Reekse in allerlei tale is toenemend meer toeganklik (dankie streaming!) en bied ʼn fassinerende blik op die kulture, tale en storie-style van mense van regoor die wêreld. In baie gevalle is dit glad nie eers so diep nie – dis net goeie televisie. So, moenie dat die onderskrifte jou keer nie en probeer een (of almal) van die reeks-voorstelle hiernaas:
The Law according to Lidia Poët
The Law according to Lidia Poët is ʼn ses-episode reeks oor Italië se eerste vroulike advokaat.
Lidia moet al haar lewe lank hoor wat sy nié kan doen nie, omdat sy ʼn vrou is. Maar dié beeldskone, intelligente, dinamiese en vreeslose vrou gaan nie vir haar laat voorsê nie. Sy vind dus die heeltyd maniere om haar vaardighede en talente in te span. Nie net ten bate van haar kliënte nie, maar ook vir vroue in die algemeen. Hoewel die gebeure in die reeks in die geskiedenis afspeel, voel die temas van geslag- en klasonderdrukking wat aangespreek word vars en relevant vir hedendaagse kykers. Dit is deels misdaadfiksie, deels ʼn stryd om geregtigheid vir Lidia (pas in die regte gegradueer), wat in die eerste episode ʼn groot terugslag beleef in haar droom om ʼn praktiserende advokaat te word.
Matilda De Angelis is fantasties as die vurige Lidia, wat haar teenstanders die stryd aansê in modieuse, lieflike rokke. Sy hou van seks, en anders as wat daar vir haar tydgenote gepreek word, is flirtasies sonder toutjies vir haar veel beter as ʼn huwelik met die verkeerde man. Tog, as sy die joernalis, Jacopo (Eduardo Scarpetta), inspan om haar te help, spat die vonke gou. Haar intellek en aanslag oorskadu ook sommer gou dié van haar broer Enrico (Piereluigi Pasino), ʼn prominente prokureur.
Die klankbaan is gepeper met rock en hedendaagse ritmes. Dit smelt op ʼn interessante manier saam met die stadslandskap van Turyn in die laat 1800’s. Die reeks herinner nogal aan Netflix se Enola Holmes (met Millie Bobby Brown).
A Girl and an Astronaut
A Girl and an Astronaut is ʼn sexy nuwe Poolse wetenskapfiksie-romanse wat afspeel tussen 2022 en 2052. Dis ʼn toekoms waarin die mens se afhanklikheid van tegnologie op die voorgrond staan, maar wat tog nog bekend voel.
ʼn Ruimtevaarder, Nikoden (Iędrzej Hycnar), wat 30 jaar tevore tuig en al in die ruimte verdwyn het, keer terug aarde toe sonder dat hy ʼn enkele dag verouder het. Intussen het die liefde van sy lewe Marta (Magdalena Cielecka) en sy beste vriend/grootste mededinger Bogdan (Andrzej Chyra) getrou, ʼn dogter gehad en 30 jaar ouer geword. Maar Marta hunker steeds na Niko. Dí vind ʼn mens uit as haar alomteenwoordige AI-assistent haar een oggend trakteer op ʼn versameling foto’s van hom en hulle saam… Hoe gaan sy op sy terugkoms reageer?
Die storie ontvou in tydspronge tussen die hede en die toekoms. In 2022 is Niko en die Bogdan (Jakub Sasak) jong, kompeterende vegvlieëniers. Die beste van die beste, wat opgelei word deur die Poolse-regering vir ʼn ruimtesending met ʼn Russiese-ruimtetuig… Decider stel dit goed: “Niko and Bogdan are the alphaest of alpha males…” Intussen keer die jong Marta (Vanessa Alexander) terug uit Pole saam met Niko se suster. Hulle trek in by die familie se verlate herehuis en dit is waar sy vir Niko ontmoet. Daar is natuurlik dadelik vonke.
Behalwe vir ʼn paar baie cool skote in vegvliegtuie wat deur die lug flits, vat die eerste episode ʼn ruk om aan die gang te kom. Daar is ʼn lang toneel in ʼn nagklub waarin ʼn mens uitvind Marta is ʼn bekende Londense DJ. Dis ook waar sy en Bogdan mekaar ontmoet. Hy is die ernstiger van die twee vriende en ook die een wat as ʼn tipiese “good guy” beskou sou kon word. Maar ek moet nog kyk wat ná die tweede episode gebeur…
Daar is ook ʼn ietwat sinistere Russiese-ruimte-maatskappy (ja, hulle is sonder twyfel die bad guys) wat die omstandighede van Niko se terugkeer verduister. Dít terwyl Nadia (Daria Polunina), die kleindogter van die man wat aan die stuur van Niko se sending was, probeer vasstel wat gebeur het.
Dis spookasemkykstof, maar dis verseker een om te binge.
The Snow Girl (La chica de nieve)
The Snow Girl (La chica de nieve) is ’n intense Spaanse-misdaadriller waarin ʼn joernalis, Miren (Milena Smit), meegesleur word deur die verdwyning van ʼn vyfjarige dogtertjie, Amaya, tydens ʼn Kersparade. Dit is gegrond op ʼn roman van Javier Castillo.
Die gebeure spring tussen die hede en verlede en die temas wat aangespreek word, is swaar om te sluk. Dit is egter aangrypend.
Buiten vir die ontstellende ontvoering, is daar Miren se donker en diep traumatiese verlede wat oopgevlek word.
Die wisselwerking tussen die polisie en die media in die ondersoek na hierdie tipe misdaad, kom ook onder die vergrootglas.
The Club (Külup)
The Club (Külup) is ’n Turkse drama wat in die kosmopolitaanse Istanboel afspeel in die 1950’s. Die storie wentel om Matilda (Gökçke Bahadir) wat ná 17 jaar uit die tronk vrygelaat word ná sy moord gepleeg het.
Haar vervreemde dogter Rasel (Asude Kalebek) weet niks van haar af nie, maar hulle paaie kruis teen die einde van die eerste episode.
Dit is ʼn reeks oor die versoening tussen ʼn ma en dogter, maar ook ʼn blik op onderdrukte Joodse-minderheidsgroepe gedurende hierdie tydperk. Die klub waarna die titel verwys is ʼn luukse en gewilde nagklub waar Matilda begin werk om haar dogter te red. Intussen probeer sy ook ʼn wig dryf in die verhouding tussen Rasel en Ismet, ʼn Moslem-taxibestuurder.
Women at War (Les Combattantes)
Women at War (Les Combattantes) is ʼn Franse drama wat afspeel gedurende die begin van die Eerste Wêreldoorlog. Die agt episode-reeks laat val vir ’n slag die kollig op vroue se ervaring van oorlog. Dít is ’n narratief wat selde genoeg aandag kry.
Marguerite (Audrey Fleurot) is ’n sekswerker van Parys; Agnès (Julie de Bona) is die Moeder Owerste van ’n klooster wat deur die Franse troepe as hospitaal gebruik word; Caroline (Sofia Essaïdi) moet instaan vir haar man as hoof van die familie se fabriek wanneer hy opgeroep word en Suzanne (Camille Lou) is ’n feministiese verpleegster, op vlug van ’n polisieman wat haar van die moord op sy vrou aankla. Hul lewens vervleg in ʼn klein dorpie aan die voorste linie van die oorlog met Duitsland in 1914.
Die aktrises is uitmuntend. Met dramatiese kinematografie skroom die reeks ook nie om die gruwels van oorlog sommer binne die eerste episode bloot te lê nie.
Hoewel melodrama plek-plek kop uitsteek, is daar ook ontstellend realistiese uitbeeldings van geweld. Menslike stories anker die reeks.
Chocolate
Chocolate is ʼn romantiese Suid-Koreaanse drama wat stadig, effens melodramaties en soetsappig ontknoop. Dit trek ʼn mens nietemin in met sy storie van langverlore liefde en die impak van persoonlike trauma. Dis boonop ʼn interessante kultuurles vir dié van ons wat nie veel van Suid-Koreaanse tradisies en norme weet nie. Groot klasseverskille en vooroordeel kom ook aan die lig.
ʼn Liefde vir kos bind Lee Kang (Yoon Kye-sang) en Moon Cha-yeong (Ha Ji-won), wat mekaar as kinders ontmoet, maar weens hartseer omstandighede uitmekaarspat.
Hy laat vaar sy droom om ʼn sjef te word en om sy vooraanstaande familie gelukkig te hou, word hy ʼn neurochirurg. Sy word ʼn sjef – danksy hom.
As hulle mekaar jare later as volwassenes raakloop in ʼn hospitaalkamer, is hulle verbintenis met mekaar lank reeds uit hul geheue gewis, maar die emosionele verbintenis met kos is steeds daar…
As die 16 episodes een te veel raak, kan jy met redelike gemak vorentoe spring om uit te vind wat gebeur. Hoewel jy dalk net later gaan terugkeer na episodes om seker te maak jy het niks gemis nie.
Biohackers
Biohackers is ʼn Duitse riller wat al in 2020 op Netflix uitgereik sou word.
Die openingstoneel op ʼn trein waarin passasiers een na die ander onverklaarbaar inmekaarsak, het Netflix egter laat besluit om dit op ys te sit. Kykers, het hulle gevoel, sou dit in die lig van die Covid-pandemie onsensitief en ontstellend vind.
Tog is Biohackers ten spyte van dié toneel nie oor die uitbreek van ʼn pandemie nie, maar eerder ʼn reeks oor genetiese manipulasie. Den of Geek beskryf die reeks as wetenskap-fiksie met ʼn mediese kinkel.
Die reeks wentel om ʼn mediese student Mia Akerlund (Luna Wedler) en haar belangstelling in ʼn prominente mediese dosent, dr. Tanja Lorenz (Jessica Schwartz).
Het Lorenz iets uit te waai met wat jare tevore van Mia se tweelingbroer geword het?
Nog voorstelle
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →