Menu terloops
In Lysie-lysie [11 Jan 2023]

5 Afrikaanse kortflieks op Showmax


Die verwagtinge van kortflieks is groot. Om onder 60 minute in te klok is een ding, maar om dit te doen sonder dat die storie daaronder lei, is ’n heel ander partytjie.

Deur Stephen Aspeling
5 Afrikaanse kortflieks op Showmax

Kortflieks – hetsy 15 of 55 minute lank – vereis ’n nougesette fokus, en dat die storievertellers slim met die materiaal omgaan. Dit kan vreeslik vinnig flop, maar in ’n goeie filmmaker se hande kan dié korter formaat stories ook in fenomenale vertellings uitdraai. Hier is vyf kortflieks, nou op Showmax beskikbaar om te stroom, wat in die laasgenoemde groep val. 

1

As sy haar werk by ’n salon verloor, loop ’n alkoholis-ma die gevaar om terug te keer na haar ou bestaan op straat. Soos sy sukkel om haar lewe weer op koers te kry en na haar gesin om te sien, dreig geheime om haar pogings te ontspoor.  

Op Straat is ’n verhaal oor ’n ma se afwaartse spiraal en die verbrokkeling van haar wese. Die regie is deur Nicola Hanekom (Cut-Out Girls) se koersvaste hand. Dié filmmaker kry dit reg om die strak atmosfeer van die hoofkarakter (vertolk deur Amalia Uys, Sy Klink Soos Lente) se realiteit, met oomblikke van genesing en vergifnis, te verlig. Ook met André Odendaal en Izel Bezuidenhout (Spoorloos: Die Eiland).

2

Dié kortprent draai om die beproewings van ’n groep angsty tieners aan ’n meisiesskool. Die Klas van Juffrou Nellie Welgemoed bereik sy hoogtepunt as ’n coming-of-age-verhaal as ’n skoolopdrag om die lewe van ’n tiener op film vas te vang, ontspoor. Dan neem die realiteite van groepsdruk en die (menslike) uitdaging om jou plekkie in die son te vind centre stage.

Sagte beligting skep ’n gepaste buierigheid vir dié beide edgy én somber drama om temas van vriendskap, inspirasie, stroomop swem en die noodsaaklikheid van jou perke ken (en neer te lê) te onderskraag. 

Met onder andere Melissa Myburgh, Dane De Waal, Celeste Loots, Hannah Borthwick en Susanne Beyers in die rolverdeling. Johannes Pieter Nel (Altyd Pa) het die regie behartig.

3

Dié vakansiefliek speel in en om die klein kusdorpie van Hartenbos af en draai om die wel en weë van verskeie paartjies en oddballs – á la Love Actually. Die fliek het ’n onverwagte sjarme – dalk omdat dit ’n balans hou tussen light and breezy en effe dieper introspeksie. Dit laat dan ruimte laat vir beide pret én hartverwarmende oomblikke. 

Hart in Bos se regie is deur Lika Berning. Nadia Valvekens (Alles Malan), Anton Treurnich en Hannes Muller vertolk die hoofrolle.

4

Dié kortprent, in die trant van Gone Girl, is ’n riller wat draai om ’n disfunksionele huwelik en die nagevolge as ’n gewelddadige man ontdek sy vrou het oornag verdwyn. “Tot die dood ons skei” neem ander betekenis aan soos ons die drade van dié storie volg.

’n Man se Plek pak tydige maatskaplike kwessies rakende gendergebaseerdegeweld en mishandeling met ’n intense spanningsdraad aan. Dit is geskryf en geregisseer deur Lara Lourens met Luandri Lourens (Binnelanders) en Pietie Beyers (Wesens) in die hoofrolle. 

5

Nagval op Donkerdraai vertel die spookagtige verhaal van ’n jong vrou wat terugkeer huis toe na haar weduwee-pa op die platteland. Maar dan raak sy skielik siek en sy sien ’n donker bedekte silhoeët langs haar bed…

Dié kortfliek is pragtig geskiet met regie deur Andre Velts (Raaiselkind). Deon Lotz, Liza du Plessis en Zack Mtombeni vertolk die hoofrolle. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Maart 2025

Japie slaan sy kloue in Sunette in, maar dan kry sy nuus oor haar gesondheid wat haar hele wêreld omdolwe. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Maart 2025

Wat om te kyk: Die meesleurende Jaco Bouwer-drama, 'Niggies', Pretoria se Afrikaanse spin op 'The Mommy Club', Showmax se Afrikaanse tennisdrama, 'Breekpunt', en Seth Rogen se nuwe komediereeks – dié stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Oscars 2025: Wie het gewen én waar jy wenners kan kyk

Zoë Saldaña met ’n verstommende vertolking in die veelbesproke ‘Emilia Pérez’, Adrien Brody met sy indringende spel in ‘The Brutalist’, en Kieran Culkin in ’n loopbaanbeste rol waarvoor hy amper-amper nee gesê het – hier is vanjaar se Oscarwenners én waar jy dié bekroonde rolprente kan stroom. 

Meer

Jou telenovela-gids vir Maart 2025: Die einde breek aan in ‘My naam is Farah’

Tahir probeer steeds om vir Farah te beskerm soos dié verhaal ten einde loop. Hier is ons handige kykgids vir meer oor wat in die laaste sarsie episodes van ‘My naam is Farah’ op kykers wag.

Meer
Sien alle opsies