Menu terloops
In Recaps & Resensies [21 May 2025]

‘Op skou’: Maak die vere die voël? Dalk nie hierdie voëls nie . . . 


In die derde episode van die kykNET-reeks ‘Op skou’ word daar gekyk hoeveel waarde daar aan mense se uitrustings geheg word en wat daarmee bereik kan word – ook op emosionele vlak – soos die wêreld van ‘cosplay’ van nader bekyk word.

Deur Annelene Oberholzer

Stroom 'Op skou' op DStv Stream

‘Op skou’: Maak die vere die voël? Dalk nie hierdie voëls nie . . . 

Het jy al van cosplay gehoor? Dít word beskou as ’n kunsvorm waar deelnemers kostuums en bykomstighede dra wat ’n spesifieke karakter uitbeeld. Een van die bekendste geleenthede in Suid-Afrika is natuurlik Comic Con Africa. Dan is daar ook rAge . . . Hier is wat ons geleer het – en mense wat ons ontmoet het – tydens die derde episode van Op skou.

Ontmoet die cosplayers

Anton Grobler

Hy is oorspronklik van Vryheid in KwaZulu-Natal. Vir hierdie amper-50er is cosplay ’n manier waarop daar meer lewe gegee word aan dit wat jy normaalweg op TV of met speletjies sien. Hy het in 2018 vir die eerste keer sy uitrusting vir Comic Con Africa aangetrek en dit nie net bygewoon nie, maar summier vir die kompetisie ingeskryf.

Op skou
Anton Grobler het dan in 2022 een van Comic Con Africa se gesogte kampioenskapstrofeë in die konstruksiekategorie verower. Foto: Skermgreep

Hy verduidelik meer oor een van die kategorieë by Comic Con Africa, en dit is Casual – waar enigiemand op die verhoog kan klim. Dit word onderverdeel in ’n beginners-, intermediêre en meesterskategorie. Vir laasgenoemde kategorie moet 95% van die uitrusting die deelnemer se eie skepping wees). En nee, ouderdom is nie ’n beperkende faktor nie! Anton het dan reeds in 2022 een van Comic Con Africa se gesogte kampioenskapstrofeë in die konstruksiekategorie verower. 

Dit was ’n fassinerende proses om daardie konstruksie aanmekaar te timmer, iets waaroor hy in diepte uitwei in hierdie episode. Sy volgende karakter is Malfurion Stormrage van die Warcraft-heelal.

Charné Jacobs (25), Vanderbijlpark

Sy het as 16-jarige begin belangstel in cosplay en het gereeld anime (animasie-produksies vanuit Japan) gekyk. Sy’t interessante uitrustings op YouTube raakgeloop en gedink dis net iets vir Allerheilige Aand (Halloween), maar gou besef dis iets wat jy elke dag kan doen.

Op skou
Charné Jacobs se karakter vir Comic Con Africa was dié van Melinoë, die dogter van Hades en die prinses van die Onderwêreld. Foto: Skermgreep

Charné erken sy’s eintlik skaam en dis vir haar lekker om iemand anders te wees.

Haar nuwe karakter vir Comic Con Africa was dié van Melinoë, die dogter van Hades en die prinses van die Onderwêreld. Sy verduidelik dat sy nie noodwendig van Melinoë se gevegstonele vertolk het nie, maar veel eerder gefokus het oor hoe sy loop en ’n paar kenmerkende houdings ingeslaan het vir foto’s. Charné het ook ’n ander kostuum by die Magical Medieval Fayre gedra, alhoewel dit (nog) nie so ’n groot geleentheid soos Comic Con Africa is nie. Vir dié geleentheid was haar uitrusting ’n kombinasie van ’n feetjie en ’n elf. 

Ma Daleen Potgieter, ewe fluks aan’t help saam met kleinsus Telique, om haar volgende kostuum klaar te kry, sê Charné was aanvanklik baie lief vir zombie-goed en bloed en dit was vir haar aan die begin baie vreemd gewees. Maar deesdae is dit vir haar net mooier en mooier . . . 

Werner von Ruben

“Cosplay is die dra van kostuums van jou gunsteling-karakter,” verduidelik die voormalige Johannesburger. Hy is baie gemaklik voor die naaimasjien wanneer hy sy kostuums skep, iets wat hy nooit gedink het hy sou doen nie. Nee, jy trek nie as ’n karakter aan omdat jy van jouself wil wegkom nie, verduidelik hy. Dit gaan meer daaroor dat jy van die karakter hou en dit graag wil vertolk.  “Dis amper soos om ’n actor te wees,” sê Werner.

Sy karakter wat hy vir Comic Con Africa voorberei het, was lord Hien uit die reeks Final Fantasy 14.  Hy vertel daar’s mense wat goeie en slegte karakters speel. “Maar as jy ’n slegte karakter, of ’n baddie soos hulle sê, speel, dan is jy nie noodwendig daardie persoon nie. Jy’s net geïnteresseerd in die kostuum,” vertel die elektroniese ingenieur.

Die eerste karakter wat hy as cosplayer vertolk het, was dié van Katsuki Bakugo van My Hero Academia. Ma Aretha Roux sê dit was vir haar baie mooi om te sien hoe Werner homself ingeleef het in cosplay. Hy erken hy moes haar soms berispe omdat sy wou hand bysit as hy gesukkel het . . . maar die kompetisiereëls bepaal dat jy alles self moet doen.

Op skou
Die eerste karakter wat Werner von Ruben as cosplayer vertolk het, was dié van Katsuki Bakugo van My Hero Academia. Foto: Skermgreep

Vir Louis Strauss, sy lewensmaat, was cosplay ’n heel nuwe wêreld om te leer ken. Deesdae is hy ’n goeie klankbord vir Werner en kom hy met haalbare oplossings na vore wanneer Werner vasbrand.

Robyn Dennis (26)

Sy is ’n cosplayer van Kemptonpark. Haar eerste kennismaking met cosplay was in 2017 toe sy by ’n stalletjie ingeloer het wat verniet zombie-grimering gedoen het. Sy het groot lof ingeoes as die “coolste” zombie en sy het dit baie geniet.

Haar nuwe karakter wat sy vir Comic Con Africa ontwerp het, kom vanaf League of Legends en dit is Aurora, die heks tussen twee wêrelde en ook die heks van rampspoed. Vir Robyn is dit die perfekte karakter, want dis net hoe sy is: sy leef in die regte wêreld en deur haar karakter. “Ek wil nie meer die nerdy meisie van skooltyd wees nie.” 

Robyn Dennis se nuwe karakter wat sy vir Comic Con Africa ontwerp het, kom vanaf League of Legends en dit is Aurora, die heks tussen twee wêrelde en ook die heks van rampspoed. Foto: Skermgreep

Maar een ding kort en sy droom daaroor: die ondersteuning van haar pa en stiefma . . . Robyn het ook die Magical Medieval Fayre bywoon. Sy was bitter opgewonde oor die boogskuttery en die vermenging van verskillende doepas. Maar die kompetisie was taai wat uitrustings aanbetref het. Sy sê dit neem haar gemiddeld ’n jaar om ’n kostuum te ontwerp en te voltooi omdat daar net soveel ander goed tussendeur is wat haar aandag vereis.  Wat sy wel in haar kostuum vir Comic Con Africa ingewerk het, was ’n knik in die rigting van haar oorlede ma wie se trourok-pofmoue die inspirasie was vir Aurora se kostuum.

Die Magical Medieval Fayre

Dit het alles bevat – van gewapende krygers (met skilde en swaarde natuurlik), tot bylgooi, boogskiet en valkery. Robyn se wens om doepas te leer maak, het waar geword. Ander het selfs geleer om hul eie towerstaffies te maak. En in tipies Middeleeuse trant was dit die koning en koningin wat die finale sê oor die deelnemers se kostuums gehad het.

Comic Con Africa

Werner het op die nippertjie onttrek want hy het gevoel sy kostuum is nie op die standaard wat hy dit wou hê nie. Maar daar’s altyd volgende jaar . . .

Maar hoe het Anton, Charné en Robyn gevaar? Kyk saam en vind uit!

Op Skou saai uit op Woensdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream). Op Skou se episodes sal ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar wees. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

kykNET se nuwe mini-dramareeks is ’n verhaal van verlies, vergifnis en hoop

Twee mans se paaie kruis in ’n ondersteuningsgroep ná die verlies van geliefdes. kykNET se 'Elke donker wolk' verken hoe ’n onverwagse vriendskap ruimte skep vir vergifnis, genesing en hoop.

Meer

Rubriek: Gaan griffel in Ouma se resepteboek! ‘Kokkedoor: Klassiek’ is terug! 

Ná ’n voorskou van die eerste episode laat 'Kokkedoor: Klassiek' vir Marteni Burger verlang na haar ouma se resepte én sien sy uit na nog skeppies nostalgie - met ’n knippie kombuisdrama en verrassende kinkels daarby.

Meer

Van die veld tot die kelder – kuier dié November saam met VIA

Van wildplase en wynkelders tot huise met karakter: VIA se November-aanbod beloof vars ontdekkings. Kuier saam met Shari Kennedy, Leandie du Randt, Frank Rautenbach en JP Quickelberge, en leer ken die mense, stories en plekke wat Suid-Afrika so besonders maak.

Meer

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer
Sien alle opsies