by vind.

Vooruitgang

Vele hande maak ligte werk! Foto: Skermgreep

Waldo vertel nadat die bouwerk aan die promenade begin het, het meer borge na vore getree. En met die aankoop van die hout, het al die houtverskaffers hulle tegemoet gekom en self ook gehelp met fondsinsameling.

Loulita Vosloo, voorsitter: Dorp van Drome en projekspanlid, is net so opgewonde om eindelik die promenade te sien. Sy dink dit is ’n wonderlike ding en sien dit as absolute vooruitgang.

Leilani vertel dat hulle sommer nog verskeie ander projekte getakel het toe die promenade werklikheid geword het. Die NSRI-piekniekarea lyk nou sommer spiekeries met braaiplekke wat reggemaak is, duine wat gerehabiliteer word, plante wat geplant is, ’n nuwe paadjie en ’n sebra-kruising.

By die sebra-kruising sal besoekers Tant Engeltjie se boot aantref. Ook die oorspronklike branderplank van die bekende Kitchen Window-restaurant is waar die restaurant oorspronklik was, terwyl die walvisstert by die huidige restaurant lugwaarts wys.

‘Kultuur van gee’

“Hier’s ’n kultuur van géé in Jeffreysbaai. Die boardwalk wat hulle besig is om te bou, is een van die voorbeelde. Hoeveel mense het net gekom om te kom gee?” sê-vra Tom Bouwer, Jeffreysbaai Toerisme. 

Benewens dat hy Lottoland help ’n dorp as die katalisator sien vir die skenkings wat ontvang is vir die projek, is hy ook dankbaar vir die Kouga munisipaliteit wat meer as hulle kant gebring het.

“Ons het maar net gesien ons kan dit nie alleen doen nie en as ons hierdie hele dorp wil skoon hou en mooi maak, moet ons ander hande bykry,” vertel Christa Venter, bestuurder: Vaste afval en omgewing, Kouga munisipaliteit oor die pad wat hulle gestap het om hande te vat met Dorp van Drome. 

Sy sê dit het alreeds begin uitkring na ander dorpe wat gesien het wat gedoen kan word.

Leilani sê hierdie projek is vir die dorp gedoen en haar boodskap is: “Geniet dit. Julle is deel van ons droom!”

Sy sê ook dat Lottoland help ’n dorp veel meer gedoen het as om finansieel met hul projek te help. “Ek dink dit is die grootste les wat ons uit hierdie hele proses geleer het, en dit is: Staan saam, werk saam, respekteer mekaar en julle sal ’n goeie gelukkige einde hê.” 


Die derde seisoen se episodes van Lottoland help ’n dorp is tans op Catch Up beskikbaar. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

20

Wat om te kyk: 20+ gewilde boeke wat in TV-reekse omskep is

Van 'Recipes for Love & Murder' en 'Reënboogrant', tot 'Spooksoeker' en 'Dinge van ’n kind' – soveel boeiende boeke wat omskep is in soveel skitterende TV-reekse. Hier is ons keur van dié reekse wat jou gaan bekoor, inspireer en ontroer.

Meer

Wat om te kyk in 2025: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

‘White Lotus’, ‘The Last of Us’, ‘The Handmaid’s Tale’ en nog keer met opvolgseisoene na die kassie terug, terwyl nuwe skeppings soos ‘Suits L.A.’, ‘The Pitt’ en ‘Zero Day’ – met Robert de Niro wat vir die eerste keer in sy loopbaan van nagenoeg ses dekades in ’n TV-reeks speel – ook wag. Daar is inderdaad baie, baie lekker televisie om na uit te sien in 2025.

Meer

Plaaslike stories kraai koning met kyksyfers op Showmax

Uit die tien reekse wat die meeste in 2024 op Showmax gestroom is, was nege plaaslike produksies met slegs HBO se epiese fantasiereeks, 'House of the Dragon', wat met Suid-Afrikaanse storievertellers kon meeding. 

Meer

Golden Globes 2025: Waar om vanjaar se wenners te stroom

Van die meesterlike en epiese historiese drama ‘Shõgun’ tot die vlymskerp komedie ‘Hacks’ – hier is waar jy die reekse en films wat vanjaar beeldjies by die Golden Globes ingepalm het, kan kyk.

Meer
Sien alle opsies