Menu terloops
In Gons [1 Sep 2025]

‘Taktiek’ en ‘Arendsvlei’ se Keeno-Lee Hector gaan sorg vir hope drama in ‘Skemergrond’


Die wêreld van Skemergrond raak nog meer kompleks met die bekendstelling van ’n nuwe karakter: Ivan “Ice” Matroos, vertolk deur die veelsydige akteur en omroeper Keeno-Lee Hector.

Kyk 'Skemergrond' op DStv Stream

‘Taktiek’ en ‘Arendsvlei’ se Keeno-Lee Hector gaan sorg vir hope drama in ‘Skemergrond’

Keeno-Lee Hector is bekend vir sy rolle in Arendsvlei, Sara se geheim, Taktiek, Spinners en die rolprent Barakat. Sy eerste verskyning as Ivan “Ice” Matroos in Skemergrond is in Woensdag, 3 September 2025, se episode.

Wie is Ice?

Ice is iemand uit Erica (Shimmy Isaacs) se verlede, ’n figuur wat ’n groot rol in haar jong lewe gespeel het en nou onverwags terugkeer. Hy is rof en onbeskof, maar tog ook ’n man met ’n sagte binnekant – veral as dit by Erica kom. “Hy’s soos ’n harde lekker met ’n sagte binnedeel,” verduidelik Keeno.

Ice, Keeno Lee Hector, Skemergrond
Keeno-Lee Hector vertel dit was ’n fees om die kontrasterende kante van sy Skemergrond-karakter, Ice, te vertolk. Foto’s: Verskaf

Om vir die rol voor te berei, het Keeno die draaiboek fyn bestudeer en die karakter op iemand uit sy eie lewe gegrond. “Sodra ek aan daardie persoon dink, weet ek hoe Ice beweeg, praat en reageer. Dit maak dit vir my maklik om hom geloofwaardig tot lewe te bring,” sê hy.

Vir Keeno was dit ’n fees om die kontrasterende kante van Ice te vertolk – die geharde man wat soms onnadenkend optree, maar tog ’n sjarmante sensitiwiteit toon. “Hy’s nie ’n slegte man nie. Hy maak net keuses sonder om aan die gevolge te dink. Ek verstaan hoekom hy verkeerd optree, en dit help my om hom vir sy foute te vergewe.”

Net ’n plesier

Op stel was daar dae wat dit gevoel het soos die “Ice en Erica show”, maar Keeno sê die hele span het hulle ondersteun – soveel so dat selfs die uitdagende tonele ’n plesier was. 

Ice, Keeno Lee Hector, Skemergrond
Vir Keeno was dit ’n hoogtepunt om met Shimmy Isaacs (as Erica) te werk.

Sy lang verhouding met Penguin Films het ook ’n groot, positiewe rol gespeel. Keeno se verbintenis met Penguin Films strek al oor twee dekades, met verskeie samewerkings oor die jare wat hom deel van die familie laat voel. “Ek en Roxanne Blaise, een van die regisseurs van Skemergrond, het al man en vrou gespeel in Penguin Films se Khululekha: Siyavota. So, ons kom gemaklik oor die weg.

“En om weer saam met Shimmy te werk was ’n hoogtepunt. Sy’s ongelooflik vrygewig, en ons vriendskap maak dit maklik om die emosies van ’n toneel saam te ontdek.”

‘ ’n Jeuk wat ek nie kan krap nie’

Vir Keeno was dit ’n maklike besluit om by Skemergrond aan te sluit. “As ek nie op stel is nie, voel dit soos ’n jeuk wat ek nie kan krap nie. Ek verlang daarna. Hierdie rol het my weer uitgedaag en verligting gebring ná projekte waar ek nie heeltemal tevrede was nie.”

Met Ice se terugkeer in Erica se lewe, kan kykers hulself regmaak vir emosionele oomblikke, onvoorspelbare draaie en die ontbloting van ’n kant van Erica wat lank onderdruk is. “Dit voel nog onwerklik om deel van Skemergrond te wees, maar ek is trots om by hierdie ongelooflike span aan te sluit,” sê Keeno.

Sy loopbaan strek oor verskeie mediums – van rolprente en televisie tot radio en musiek. In die afgelope jaar het hy in die Hallmark-rolprent Faith in the Flames en verskeie TV-advertensies verskyn. Hy sal ook binnekort in Take Out, ’n speelfilm vir die Tubi-stroomdiens, te sien wees. Keeno is ook daagliks op Smile 90.4FM aan die stuur van Lunch with Keeno-Lee.


Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

kykNET se nuwe mini-dramareeks is ’n verhaal van verlies, vergifnis en hoop

Twee mans se paaie kruis in ’n ondersteuningsgroep ná die verlies van geliefdes. kykNET se 'Elke donker wolk' verken hoe ’n onverwagse vriendskap ruimte skep vir vergifnis, genesing en hoop.

Meer

Rubriek: Gaan griffel in Ouma se resepteboek! ‘Kokkedoor: Klassiek’ is terug! 

Ná ’n voorskou van die eerste episode laat 'Kokkedoor: Klassiek' vir Marteni Burger verlang na haar ouma se resepte én sien sy uit na nog skeppies nostalgie - met ’n knippie kombuisdrama en verrassende kinkels daarby.

Meer

Van die veld tot die kelder – kuier dié November saam met VIA

Van wildplase en wynkelders tot huise met karakter: VIA se November-aanbod beloof vars ontdekkings. Kuier saam met Shari Kennedy, Leandie du Randt, Frank Rautenbach en JP Quickelberge, en leer ken die mense, stories en plekke wat Suid-Afrika so besonders maak.

Meer

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer
Sien alle opsies