Menu terloops
In Wat om te kyk [11 Aug 2022]

5 ‘Huisgenoot’-stories wat Suid-Afrikaners se verbeelding op hol gesit het


Kyk die eerste sewe seisoene van ‘Huisgenoot: Ware Lewensdramas’ op Showmax.

Deur Watkykjy

Kyk nou

5 ‘Huisgenoot’-stories wat Suid-Afrikaners se verbeelding op hol gesit het
Kyk lokprent

Suid-Afrikaners het ’n wisselvallige verhouding met misdaad omdat ons daagliks daarmee gekonfronteer word. Ons is geneig om tussen die groot en klein sondes te onderskei juis omdat ons land so vrot is van die groot sondes. Dít lei dan ook dikwels tot die ongelooflikste stories. Waar is daardie tien babas? Iemand, bel vir Huisgenoot! Afrikaners vrek mos vir ’n stukkie skinder, ’n happie skande, of sommer ’n hele skinkbord vol ware lewensdrama. 

Ja, ons is bobaas storievertellers, veral as dit by plaaslike mense-stories kom. Boonop spreek dit tydskrifdele dat Huisgenoot ná meer as 100 jaar voortleef waar ander gewilde publikasies gesneuwel het. Die Huisgenoot is soos ’n kakkerlak wat ná ’n geweldige atoombomontploffing uit die puin kruip, sy sonbril opsit en oor die verskroeide landskap tuur… En dan oor die ondervinding berig. 

Dit was net ’n kwessie van tyd voordat hulle hul wenresep sou gebruik om ’n ewe gewilde TV-reeks te vervaardig. Nou is daar reeds meer as 80 aangrypende ware lewensdramas wat vir die kassie verwerk is. 

Aan die meer grusame kant van die spektrum, sal jy vir seker die moordsake rondom byvoorbeeld Inge Lotz, Leigh Mathews, en Reeva Steenkamp onthou. En ongelukkig is daar elke dekade een of ander bose inkarnasie van ’n Gert Van Rooyen en Joey Haarhoff of ‘n Advokaat Barbie wat die nuus haal en ons aan ons siele ruk. Mense is ook geneig om te onthou waar hulle was of wat hulle gedoen het tydens groot gebeurtenisse soos die Oceanos-ramp, die Westdene-busramp, die Helderberg-vlugramp of die meer onlangse Knysna-brande. Gebeurtenisse wat bydra tot mense se outobiografiese geheue, vir botter of vir wors.

Hier is vyf van Huisgenoot se ware lewensdramas wat Suid-Afrika op hol gehad het:

1

Vanessa Goosen

In 1994 het die 21-jarige Mej. Suid-Afrika-finalis, Vanessa Goosen, se lewe in ’n oogwink verander. In plaas daarvan om ’n groot deurbraak vir haarself in die modewêreld te maak, is ’n swanger Goosen tronk toe gestuur nadat sy in Thailand in hegtenis geneem is nadat daar beslag gelê is op 1.7kg se heroiëne wat in boeke in haar bagasie versteek was. Boeke wat sy vir iemand sou karwei. Haar pleidooi van onskuld het op dowe ore geval en sy is ter dood veroordeel. Op appèl is haar vonnis verlig na lewenslange tronkstraf om in Bangkok se berugte Lard Yao-gevangenis uitgedien te word. Vanessa se storie maak steeds Suid-Afrikaners wat vakansies na Thailand beplan senuweeagtig. Ek was so ontsenu deur die affêre dat ek ek nie eens ’n tas gepak het vir my wittebrood in Phuket nie!

2

Piet Byleveld

Baasspeurder Piet Byleveld was enig in sy soort en het aan van Suid-Afrika se mees opspraakwekkende misdaaddossiere gewerk het. Hy was veral bekend vir sy speurwerk op die moordsake van Sheldean Human en Inge Lotz, asook die saak van Leigh Matthews se ontvoering en moord. Byleveld het in 2010, ná ’n loopbaan van 38 jaar, as ’n brigadier uit die Suid-Afrikaanse Polisiediens getree. Hy is onder meer deur die FBI, Scotland Yard en Interpol vir sy prestasies vereer. Daar is selfs ’n plaaslike misdaadreeks vervaardig, Die Byl (met Waldemar Schultz in die hoofrol), wat losweg op Byleveld se lewe en loopbaan gegrond is.

3

Chris Barnard 

Kom ons vat ’n treëtjie terug van al die moord en doodslag en kyk na ’n ikoniese man wie se werk steeds lewens red. Barnard was natuurlik die befaamde Suid-Afrikaanse hartchirurg wat die wêreld se heel eerste mens-tot-mens-hartoorplantingsoperasie uitgevoer het. Jy sal dalk met die kyk van hierdie episode ook leer dat oom Chris se eie hart nie noodwendig heeltyd by die huis was nie. Hy was maar bietjie van ’n rondloperkat met ’n dwalende oog. Al die aandag en internasionale roem het ’n tol op sy persoonlike lewe geëis. Hy sou so paar buite-egtelike verhoudings aanknoop, drie keer trou en ses kinders in die proses verwek. Sy tweede vrou was in daardie stadium net so oud soos sy seun (toe 19)!
Yikes, kry ek nou hartkloppings!

4

Krion-skema

Lank voor Fourways se crypto-boets jou vir ’n gat probeer vat het op Facebook, was daar die Krion ponzi-skema. Met ’n omset van meer as R1.5 miljard, was dit een van die grootstes in Suid-Afrika. Die meesterbrein agter die skema, Marietjie Prinsloo, is ná ’n hofstryd van meer as agt jaar lank, uiteindelik op 14 Oktober 2010 saam met haar trawante (meestal familielede) tjoekie toe gestuur. Duisende beleggers en pensioenarisse het als verloor. Dankie vir niks nie, Vanderbijlpark!   

5

Die Stander-bende

As ek die naam André Stander hoor of sien, dink ek onwillekeurig aan safaripakke, snorre en motorjaagtogte met polisiekarre en Ford Cortina’s deur die strate van die Johannesburgse sentrale sakekern in die 1970s. Wat hierdie storie so uniek en terselfde tyd belaglik maak, is dat  Stander beide ’n misdadiger én polisieman was. Stander was nie net bekend omdat hy een van die mees berugte bankrowers in Suid-Afrikaanse geskiedenis was nie. Hy het ook beroemdheid verwerf vir die absolute vermetelheid waarmee die rooftogte uitgevoer is. Weet jy watter groot klokke jy moet hê om Volkskas in jou lunch break te beroof in ongeloofwaardige vermommings en dan na die toneel terug te keer met jou notaboekie as die ondersoekbeampte? 

Daar is veel meer kleurvolle Suid-Afrikaanse karakters om te ondersoek met Huisgenoot: Ware lewensdramas.  

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om kortfilms en dokkies die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies