Hier is waarna jy hierdie week (21 tot 25 April) op Suidooster, Diepe Waters en Skemergrond kan uitsien.
Skemergrond
Die grootste geheim nog sien uiteindelik die lig in Skemergrond – en dit ruk álmal op Everlasting. Daar was al baie geheime wat die Louw-familie getoets het, maar hierdie een laat almal twyfel in dit wat hulle vir jare gedink het realiteit is. JP (Charlton George) lyk asof hy net daar inmekaar gaan sak, terwyl Jasmine (Khadija Heeger) ’n suster moet gekonfronteer en in die oë lyk. Daar was al baie tonele in die Louw-kombuis wat my sprakeloos gelaat het – dít is mos immers hul gunsteling-plek om geheime te verklap – maar hierdie week was anders.
’n Mens kon die hartverskeurende pyn van hierdie familie deur jou TV-skerm voel. Ek dink kykers gaan diep geraak word en baie van die onopgeloste raaisels van die verlede gaan uiteindelik sin maak. Kirby (Chanté Grainger) speel haar rol goed, maar is in my oë ’n groot stuk gemors. Hoe kan jy só met iemand anders se toekoms speel? Daar is baie wat ’n mens kan vergewe, maar hierdie gaan te ver.
Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.
Suidooster
Terwyl die helfte van Ruiterbosch vir Carlo (Jadon Booysen) uit Nazeem (Irvine van der Merwe) se kloue probeer red, steek ’n probleem van ’n ander soort sy kop uit.
As ek ooit iemand moes identifiseer wat my aan Aspoestertjie se halfsuster laat dink, is dit Bianca (Simone Biscombe). Sy vang altyd amper die shine, maar sy is altyd net-net nie die een nie. Bianca se liefdeslewe is een laaaaang wipplankrit. Een waarvan sy net nie kan afklim nie! En terwyl sy dit probeer uitsorteer, begin haar verslawing weer kop uitsteek, maar op die vreemdste manier.
Ai, Bianca sorg ook altyd vir vermaak, want wie het nou gedink haar storie gaan hierdie draai neem? In hierdie stadium is daar maar min wat my sou verras wanneer dit by Bianca kom. Sy kan nou net nie gelukkig wees nie. Ek wonder wat oorlede AB (Cedwyn Joel) oor hierdie nuwe gewoonte sou sê? Dit sou nou weer groot drama in die Samsoedien-huis veroorsaak het. Maar ek dink nie Rhafiek (Irshaad Ally) gaan dit duld nie. Moena (Jill Levenberg) het mos maar ’n soft spot vir haar blom.
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax.
Diepe Waters
Met Zelda (Sandi Schultz) wat besig is om te herstel, is daar nie meer veel hoop vir haar en Gys (Justin Strydom) nie! As iemand nie vir jou op jou sterwensbed kan ondersteun nie, gaan hulle beslis nie aan jou sy wees wanneer dinge goed gaan nie. Zelda se geheime het hierdie keer té diep gesny.
Maar een vrou se dood, is ’n ander of vrou se brood! René (Marijke Coetser) is reg om haar brood te verorber, maar wat gaan die res van die swemklub hiervan sê? Sanet (Nadia Valvekens) kan maar gerus ’n paar tips by René vang, want haar eks is nou nie die beste persoon om liefdesraad te gee nie.
Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.










