Die vyfde seisoen van Wie word ’n miljoenêr blyk tot dusver ’n tameletjie te wees vir die hoopvolle slimkoppe wie se algemene kennis deeglik op die proef gestel word. Die kennis is daar, maar niemand s’n was nog genoeg om naby die ontwykende R1 miljoen te kom nie…
Die ses deelnemers in dié episode:
- Liza Bolhmann (Pretoria)
- Andile Ntuli (Germiston)
- Kassel Rothmann (Kaapstad)
- Marguerite van Niekerk (Stellenbosch)
- Graeme Bradley (Pretoria)
- Hugo Loubser (Bellville)
Die eerste vinnigste vingers
Watter speler was die vinnigste op die baan met die korrekte orde van vroue-tennissterre wat – van die meeste na die minste – Grand Slam-enkelspeltitels verower het? Serena Williams het die meeste titels verower. Daarna Steffi Graf, gevolg deur Monica Seles met Ashleigh Barty wat die minste titels verower het.
Vier deelnemers was in die kol, maar dit was Marguerite van Niekerk wat almal binne 5.398 sekondes by die net geklop het.

Sy het die eerste vangnet sonder enige huiwering van haar kant gehaal en haar hulplyne was nog almal beskikbaar. Marguerite het haar volgende vangnet op vraag 9 vir R30 000 gestel.
Was sy in die kol met Jupiter as die koning van die gode in die Romeinse mitologie? Absoluut, en sy kon nie help om ’n enorme sug van verligting te slaak nie.
Vir haar volgende vraag oor wie die troumars in 1842 gekomponeer het, het sy egter besluit om die gehoor as ’n hulplyn in te roep. 64% van die gehoor dink dis Felix Mendelssohn en sy het hulle antwoord aanvaar. Só het sy op die R25 000-kerf beland.
Maar haar vangnet-vraag het haar ook onkant betrap toe sy onseker was oor die eerste woorde van die aanhef tot die Grondwet van Suid-Afrika en sy het die 50/50-hulplyn gekies. Sy kon steeds nie tussen “God sëen Suid-Afrika” en “Ons, die mense van Suid-Afrika” besluit nie. Wie word ’n miljoenêr-aanbieder Rian van Heerden was haar laaste hulplyn – en sy het hom ingespan.
“As dit nie daar staan nie, dan móét dit daar staan,” was Rian se reaksie en hy het “Ons, die mense van Suid-Afrika” gekies.
“Dit klink ook baie wettig,” het Marguerite gevoel en dit as haar finale antwoord aangedui. Dit was toe in die kol.
Haar raaiskoot dat die New York Statue of Liberty tot 1901 as ’n ligtoring gedien het, het haar tot op die R50 000-kerf gebring. En dit het nie daar opgehou nie. Sy het geraai dat Camilla Parker Bowles nooit die titel “Prinses van Wallis” ontvang het nie. Maar dit was toe al die tyd prinses Anne – en daarmee moes sy met R30 000 in die sak die spel groet.
Die tweede vinnigste vingers
Net een deelnemer het Suid-Afrika se vier Nobelpryswenners vir Vrede in chronologiese orde volgens hul geboortedatums korrek ingesleutel. Dit was eers Albert Luthuli, dan Nelson Mandela, Desmond Tutu en FW de Klerk – en Graeme Bradley was die speler wat die regte orde binne 4.410 sekondes ingesleutel het.

Graeme (41) is ’n staatsamptenaar en sy swaer, Ryno, was daar om hom te ondersteun. Hy het sy eerste vangnet gehaal sonder om enige hulplyne in te span en het sy volgende vangnet op vraag 10 vir R50 000 gestel.
Alhoewel die heuwel waarop die Uniegebou staan, agter Graeme se kantoorgebou is, was hy onseker oor wat die heuwel se naam is. Hy het sy eerste hulplyn ingestel en gevra om die 50/50-opsie te aktiveer. Dit het hom gehelp en die antwoord is Meintjieskop.
Hy het besluit om die gehoor in te span toe daar gevra word watter James Bond-fliek is op dieselfde dag as die Titanic in 1997 vrygestel. 63% van die gehoor het Golden Eye gekies, die fliek wat Graeme ook aanvanklik oorweeg het. Maar dit was verkeerd. Die regte titel is Tomorrow Never Dies – maar Graeme het darem R10 000 waarmee hy huiswaarts kon keer.
Die derde vinnigste vingers
Suid-Afrikaanse treinstasies moes van wes na oos rangskik word. Dit is natuurlik Kaapstad, Matjiesfontein, De Aar en dan Pretoria. Weer was daar net een deelnemer wat die korrekte orde ingesleutel het: Liza Bohlmann wat dit binne 5.665 sekondes reggekry het.
Liza (46), ’n skakelbeampte van Pretoria, se ma, Isabel, het saamgekom om haar vanuit die gehoor te ondersteun. Sy het die vrae tot by die eerste vangnet maklik kafgedraf en het daarna haar volgende vangnet op vraag 10 vir R50 000 gestel.
Maar die vraag oor waar Michelangelo se beroemde standbeeld van Dawid staan, het sy dadelik vir ’n hulplyn gevra – die gehoor moes help. 51% het gedink dis in Rome en Liza was nie gelukkig met die antwoord nie.

Swaer Petrie was die volgende hulplyn en hy het gesê die antwoord is Florence. Liza het gesê sy kan nog haar swaer uit die testament weglaat as hy verkeerd was, maar sy het tog gedink Florence is wel korrek. So het Liza opgeskuif na R20 000 met nog net een hulplyn oor.
Sy het haar laaste hulplyn – met apologie aan Rian – gestel op die 50/50-opsie oor die hedendaagse naam van Batavia, die plek waar Jan van Riebeeck oorlede is. Dit is natuurlik Djakarta en Rian was ewe onthuts dat sy hom nie gevra het nie. Hy het immers die antwoord geken . . .
Watter wêreldbekende persoon het nie in ’n oop kis in staatsie gelê nie? Lize was onseker of dit Madiba was of nie. Sy het besluit om liefs die geld te vat en te waai. R30 000 is nie te versmaai nie! Die regte antwoord was prinses Diana.
Wie word ’n miljoenêr S5 saai weekliks op Woensdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Episodes is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar. Wie word ’n miljoenêr S2-S4 van die reeks is op Showmax beskikbaar.