Menu terloops
In Redakteurskeuse [4 Aug 2025]

Wat om te kyk: Moenie dié 8 stories in Augustus misloop


Die briljante mediese drama ‘The Pitt’, onheilspellende raaisels in die tweede seisoen van ‘Wednesday’, die nuwe seisoen van ‘Boer soek ’n Vrou’ en die volgende uittog van die ‘Spoorloos’-franchise tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Deur Rozanne Els
Wat om te kyk: Moenie dié 8 stories in Augustus misloop

Hier is ons voorstelle vir wat om te kyk vandeesmaand.

Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.

1

The Pitt S1 

Maandae vanaf 11 Augustus om 21:00 op M-Net (DStv-kanaal 101) en Dinsdae op Showmax vanaf 12 Augustus. 

As jy destyds ER gekyk het, dan het jy vir die akteur Noah Wyle as die ambisieuse jong dokter John Carter leer ken. Sedertdien het Wyle ook sukses in reekse soos Falling Skies en The Librarians behaal, maar niemand was meer opgewonde as ek toe hy as die hoofrol in die aangrypende nuwe mediese drama The Pitt aangekondig is nie. Die aanslag is iets – uiteindelik – anders wat mediese dramas betref. Trouens, soos David Sims van The Atlantic skryf: “Dit is reeds sonder twyfel die beste voorbeeld van die genre in meer as ’n generasie.”

The Pitt, Wat om te kyk, Noah Wyle
Noah Wyle as Robby in The Pitt. Foto: Warrick Page/MAX

Elke episode vertel oor een enkele uur van ’n uitmergelende, spannende en ontrusbarend realistiese skof by die Pittsburgh Trauma-hospitaal, óftewel “The Pitt”. Wyle is briljant as dr. Michael “Robby” Robinavitch – sy spel oor die 15 uur van die reeks is omvattend en meeslepend in hoe dit menslikheid – al die morsigheid daarvan inkluis – weerspieël. Die storielyne is elk ’n wipwarit en deurdrenk met die tipe intensiteit wat net kan kom van ’n draaiboek wat nie die realiteit van die wêreld om dit misken nie. 

The Pitt is vir 13 Emmys benoem, waaronder as beste dramareeks, beste regisseur, beste draaiboek en beste akteur (vir Wyle). Die tweede seisoen is ook reeds in produksie. 

2

Wednesday S2 

Dié seisoen word in twee dele vrygestel. Deel 1 bestaan uit die eerste vier episodes en is vanaf 6 Augustus op Netflix beskikbaar. Die tweede deel, ook bestaande uit vier episodes, is vanaf 3 September op Netflix beskikbaar. 

Ná drie jaar se (on)geduldige gewag, is Jenna Ortega se Wednesday Addams terug op die kassie in Wednesday, Netflix se heerlike eerbetoon aan The Addams Family van ouds. 

Wednesday speel af tydens die gelyknamige karakter se tyd aan Nevermore Academy. In die eerste seisoen het dié weirdly wonderful en witchy karakter probeer om tussendeur klasse en (relatiewe) normale tienerdrama, ’n rits moorde te stuit én ’n bonatuurlike raaisel op te los waarin haar ouers al vir 25 jaar gewikkel is.

In die tweede seisoen is daar egter nuwe probleme – en vyande – wat in die donker gange van die akademie wag. Terwyl sy steeds haar ontluikende psigiese vermoëns probeer bemeester, word sy in die middel van nog ’n ysingswekkende onaardse enigma gedompel.

Catherine Zeta-Jones en Luis Guzmán is weer te sien as Wednesday se ouers, Morticia en Gomez Addams, met Isaac Ordonez as haar broer, Pugsley. Een van die nuwelinge in die rolverdeling na wie ek baie uitsien, is Absolutely Fabulous se Joanna Lumley as Hester Frump, óftewel Grandmama.

3

Spoorloos: Losprys 

Vanaf Dinsdag, 26 Augustus 2025 om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144).

Spoorloos se vyfde seisoen, Spoorloos: Losprys, is soos die vorige aflewerings van dié reeks ’n losstaande spanningsverhaal. Dié uittog handel oor ’n ryk wildboer, Brand (Louis Minnaar), wie se tiener-kleindogter, Karla (Lienke Vermeulen), ontvoer word tydens haar pa, Willem (Neels Clasen), se moordverhoor. Sy is ’n sleutelgetuie in die saak. Haar ma, Lynette (Angelique Pretorius), word genoodsaak om haar eks-minnaar, Frank (Laudo Liebenberg), om hulp te vra, synde hy die enigste ervare speurder in die distrik is. Maar sodra die saak opgelos word, verdwyn nog iemand spoorloos – en hierdie keer word geen losprys geëis of leidrade verskaf nie… 

Ook in die rolverdeling is Diepe Waters se Liam Bosman, Nahum Hughes van Die nuusmakers, Troukoors en 7de Laan se Blyde Smit en Reënboogrant– en Egoli-akteur Deon Coetzee. 

4

Jou MASE taal

Vanaf Sondag, 21 September om 20:00 op kykNET en DStv Stream.

Jou MASE taal fokus op bruin en swart Afrikaanssprekendes se komplekse verhouding met die taal. Dié dokumentêre reeks wat deur IdeaCandy vervaardig is en met Stephanie Pekeur in die regisseurstoel, ontrafel hoe die sprekers met die taal omgaan, hoe dit hulle laat voel, en in watter mate hulle die taal omarm of verwerp. Ons hoor van mense soos DJ Ready D, Christo Davids, Rozanne McKenzie, Quintin “Jitsvinger” Goliath, Virginia Keppler-Young, Janine “Blaq-Pearl” Overmeyer, en Chrislynn Sias.

5

Boer soek ’n Vrou S17

Die 17de seisoen van Boer soek ’n vrou begin op Donderdag 7 Augustus om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). S14-S16 is op Showmax beskikbaar. 

Een van Suid-Afrika se gewildste realiteitsreekse, die maatsoekprogram Boer soek ’n Vrou, trek nou reeds by die 17de seisoen. Die nuwe seisoen het nie net ’n nuwe oes deelnemers nie, maar ook ’n nuwe aanbieder – Reandi Grey. Kykers het haar as Anja in Diepe Waters leer ken. 

Vanjaar se deelnemers se ouderdomme wissel tussen 26 en 56. Die boere verteenwoordig ses provinsies, met die Vrystaat wat die voortou met drie hubare boere neem. Soos voorheen sal Boer soek ’n vrou grootliks fokus op die vyf boere wat die meeste inskrywings ontvang het. 

“Al die boere wat ingeskryf het, is ook mense wat ek self naby aan my gaan wil hou vir die res van my lewe. Hulle is besonderse sout-van-die-aarde-mense wat liefde verdien… Ek voel geëerd om deel daarvan te kon wees,” het Reandi vertel.

Ontmoet al die boere hier

En lees ook hierdie handige kykgids om tred te hou met wat in elke episode op jou wag. 

6

The Thursday Murder Club

Vanaf 28 Augustus op Netflix. 

Dié fliek is gegrond op Richard Osman se gelyknamige topverkoperboek en spog met ’n helse lekker rolverdeling om Osman se karakters lewe te gee. 

The Thursday Murder Club, Wat om te kyk
The Thursday Murder Club met Helen Mirren, Sir Ben Kingsley, Pierce Brosnan, en Celia Imrie. Foto: Giles Keyte/Netflix

The Thursday Murder Club draai om Elizabeth (Helen Mirren), Ron (Pierce Brosnan), Ibrahim (Ben Kingsley) en Joyce (Celia Imrie) – ’n groep afgetrede vrinne wat hul vrye tyd inspan om onopgelosde moorde te ondersoek. Maar wanneer ’n moord dan op hul voorstoep plaasvind, het hulle ’n ware whodunnit op hande. 

7

Anora 

Vanaf 22 Augustus op Showmax. 

Die regisseur Sean Baker se Anora het vanjaar vyf Oscars gewen, waaronder vir beste regie, beste rolprent en vir beste aktrise (Mikey Madison). Baker is ’n indie-filmmaker van formaat wat voor Anora met veral The Florida Project en Tangerine beïndruk het soos hy oor die jare bekend geword het as ’n filmmaker wat op randfigure in die samelewing fokus. En o, die heerlike stories wat hy hier ontgin! 

In Anora, wat ook die Palme d’Or by Cannes gewen het, is die fokus op ’n jong eksotiese danser van Brooklyn wat ’n skat-skatryk Rus ontmoet en blitsig trou. Dié Aspoestertjie-oomblik is egter van korte duur as sy oligarg-ouers van dié huwelik te hore kom. 

Baker is wyd geloof vir sy regie en sy werk op die draaiboek, met Madison wat weer lof ingeboesem het vir haar spel. Die Chicago Reader se resensie lui: “Sean Baker tref weer kolskoot. Anora kry dit reg om beide die jaar se snaakste en harverskeurendste fliek te wees.” 

8

Lee 

Vanaf 11 Augustus op Showmax. 

In Lee word die ware verhaal van Elizabeth “Lee” Miller vertel met die Oscar-wenner Kate Winslet in die rol van dié voormalige model wat ’n oorlogkorrespondent vir Vogue tydens die Tweede Wêreldoorlog geword het. 

Kate Winslet in Lee, WAT OM TE KYK
Kate Winslet in Lee. Foto: Verskaf

Die fliek is ook die regie-debuut van die Oscar-benoemde kinematograaf Ellen Kuras (Eternal Sunshine of the Spotless Mind). Ook in die rolverdeling is Marion Cotillard, Andrea Riseborough, Alexander Skarsgård, en ja, Andy Samberg van Brooklyn Nine-Nine in sy heel eerste dramarol. 

Kry Netflix met DStv

DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 8 stories in November misloop

Die finale seisoen van die TV-fenomeen 'Stranger Things'; ’n nuwe 'Kokkedoor'; liefdesintrige in 'Maxton Hall' se tweede seisoen; en Guillermo del Toro se 'Frankenstein' tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Dikker as water’-kykgids vir November 2025

Doğa maak ’n groot besluit oor haar studies terwyl ’n misverstand tussen Pembe en Abdullah ontstaan. Hier is ’n voorsmakie van wat vandeesmaand op 'Dikker as water'-kykers wag.

Meer

Jou ‘Diepe Waters’-gids vir November 2025

Karla en Arno se verhouding word op die proef gestel en Danie se gevaarlike obsessie dryf hom tot uiterstes... Hier is waarna ‘Diepe Waters’-kykers vandeesmaand kan uitsien.

Meer

Jou ‘Suidooster’-gids vir November 2025

Wade ruk heeltemal handuit en Angie en Zoë wil mekaar weer aan die hare beetkry... Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in November kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies