Wat om hierdie week op TV te kyk en aanlyn te stroom – hier is ons top-keuses vir die week 22 tot 28 Mei 2023.
Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.
Platonic S1
Vanaf Woensdag, 24 Mei 2023, op Apple TV+.
In Platonic span Seth Rogen en Rose Byrne kragte saam om ’n ligte, maar deernisvolle blik op ’n platoniese vriendskap tussen ’n man en ’n vrou te gee.
Dit vertel oor ’n platoniese paartjie se reconnection nadat die voormalige universiteitsvriende vir jare nie gepraat het nie. Die vriendskap vat weer vlam, met skreeusnaakse scenarios – wat soms net heeltemal te relatable is – wat volg.
Platonic gaan nie soveel oor of vroue en mans vriende (sonder voordele) kan wees nie – eerder hoekom súlke vriendskappe bestaan.
Emily Bernard van Collider meen Platonic is een van die sterkste nuwe TV-reekse vanjaar en skryf dit toe aan die noue voeling tussen Rogen en Byrne.
Hollywood Reporter se Angie Han loof ook die egte band tussen die akteurs. “Byrne en Rogen, wat nagenoeg ’n dekade gelede ’n getroude paartjie in Neighbors gespeel het, is moontlik selfs beter as pêlle, danksy hul spelerige, gemaklike chemistry.”
The Gryphon S1
Vanaf Vrydag, 26 Mei 2023, op Amazon Prime Video.
Drie misfits, Mark, Memo en Becky, ontdek ’n fantasiewêreld genaamd The Black Tower. Hiér heers die sogenaamde Gryphon, ’n monster wat wêrelde verslind en alle lewende wesens genadeloos onderdruk.
Dan vind hulle uit dat Mark die enigste hoop teen die Gryphon is. Maar hy is geen held nie – en hy wil ook nie een wees nie. Hy het genoeg probleme van sy eie om hom besig te hou. Tyd vir monsters veg, is daar nie. Dis totdat sy broer, Thomas, verdwyn…
Mark en sy vrinne moet dan noodgedwonge The Black Tower betree – en die Gryphon die stryd aansê – om Thomas te red.
Recipes for Love & Murder S1
Vanaf Donderdag, 25 Mei 2023, op Showmax.
Recipes for Love and Murder is gegrond op die gelyknamige boek deur Sally Andrew, met die Ierse aktrise Maria Doyle-Kennedy wat die storie se hoofkarakter, Tannie Maria, vertolk. Die boek is deur die Suid-Afrikaanse skrywer Karen Jeynes in ’n TV-draaiboek verwerk.
Tannie Maria is ’n Skotse vrou wat ʼn plaashuis in die Karoo geërf het en die dorpskoerant se kosskrywer- en biegtannie is. As een van Tannie Maria se korrespondente dood aangetref word, is sy vasbeslote om die skuldige vas te trek. Sy span kragte saam met ’n rookie-joernalis, Jessie September (Kylie Fisher), om dié moord op te los.
Doyle-Kennedy is bekend vir haar spel in onder meer Outlander en The Tudors. Fisher is ook in Fraksie en Troukoors te sien.
Die reeks het intussen ook ’n internasionale gehoor gelok met die New York Times wat skryf dat die reeks “dieselfde mengsel van menslike drama, pragtige landskap, plaaslike kleur en watertandlekker kos [as die boek] bied”.
Good Luck to you, Leo Grande
Vanaf Donderdag, 25 Mei 2023, op Showmax.
Die tweemalige Oscar-wenner Emma Thompson vertolk die hoofrol in dié Golden Globe-benoemde prent.
Die storie draai om ’n afgetrede onderwyser en weduwee wat smag na avontuur en dan ’n jong sekswerker, ene Leo Grande, se dienste bekom.
Dié komedie het ’n punt van 93% op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes en is ook vir vier BAFTA-toekennings benoem.
Triangle of Sadness
Vanaf Maandag, 22 Mei 2023, op Showmax.
Die fliek se bolangse premis is doodeenvoudig. ’n Bekende modelpaartjie (hier neem ons eerder influencer celebrity as “tradisionele” roem waar) vertrek saam met ’n garde ryker-as-ryk-mense op ’n luukse seiljagvaart. Die kaptein is heeltemal kêns, maar van die gaste is nie ver agter nie.
Die vertelling is sowel ’n string van dubbelsinnighede en metafore, as ’n amperse stream of consciousness-blik op die letterlike gebeure wat voor jou afspeel. Die eintlike storie is immers glad nie so eenvoudig soos wat dit met eerste oogopslag voorkom nie. Daarvoor is dit te absurd (op ’n wonderlike wyse).
Die Suid-Afrikaanse aktrise en model Charlbi Dean – wat kort voor die fliek se uitreiking oorlede is – lewer ’n fynbesnaarde vertolking in een van die hoofrolle. Ook in die rolverdeling tel Harris Dickinson, asook Woody Harrelson as die sotlike kaptein.
Triangle of Sadness het al meer as 20 pryse gewen en het ook vanjaar by die Oscars meegeding in die kategorieë vir beste prent, beste regisseur en beste oorspronklike draaiboek.
Rosie Molloy Gives Up Everything S1
Vanaf Maandag, 22 Mei 2023, op Showmax. Die episodes word in sarsies van drie weekliks beskikbaar gestel.
Rosie Molloy (Sheridan Smith) is ’n verslaafde – bedoelende dan dat sy aan álles verslaaf is. Sigarette? Jip. Alkohol? Ja, dit ook. Adderall? Xanax? Koffie? Ja, ja en ja. En die lys gaan aan.
Ná ’n vernederende voorval by haar broer, Joey, se troue, probeer sy egter om haar lewe op ’n nuwe, gesonder, koers te kry. Dit beteken natuurlik dat sy al haar vices moet opgee. Alles. Elke liewe een.
The Guardian, wat die reeks vier uit vyf sterre gee, beskryf Rosie Molloy Gives Up Everything as “skreeusnaaks” terwyl The Independent skryf dat om die sitkom te kyk soortgelyk is aan ’n lekker aand uit wat ’n bietjie buite beheer raak.
The Calling S1
Vanaf Vrydag, 26 Mei 2023, op Showmax.
Die reeks is deur die Emmy-wenner en veteraan-storieverteller David E. Kelley (Big Little Lies, Love & Death, L.A. Law) geskep. The Calling vertel oor ’n NYPD-speurder, Avraham Avraham (Jeff Wilbusch van Oslo en Unorthodox), wat deur sy geloofsbeginsels in sy soeke na die waarheid gelei word. As ’n roetine-saak egter skeefloop, begin Avraham sy eie menslikheid bevraagteken.
Die reeks is gegrond op The Missing File, die eerste roman in die bekroonde skrywer Dror Mishani se reeks Avraham Avraham-boeke.
Ook in die rolverdeling tel onder andere Juliana Canfield (Succession se Jess Jordan), Karen Robinson (Ronnie Lee van Schitt’s Creek), Michael Mosley (The Girl from Plainville), Tony Curran (Frankie in Your Honor) en Noel Fisher (Shameless).
Ook nuut op TV vandeesweek:
- Gaslit S1
Vanaf Maandag, 22 Mei 2023, op Showmax.
- Three Pines S1
Vanaf Maandag, 22 Mei 2023, op Showmax.
- Where the Crawdads Sing
Sondag, 28 Mei 2023, omstreeks 20:05 op M-Net (DStv-kanaal 101). Ook op die DStv-aanlynplatform.
- Hope Street S2
Vanaf Donderdag, 25 Mei 2023, op BritBox.
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →