Menu terloops
In Wat om te kyk [2 Jul 2025]

Wat om te kyk: Moenie dié 11 stories in Julie misloop


’n Nuwe ‘Matlock’, Magda Louw op haar stukke, aksie-satisfaksie in ‘The Old Guard 2’, en die slotseisoen van die meesleurende reeks ‘The Sandman’ tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Deur Rozanne Els
Wat om te kyk: Moenie dié 11 stories in Julie misloop

Hier is ons voorstelle vir wat om te kyk vandeesmaand.

Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.

Matlock S1 

Vanaf 23 Julie op Showmax.

Dié reboot is een van die min reekse wat met volpunte op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes kan spog. Dís grootliks te danke aan die meesleurende toneelspel van die Oscarwenner Kathy Bates wat as Madeline “Matty” Matlock kykers laat oortyd werk om kop te hou met al die kinkels wat die skrywers in elke episode vleg. En daai kinkels begin sommer reeds by die premis: Bates se Matty is glo ’n afgetrede prokureur in haar 70’s wat “noodgedwonge” weer moet begin werk en dan by ’n gesogte firma aansluit. Dís egter net die oortjies van die seekoei. Eintlik is sy Madeline Kingston, ’n ma wat geregtigheid soek ná die dood van haar dogter. Matty glo dié firma het ’n rol in haar dogter se dood gespeel, maar om bewyse te kry, moet sy eers haar kollegas help om hul sake te wen en so ook hul vertroue inwin. 

Dié is ’n ongelooflike lekker reeks (dis ook reeds vir ’n tweede seisoen hernu) met Collider wat vroeg reeds voorspel het dat kykers “nie hul oë van Kathy Bates” sal kan hou nie. En hulle was reg. 

Magda Louw S3

Die derde seisoen van Magda Louw word vanaf Maandag 14 Julie om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Kyk ook die eerste twee seisoene van Magda Louw op Showmax.

In Magda Louw se derde seisoen bevind Magda (Desiré Gardner) haarself weer in situasies wat sy nooit sou kon voorsien nie. Daar is ’n paar skokonthullings uit die verlede, ’n klomp ou gesigte en ook een of twee nuwe gesigte wat op kykers wag. 

Desiré het in ’n onderhoud vertel sy glo dat kykers aanklank vind by dié reeks omdat hulle ’n stukkie van hulself in van die karakters herken. Sy skryf dít ook toe aan ’n tikkie nostalgie en dat kykers vir ’n wyle van alles kan ontvlug en saam kan lag. “Die regte lewe kan soms so oorweldigend raak. Ek hoop dat kykers sal lag en terselfdertyd ook ’n bietjie oor dinge sal nadink.”

Ook in die reeks hoofrolverdeling tel Hannes van Wyk as Magda se man, Erhard, Gershwin Mias as Shaun, Bennie Fourie as Baltus, Cindy Swanepoel as Getrude en André Weideman as dr. Havenga. 

Lottoland help ’n dorp S4

Vanaf Dinsdag, 8 Julie om 21:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees. 

Die nuutste seisoen van dié hartverwarmende realiteitsreeks verloop effe anders as vorige jare. Dié keer is daar ses dorpe, oor die land versprei, wat hulp van die Lottoland-span ontvang. Elke dorp se span staan dan voor ’n uitdaging: om hul dorp binne ’n paar weke met die hulp wat hulle ontvang het op die een of ander manier te verbeter. Daar wag natuurlik baie uitdagings, drama, en harde werk, en die hartroerende stories wat die reeks deurspek, gee ’n mens ’n knop in keel wat nie sommer wil weg nie. Leah is weer die aanbieder en ons reis saam soos sy hierdie keer besoek aan Coligny, Darlie, Winnie Mandela-dorp, Van Wyksdorp, Smithfield en Rhodes aflê. 

Nog ’n verandering dié seisoen is dat daar dié keer twee episodes aan elke dorp se storie gewy word, met die finale episode van die reeks wat al die merkwaardige stories en transformasies saamvat. 

Wie word ’n miljoenêr? S5

Vanaf Woensdag, 2 Julie om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees. 

Wie word ’n miljoenêr? keer terug met Rian van Heerden se uitknikkervrae. En die groot vraag natuurlik: Gaan iemand weer soos in die vorige seisoen met die volle R1 miljoen huiswaarts keer?

En ná afloop van dié seisoen sal daar 201 spelers wees wat weet hoe dit voel om in daai warm stoel voor Rian te sit.

In dié seisoen is daar ook weer ’n episode met bekendes, vanuit uiteenlopende velde, wat hul algemene kennis gaan inspan om fondse vir liefdadigheid te wen. Hulle is Karlien van Jaarsveld, Dean Smith, Jannie du Plessis, Pietie Beyers, Nicole Holm en Tracey-Lee Oliver.

The Old Guard 2 

Vanaf 2 Julie 2025 op Netflix. 

Die eerste fliek was ’n heerlike aksie-rondomtalie met Charlize Theron in die hoofrol. Sy keer dan ook terug in dié aflewering as die hoof-gatskopper Andy en lei weer haar span onsterflike vegters om die mensdom van ’n nuwe bedreiging te red. 

As jy die eerste fliek gekyk het, weet jy dat daar baie op die spel is vir Andy. Sy is nie meer onsterflik nie, Quynh (Veronica Ngô) soek wraak en sy probeer ook nog sin maak van Booker (Matthias Schoenaerts) se verraad. It’s a lot

Charlize het meeste van die stunts vir dié fliek ook self gedoen, so, ja, dis haar eie armspiere wat bult in dáái helikopter-toneel!

We Live in Time 

We live in Time, Showmax, wat om te kyk, redakteurskeuse
Andrew Garfield en Florence Pugh vertolk die hoofrolle in We Live in Time.

Vanaf 7 Julie op Showmax. 

Dié roerende drama is een van my topfilms van die afgelope paar jaar en gee ’n dapper, en amper wreed-eerlike blik op rou en hoe dit deur ons lewens vervleg word. Daarin vertolk Andrew Garfield en Florence Pugh die rolle van Tobias en Almut en hul storie word stukkie vir stukkie oor die verloop van etlike jare vertel soos hulle verlief raak, ’n gesin begin, saam ’n huis maak… en dan voor tragedie te staan kom. 

Dié akteurspaar se chemie is tasbaar en juis daarom vat dié verhaal dan ook so intens raak. 

Empire Magazine skryf dat dié fliek jou “tyd en trane” waardig is, terwyl Time Out dit as “eg en eerlik op ’n manier wat te min romantiese flieks regkry” beskryf.

Happy Gilmore 2 

Happy Gilmore 2, Wat om te kyk, REDAKTEURSKEUSE
Benito Antonio Martínez Ocasio, óftewel Bad Bunny, as Busboy en Adam Sandler as Happy Gilmore in Happy Gilmore 2. Foto: Scott Yamano/Netflix

Vanaf 25 Julie op Netflix.

Dis byna 30 jaar sedert Happy Gilmore, een van Adam Sandler se bekendste en gewildste flieks, vrygestel is. As jy dit nog nie gesien het nie… maak nou ’n plan. Dis voorgeskrewe huiswerk as jy van komedies hou! In dié vervolg moet Happy Gilmore, nou ’n afgetrede gholfspeler, weer begin speel om vir sy dogter se balletskool te kan betaal. 

Buiten Sandler, hervat Julie Bowen (Modern Family), Christopher McDonald (Hacks), en Ben Stiller (Zoolander) ook hul rolle.  

WWE: Unreal 

 wat om te kyk, redakteurskeuse
Foto: WWE/Courtesy of Netflix

Vanaf 29 Julie op Netflix.

Ja, ons weet al lankal daai rofstoei op die TV is als voorgee, maar dié is ook ’n baie winsgewende bedryf en dinge word haarfyn beplan. Haafyn. Ja, elke liewe bonkers “storielyn” wat in die kryt afspeel.  

In dié reeks word daar vir kykers ’n ongekende blik gegee op wat als agter die skerms aangaan. Oor die reeks se vyf episodes sien ons presies how the sausage is made. Van hoe die WWE-skrywers die storielyne uitwerk tot hoe dít dan uiteindelik binne én buite die kryt uitgevoer word.

The Sandman S2 

Vanaf 3 Julie op Netflix.

The Sandman is gegrond op die gelyknamige strokiesprent deur Neil Gaiman wat die onheilspellende wêreld van die bonatuurlike, alternatiewe realiteite en drome verken. Die storie volg Dream, oftewel die Heer van The Dreaming (wat ons droomland sou noem) en sy pogings om orde in The Dreaming te herstel ná hy uiteindelik van 70 jaar se gevangenesskap in die “waking world” ontsnap. In sy afwesigheid het absolute wanorde in The Dreaming ontstaan.

In die tweede seisoen moet Dream (Tom Sturridge) die een ná die ander onmoontlike besluit maak soos hy probeer om homself, sy koninkryk en die “waking world” te red van die gevolge van al sy vorige wandade. Maar die pad na vergifnis is vol onverwagte kinkels en draaie, en ware kwytskelding kan Dream uiteindelik alles kos.

Die tweede seisoen is egter ook die laaste een – hoewel die eerste aflewering lof ingeboesem het, hou die vervaardigers vol dat dit nog altyd die plan was om Dream se storie in net twee seisoene te vervat. Gaiman is egter ook intussen van seksuele wangedrag beskuldig, en agter die skerms word daar ook bespiegel dat die reeks geweldig duur was om te maak… dalk té duur.  

Marked 

Vanaf 31 Julie op Netflix.

Dié sesdelige dramareeks, nog ’n plaaslike reeks wat deur Netflix gegroenlig is, sien vir Lerato Mvelase in die hoofrol as ’n ma wat enigiets vir haar kind sal doen. Mvelase se karakter is ’n sekuriteitswag wat ’n rits desperate besluite maak om te aanhou sorg vir haar en haar siek dogter. Sy word egter verraai… en dis dan wat die handskoene heeltemal afkom. 

Ballard 

Vanaf 9 Julie 2025 op Prime Video. 

Die skrywer Michael Connelly se topverkoperboeke bied weer die heerlikste grondslag vir ’n TV-verwerking. Daar was Bosch en toe The Lincoln Lawyer en nou is dit sy Renée Ballard-karakter wat in Ballard op die skerm lewe kry. 

Renée Ballard is ’n speurder wat aan die hoof van die Los Angeles-polisie se cold case-afdeling staan – daai sake wat niemand al opgelos het nie en wat al stof vergaar. Maar haar ondersoeke oor verskeie sake wat oor dekades heen strek – insluitend ’n reeksmoordenaar se string misdade – lei egter tot ’n skokkende ontdekking: ’n moontlike sameswering binne die polisiediens. 

Ons sien ook die terugkeer an die afgetrede speurder Harry Bosch (Titus Welliver) as Ballard hom inspan om haar met die ondersoek te help soos sy ook haar eie uitdagings en persoonlike trauma moet trotseer. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir Augustus 2026

Mike maak (weer) droog, Kaashifa vind iets skokkend uit en die Samsodiens sien rooi... Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in Augustus kan uitsien.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer
Sien alle opsies