Showmax het onlangs die lokprent vir die dokumentêre reeks, The Illuminated, wat op 6 Maart 2024 op dié platform begin, uitgereik.
Die reeks kyk na Suid-Afrikaanse godsdiensbewegings wat buite die hoofstroom val. Dit sluit onderhoude met kundiges, leiers, oud-lede, nuwe voorstanders, asook teenstanders van dié groepe in.
Die eerste episode handel oor Israel-visie. Soos Japie van Zyl, óftewel Boerseun van Migdol op sosiale media, in The Illuminated sê: “Daar is baie verskillende denominasies. Maar die een ding wat ons in gemeen het, is dat ons almal glo ons is die direkte afstammelinge van Abraham, Isak en Jakob, die werklike afstammelinge van die 12 stamme van Israel.”
Daaropvolgende episodes fokus op The Church of Scientology; die Christ in Me International Collective; netwerkbemarkingsondernemings en korporatiewe transformasie-afrigtinginisiatiewe wat sekere ooreenkomste met godsdiensgroepe het; KwaSizabantu; nuwe evangeliese kerke; Mancoba Seven Angels Ministries; en The Fellowship in Hermanus.
Daar is ’n gesegde wat sê dat jy nie in beleefde geselskap oor godsdiens of politiek moet praat nie.
Wynand Louw, regisseur
Die laaste episode slaan dalk die hardste. Daarin word gekyk na hoe ekstreme godsdienstige oortuigings mense kan dryf om afgryslike dade te pleeg. Dít word gedoen deur die storie van Hardus en Nicolette Lotter as voorbeeld te gebruik. Die Lotters is skuldig bevind aan moord op hul ouers. Die hof het bevind dat Nicolette se kêrel, Matthew Naidoo, dié broer en suster gemanipuleer het om te glo dat hy die derde seun van God is en hulle aangemoedig het om hul ouers te vermoor.
‘Godsdiens iets wat byna alle Suid-Afrikaners in gemeen het’
Vryheid van godsdiens is verskans in die Grondwet van Suid-Afrika. In die 2022-sensus het slegs 2,9% van die bevolking aangemeld dat hulle geen godsdienstige affiliasie het nie. Terwyl meer as 80% van Suid-Afrikaners identifiseer as Christene, is daar ook baie ander gelowe wat beoefen word, elk met hul eie unieke perspektiewe. Selfs binne godsdienstige bewegings wat uit die Christendom ontstaan, is daar dikwels beduidende verskille, soos The Illuminated duidelik maak.
“Daar is ’n gesegde wat sê dat jy nie in beleefde geselskap oor godsdiens of politiek moet praat nie,” sê die reeksregisseur Wynand Louw. “Maar om rondom godsdiens groot te word, is iets wat byna alle Suid-Afrikaners in gemeen het.”
Elke episode mik na ’n insider-siening van leiers, lede en voormalige lede. Soos die Christ In Me Collective-stigter Xandré Strydom in die lokprent sê: “Dit is die eerste keer in 13 jaar dat die media ons die geleentheid gee om te praat.”
Elke episode praat ook met teoloë, wat die bewegings binne hul breër kontekste plaas.
The Illuminated word vervaardig deur POP24, die produksiemaatskappy agter ware-misdaadreekse soos Imibuzo en Huisgenoot Ware Lewensdramas.
The Illuminated begin op Woensdag, 6 Maart 2024, met weeklikse nuwe episodes.